"Sy is ’n manipulerende mens, ’n katjie van die baan en wil altyd soos haar suster (Mariaan) wees met al die geld en aansien. Sy streef vir ’n lewe bo verwagting en is baie snaaks!,” vertel die sangeres en aktrise (47) aan Huisgenoot oor haar karakter, Zelda, wat in 2016 haar buiging in die Laan gemaak het.

Hier is van Zelda se snaaksste en grootste oomblikke in die Laan sover.

Die keer toe sy 'Marcus' laat bloos het

Dit was in die toneel waar Zelda by André (Marcus Muller), haar susterskind se kêrel, aangelê het, vertel Amor. "Ek moes sy hemp herhaaldelik van sy lyf afruk. Ons het drie hemde op die stel gehad. Hy het so gebloos dat hy heeltyd sy woorde vergeet. En toe het hulle boonop vir my gesê om op die tafel te klim. Dit was een van die snaaksste oomblikke!" vertel sy. 

"Toe ons klaar is, het die kameramanne op hul boude gesit en lag."

Die vals boep

Die uitspattige haarkapper Zelda het kykers laat regop sit toe sy onlangs met ’n skynbare swanger magie by die Welmans ingewals het – en toe boonop 'n bottel brandewyn optel! 

Maar helaas was dit net ’n vals boep om vir twee "preggie" vroue by die salon waar sy werk te wys hoe om ’n bababoep met styl te dra.

Dit is egter Zelda se aangenome dogter, Mienkie (Marijike Bezuidenhout) wat swanger is – en dit boonop met Mariaan (Deirdre Wolhuter) se seun, Rikus (André Lötter), se kleinding! 

Zelda is behoorlik in haar noppies om saam met haar "sussa" Mariaan ouma te wees, vertel Amor. "Dit is vir haar amazing. Sy is nou in die geld. Sy probeer altyd aan ’n plan dink om by die hoë lewe uit te kom en dis nou vir haar ’n bargain”. 

Die keer toe sy haar suster se man probeer verlei

Zelda flankeer met Chris. Foto: YouTube/ 7de Laan
7de laan
Chris is onbewus van Zelda se slinkse plan. Foto: YouTube/ 7de Laan

Zelda het vroeër selfs Mariaan gemanipuleer om by haar man, Chris (David Rees), uit te kom. As deel van haar slinkse plan het sy Mariaan se buite-egtelike verhouding met Frank (Albert Maritz) uitgebuit en die lagspiere laat prikkel met die manier hoe sy Mariaan gebruik het om meer inligting oor haar man te verklap sodat Zelda hom kan verlei. Sy't tot uitgevis wat Chris se gunsteling-maaltyd om hom sag te maak en so sy hart te wen.

Dit blyk egter asof haar familie nooit lank vir dié sjarmante karakter kan kwaad bly nie. 

Eerste blaps op die stel

Volgens Amor, wat vir twee jaar lank af en toe as gaskunstenaar in die Laan kom gesig wys, was daar agter die skerms ook skreeusnaakse oomblikke.

Sy vertel hoe sy tydens haar eerste toneel in 2016 per ongeluk kookwater op die kameramanne gegooi het. 

"Ek moes whiskey in my koffie gooi, maar ek het nie geweet waar die ketel se knoppie is nie, óf dat die water warm is nie. Ek het na die tyd gaan om verskoning vra en gesê jammer julle, dis my eerste keer op die stel,” sê sy.

En wat hou Zelda se terugkeer na die Laan in? Al wat Amor sover kan verklap is dat daar 'n dramatiese toneel voorlê. Sy wil egter nie te veel weggee nie. "Hierdie toneel was vir my 'n uitdaging. Die twee susters sit vas en dan besef Zelda iets..." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!