Bradley vertolk die rol van die paramedikus Danny Jantjies in die hospitaaldramareeks Binnelanders.

Bradley as paramedikus Danny Jantjies in die sepie
Bradley as paramedikus Danny Jantjies in die sepie Binnelanders. Foto: kykNET/Binnelanders

Op die aanlyn sepie, Lockdown Heights, se Instagram-blad word dit as ’n “Instavela” (’n telenovela wat op Instagram gekyk kan word) beskryf, wat tydens die COVID-19-pandemie in Suid-Afrika afspeel. 

View this post on Instagram

Incase you missed anything... let’s recap!????

A post shared by Lockdown Heights TV (@lockdown_heights_sa) on

Lockdown Heights gaan oor ’n groep mense wat in ’n woonstelblok bly en hoe hul daaglikse lewe beïnvloed word deur die nuwe inperkingsregulasies. Hulle probeer aanpas by die new normal, en hul skandes, geheime en schemes gaan voort,” vertel Bradley, wat oorspronklik van Paarl in die Boland kom. 

Die idee vir die sepie is gebore toe die akteur Ayanda Makayi, wat al in reekse soos Roer jou voete en High Rollers te sien was, sy konsep met Bradley gedeel het. 

“Hy het dit met my gedeel en ek was dadelik geïnteresseer. Ons het toe akteurs gebel om te hoor of hulle belangstel en almal was baie excited oor die konsep,” sê Bradley. 

Benewens Bradley en Ayanda bestaan Lockdown Heights se skryfspan uit Kirsten Mohamed, wat die hoofskrywer is, en Letuka Dlamini. Kirsten het die kinderprogram Disney Cookabout aangebied terwyl Letuka al gesig gewys het in die telenovelles Hope en Gold Diggers

Die vier skrywers vertolk self ook rolle in Lockdown Heights saam met vele ander gesoute Suid-Afrikaanse akteurs.

Van die akteurs wat in die aanlyn sepie te sien is, is onder andere Clint Brink (Binnnelanders se dr. Steve Abrahams), Schelaine Bennett, wat as Rachel in die kykNET-reeks Knapsekêrels te sien was, asook Camilla Waldman, wat al rolle vertolk het in sepies soos Binnelanders en Generations.

Saam met hulle verskyn veterane soos Ilse Klink, Justin Strydom en Nimrod Nkosi.

Van die akteurs wat in Lockdown Heights verskyn (v
Van die akteurs wat in Lockdown Heights verskyn is (van links) Clint Brink, Justin Strydom, Nicole Bessick en Schelaine Bennett. Foto: Instagram
 

Die probleme wat die karakters in Lockdown Heights ervaar is gegrond op dinge waardeur mense in werklikheid tydens die inperking gaan, vertel Bradley. 

“Clint se karakter (Damian) het 'n alkoholprobleem terwyl sy suster, Tamara (Schelaine), ongenooid opdaag en besluit om te bly gedurende lockdown. My karakter, Ricardo, en die ma van sy kind, Samantha (Valerie Robson), sukkel met dwelms en om hul seun groot te maak terwyl hulle nie meer saam is nie.

"Ayanda Makayi speel Nkosi, wat ’n politikus wil wees, terwyl Britney (Nicole Bessick) hom dreig om ’n sextape bekend te maak. Tiny (Kirsten Mohamed) en Okwesi (Letuka Dlamini) probeer steeds hul dwelmonderneming bestuur en om die reëls te buig om geld te maak.”

Om ’n projek soos Lockdown Heights te vervaardig is glad nie ’n maklike taak nie aangesien die akteurs nie almal saam op een plek kan wees nie. 

“Die akteurs verfilm hulself by hul huis en kommunikeer met ander akteurs wat saam met hulle in ’n toneel is. Soms is die akteurs in verskillende stede en probeer hul skote en beligting match sodat dit lyk asof hulle in dieselfde vertrek is. Hulle stuur dan die tonele aan my en Ayanda en ons sit alles bymekaar. Dit neem ons ongeveer ’n dag om een episode te vervaardig,” verduidelik Bradley. 

Daar is tot dusver 41 episodes van Lockdown Heights oor drie “seisoene” versprei. ’n Nuwe “seisoen” het begin elke keer nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n nuwe aankondiging oor regulasies gemaak het.

Al het sepies soos Binnelanders nou weer met produksies begin, hoop Bradley dat dit nie die einde van Lockdown Heights sal wees nie. 

“Ons wil graag voortgaan met Lockdown Heights ten spyte daarvan dat die meeste van ons na ons verskeie werke toe gaan terugkeer of omdat sekere bans gelig is. Ons het besef ons formaat is nuut en dat mense daarin belangstel," vertel hy.

“Ons werk tans daaraan om maatskappye betrokke te kry wat ons finansieel kan help om dit soos ’n egte produksie te bestuur en sodat ons akteurs kan begin betaal.

It's a brave new world en ons wil graag ons revolusionêre idee vorentoe vat, veral noudat ons BBC en ander internasionale aandag kry,” sê hy. 

Episodes van Lockdown Heights kan op hul Instagram-kanaal, @lockdown_heights_sa, gekyk word. 

Ekstra bron: TVSA