Dink ’n mens aan ’n boer, sien jy dalk in jou geestesoog iemand in ’n kakiehemp, ’n kortbroek en vellies op die plaas swoeg. Maar wanneer jy vroeg op ’n koel Kaapse oggend ’n draai op Langebaan se strand maak, lyk die boere wat voor die kamera paradeer allermins na daardie prentjie.

Van kakieklere of plaasskoene is hier geen teken nie; inteendeel, hulle is swierig en stylvol uitgevat.

Die viertal in hul elegante aanddrag het die topvyf gehaal van die 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou – saam met die eerste vroueboer wat in die geskiedenis van dié gewilde kykNET-reeks as deel van die topvyf voor die TV-kameras ’n maat soek.

Foto: Corrie Hansen.

Hulle het ingestem om spesiaal vir Huisgenoot uit hul gemaksone te klim en te wys ’n boer kan ook optof – veral as hy (of sy!) dan nou op die kassie en in die kollig moet verskyn. En hier verskyn die boere nou gebaadjie en gedas, met blink swart skoene en kraakwit hemde, vir ’n eiesoortige fotosessie by die Blue Bay Lodge.

Die boere lag te lekker, want al kan jy elkeen van hulle deur ’n ring trek, verskil dié uitrustings hemelsbreed van die klere waarin hulle gewoonlik woel en werskaf en waarin hulle gemaklik voel.

Die fotograaf verseker hulle dat hulle aantreklik lyk, maar die manne is ’n bietjie skepties. Droogweg laat boer André hoor: “Dit lyk of ons vir The Bachelor ingeskryf het.” Die ander bars uit van die lag en die ys is gebreek.

Boer Toanette. Foto: Corrie Hansen.

Toe boer Toanette, die enigste roos tussen die dorings, by hulle aansluit, kom die ware heer in elk van die vier mans te voorskyn. Die reeks se topvyf begin ná ’n ruk soos gesoute modelle lyk, maar dan raak Rèan verveeld en haal sy foon uit. En Cassie verklaar: “My wange is nou seer gelag.”

Terwyl hulle ’n blaaskans neem, kry Huisgenoot die geleentheid om die topvyfboere in vanjaar se reeks ’n bietjie beter te leer ken.

Boer Rèan (26)

Pekanneutboer: Groblershoop, Noord-Kaap

Boer Rèan. Foto: Corrie Hansen.

Dit het hom min geskeel of hy een van die topvyfboere sou wees, sê Rèan. “Ek was net geïnteresseerd in my briewe. Ek het nie vir die show ingeskryf nie; ek het ingeskryf om ’n girl te kry.”

Toe hy hoor hy het wel die topvyf gehaal, het hy besef: “Dinge gaan nou ernstig raak.”

Rèan sê die meisie wat hy kies, sal aanpasbaar moet wees. “Ons woon in ’n harde wêreld: droog, maar bitter mooi wanneer dit gereën het. Dis ’n ander soort mooi; daarom is ek nie bekommerd dat sy nie ook daarvoor sal lief word nie.

“Hulle sê as jy eers van die Oranjerivier se water gedrink het, wil jy nie sommer weer ander water drink nie.”

Sy ideale vrou moet tevrede met haarself wees en nie te gekompliseerd nie. “Sy moet die lewe kan geniet, ’n sin vir humor hê en kan lag.” Rèan se geliefkoosde tydverdrywe is om gholf te speel, saam met vriende te kuier en te jag. “Ek skiet eintlik nie so goed nie, maar geniet altyd die uitstappie.”

Wat sou jy geword het as jy nie geboer het nie? ’n Perkemeester op ’n gholfbaan. Dit is soos om met ’n gholfbaan te boer.

Wat laat jou huil? ’n Mooi vrou. Ek huil oor mooi goed en wanneer iets vir my spesiaal is. Ek dink ek sal huil as ek my vrou eendag in die kerkpaadjie sien afstap.

Watter liedjie langarm vir jou die lekkerste? Ek langarm nie meer so baie nie, maar ek kan my onderlyf rondgooi. Ek hou van daai liedjie van Brenda Fassie, Vulindlela.

Boer Toanette (24)

Wildsboer: Modimolle, Limpopo

Boer Toanette. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het nie verwag om tot die topvyf deur te dring nie. Nadat sewe ander vroue al in vorige seisoene in die top-10 was, maar te min briewe van bewonderaars gekry het om die topvyf te haal, het Toanette afgelei mans is sku om in te skryf. Maar toe maak sy geskiedenis as die eerste vrou in die topvyf.

“Ek het regtig groot geskrik,” erken Toanette, wat vanjaar die jongste boer in die reeks is. Sy het nog altyd na die reeks gekyk, maar het eers vanjaar ingeskryf nadat haar ma haar aangemoedig het.

Haar ma is intussen weens kanker oorlede.  “Dit is vir my moeilik om mense te leer ken, want ek hou nie daarvan om mans in kuierplekke te ontmoet nie. Ek het dit al gedoen en dit het nie vir my gewerk nie. Daarom het ek besluit om ’n kans te waag,” vertel sy.

Toanette het dit geniet om deur die bewonderaarsbriewe te sif en het elkeen van hulle gelees. Dit was vir haar oorweldigend om te sien dat soveel onbekende mans vrylik hul emosies met haar deel.

Sy het besluit om die briewe van mans wat aan die ouer kant is opsy te skuif.

Oor haar ideale man sê sy: “Die belangrikste ding vir my is dat hy ’n kind van die Here moet wees, opreg met ’n positiewe ingesteldheid. Hy moet kan lag en grappies maak en ook daar wees vir my wanneer ek nie lekker voel nie.”

Voor sy ingeskryf het, was sy vyf jaar in ’n aan-af-verhouding. Dit het haar geleer om die kat eers behoorlik uit die boom te kyk voor sy haar tot iemand verbind.

Wat was jou ouers se raad oor verhoudings? Daar moet altyd ’n vonk en ’n intieme band tussen jou en jou maat wees, anders kan dinge vervelig raak.

Waarvan hou jy nie in ’n man nie? Wanneer hy voorgee om iets te wees wat hy nie is nie.

Wat was jou gunstelingkledingstuk? My Bronx-werkstewels. Ek trek hulle elke dag aan.

Boer André (35)

Skaap- en angorabokboerdery: Colesberg, Noord-Kaap

Boer André. Foto: Corrie Hansen.

André is vanjaar die gewildste boer en het die meeste briewe van belangstellende vroue ontvang. Hy boer op ’n plaas wat al sedert die 1800’s in sy familie is. Hy werk ook drie dae per week as vee-afslaer.

Niks is vir hom lekkerder as wanneer hy ná ’n werkdag by die huis kom en sy stuk of 11 honde hom stertswaaiend kom groet nie, vertel hy.

Hy was tot sowat ’n jaar gelede in ’n ernstige verhouding. Daaruit het hy geleer ’n mens moet iemand eers behoorlik leer ken voor jy ’n verhouding aanknoop. Sy ouers se liefde vir mekaar en die manier waarop hulle hom grootgemaak het, is vir hom ’n goeie voorbeeld van die soort huwelik en gesinslewe wat hy graag wil hê.

Toe André vir Boer Soek ’n Vrou inskryf, het hy geen vooropgestelde idee oor die program gehad nie. “ ’n Mens bid mos maar daaroor en dan moet gebeur wat moet gebeur. Kom ons sê ek is versigtig opgewonde.”

Sy ideale vrou is iemand met ’n warm persoonlikheid. “Sy moet liefde uitstraal en ’n sagte mens wees, mooi van binne en buite.”

In sy vrye tyd geniet hy dit om tennis te speel. Wanneer sy werk as afslaer hom nie besig hou nie, bring hy meestal sy tyd op die plaas deur. “Dit is ook vir my lekker om weg te kom en ek sal maklik impulsief besluit om vir die naweek see toe te gaan.”

Wat sou jy geword het as jy nie geboer het nie? ’n Prokureur. Ek dink dit kan lekker wees om ’n paar mense op te skroef wat die wet oortree!

Wat is die een ding wat jou toekomstige vrou van jou moet weet? Sy sal ’n bed met ’n Jack Russelltjie moet deel.

Watter liedjie langarm vir jou die lekkerste? Leah se Met Jou Klere Aan.

Boer Duncan (37)

Beesboer: Verkykerskop, Vrystaat

Boer Duncan. Foto: Corrie Hansen.

Dié Engelsman en sy ouers woon al vier jaar in die Vrystaat nadat hulle uit Estcourt in KwaZulu-Natal daarheen getrek het. Die aanpassing in die Vrystaat was nie te erg nie, vertel Duncan. “Ons het ’n ander plaas in die omgewing gehad en soms daar gaan kuier. En ons het mense daar geken.”

Hy was baie opgewonde toe hy hoor hy’s een van die topvyfboere. “Dis moeilik aan die begin, want jy weet nie wie almal vir jou gaan skryf nie. Ek dink al 10 boere het ’n gelyke kans gehad om tot die topvyf deur te dring, maar ek is gelukkig om nou die hele reis mee te maak.”

Hy sê die vrou in sy lewe moet vir hom aantreklik wees. “Julle moet met mekaar oor die weg kom en julle moet sekere belangstellings deel.

“Ek het nie ’n spesifieke lys vereistes waaraan sy moet voldoen nie, maar ek dink as ’n mens uit dieselfde agtergrond kom, kan dit baie help.”

Hy glo ook daar kan vir ’n mens meer as een pasmaat wees. Duncan was tot sowat twee en ’n half jaar gelede in ’n ernstige verhouding. Hy het geleer dis belangrik om behoorlik met mekaar te kommunikeer, sê hy.

Wanneer hy nie op die plaas doenig is nie, geniet hy dit om kleiduif te skiet, muurbal te speel en vis te vang.

Watter eienskappe van jou ma sal jy in jou vrou wil sien? My ma het die slag om alles wat sy aanpak na die beste van haar vermoë te doen. Ons huis staan ook altyd vir vriende en familie oop.

Jou gunstelingkledingstuk? My oefenbroekie.

Wat in ’n meisie skrik jou af? Ek sal nie met iemand uitgaan wat rook nie.

Boer Cassie (29)

Saai- en beesboerdery: Elandslaagte, KwaZulu-Natal

Boer Cassie. Foto: Corrie Hansen.

In sy kas is daar nie ’n enkele kakiekledingstuk nie, sê Cassie. Hy sal graag die stigma wil help afbreek dat alle boere ’n sekere voorkoms het. “Mense dink altyd boere dra net kakieklere, rook en het boepense. Ek hou nie daarvan nie.”

Al klink hy so ernstig, is hy ’n terggees wat graag poetse bak. Daarom kon hy vroeër nie die versoeking weerstaan om vir sy suster en ’n vriend te vertel hy het nie die topvyf gehaal nie. “Ek dink hulle was amper blyer as ek toe hulle hoor ek is deur. Ek weet dis nie ’n kompetisie nie, maar ek was bly. ’n Mens wil mos maar een van die topvyfperde wees.”

Tog was dit vir hom ’n uitdaging om aan Boer Soek ’n Vrou deel te neem, want hy is van nature baie skaam. Maar hy het deurgedruk in die hoop om die vrou van sy drome te ontmoet.

Hy wil graag ’n meisie hê wat vroulik is, sê Cassie. “Dit is vir my belangrik dat sy byvoorbeeld nie lelik moet praat nie, sy moet sag wees en netjies op haarself.”

Vir hom is dit ook baie belangrik om in ’n verhouding oor jou gevoelens te kommunikeer.

Wat sal jy gryp as die huis afbrand? My huishulp, Mantombi. Ek sal seker maak sy’s veilig. Sy is soos my tweede ma, en ek het op haar rug grootgeword.

Wat is die een ding wat die vroue van jou moet weet? Ek het alleentyd en ruimte nodig. Ek kan net so ’n paar dae lank baie mense hanteer.

Wanneer het jy jou eerste soen gekry? Êrens in die laerskool. Net nadat ek die eerste keer in die program verskyn het, het ’n meisie vir my ’n brief gestuur en vertel sy het my op televisie gesien en dat ek haar eerste soen was. Dit was ook my eerste soen.