Die nuwe jaar het met ’n vaart weggetrek en jy begin reeds beplan aan al die dinge wat jy vanjaar gedoen moet kry. Maar so tussen die reëlings deur kan jy gelukkig ook af en toe na lekker vermaak en ’n blaaskans voor die groot- of kleinskerm uitsien.

Vanjaar is daar baie goeie kykstof om van te kies en nie naastenby genoeg tyd vir al die opsies nie; maar ontspan: Ons het vir jou ’n nuttige gids saamgestel van ’n hand vol van die beste flieks en reekse wat sal boei. Gebruik dit om jou kyktyd te beplan.

Nuut op die kassie | Engels

NANCY DREW

Speurdrama. M-NET, Van 11 Januarie, Saterdae, 21:00

Nancy Drew (vertolk deur Kennedy McMann) is ’n briljante tiener wat haar speurvernuf inspan om raaiselagtige misdade op haar tuisdorp op te los. Die skielike dood van haar ma ry haar planne in die wiele om ná skool te studeer, en ’n hartseer Nancy beloof sy gaan nooit weer speurder speel nie . . . Die televisiereeks is gegrond op die gewilde boekreeks.

WHY WOMEN KILL

Komedie. M-Net, Van 13 Januarie, Maandae, 21:00

Lucy Liu, Ginnifer Goodwin en Kirby Howell-Baptiste speel vroue wat in verskillende dekades leef – ’n huisvrou in die 1960’s, ’n sosiale vlinder in die 1980’s en ’n prokureur in 2019 – en elkeen met ’n ontroue man te doen het.

BLOOD AND WATER

Riller. Netflix, datum moet nog bekendgemaak word

Die reeks speel in Kaapstad af. Puleng Khumalo (vertolk deur Ama Qamata van Rhythm City) speel ’n tiener wat vermoed ’n meisie in haar nuwe hoërskool is haar ouer suster wat jare tevore as ’n baba ontvoer is. Dis Netflix se tweede oorspronklike Suid-Afrikaanse reeks ná Shadow van 2019.

THE GOOP LAB WITH GWYNETH PALTROW

Dokumentêre reeks. Netflix, datum moet nog bekendgemaak word

Die Oscarbekroonde Gwyneth Paltrow se veelbesproke leefstylhandelsnaam, Goop, deel in die komende reeks raad uit. Dié handelsnaam is berug vir twyfelagtige gesondheidsraad.

Nuut op die kassie | Afrikaans

GEBROKE HARTE (SEISOEN 1)

Telenovelle. Via, Van 6 Januarie, Maandae tot Donderdae, 17:00

Dié gewilde Turkse telenovelle is in Afrikaans oorgeklank en gaan oor twee vroue wie se lewe onherroeplik verander nadat hul kinders by geboorte omgeruil is. Die een gesin is skatryk en die ander voer ’n nederige bestaan. Vyftien jaar later raak die twee gesinne se lewens dramaties vervleg.

TRAP! DIS MY HUIS (SEISOEN 1)

Werklikheidsreeks. Via, Van 15 Januarie, Woensdae, 20:30

Wat gebeur wanneer 50 mense drie weke lank ’n tweeslaapkamerhuis moet deel wat net vir twee mense toegerus is? Kyk hoe toiletpapier, kos en ander benodigdhede tussen die inwoners verdeel word terwyl hulle take verrig en uitdagings oorkom om so lank moontlik in dié huis te woon. Die laaste inwoner wen die huis. Amalia Uys en Zoë Brown is die aanbieders.

PROJEK DINA (SEISOEN 1)

Drama. kykNET, Van 14 Januarie, Dinsdae, 20:00

Tim Theron, Chanelle de Jager en Chumani Pan speel drie uiteenlopende lede van ’n spesiale taakspan wat vermistes in Kaapstad probeer opspoor.

HOOR MY, SIEN MY, SOEN MY (SEISOEN 1)

Werklikheidsreeks. kykNET, Van 29 Januarie, Woensdae, 20:00

In dié nuwe maatsoekprogram kry voornemende pasmaats die kans om mekaar beter te leer ken deur ’n dag saam deur te bring. Die vangplek? Hulle sien mekaar nie in lewende lywe nie. Lyfkameras gee die deelnemer ’n blik op drie potensiële pasmaats se lewe. Eers nadat die deelnemer hul beste moontlike pasmaat gekies het, ontmoet die twee mekaar in persoon.

PLAASJAPIE

Werklikheidsreeks. kykNET, begin in Oktober

In dié splinternuwe werklikheidsreeks kry 20 stads- en dorpsmense die kans om hul staal te wys deur ’n maand op ’n plaas te oorleef. Hulle leef en werk in ’n skuur en het net basiese plaastoerusting. Die deelnemers moet uitdagings oorbrug om op die plaas aan te bly. Die wenner word as Suid-Afrika se heel eerste Plaasjapie aangewys en stap met groot pryse weg.

Gunstelinge keer terug | Afrikaans

REIS NA GISTER (SEISOEN 6)

Leefstyl. kykNET, Van 2 Januarie, Donderdae, 21:00

Jak de Priester neem bekendes weer terug na hul grootworddorpe en besoek die plekke waar hulle kosbare herinnerings van hul kinderdae koester.

DIE BYL (SEISOEN 2)

Drama. kykNET, Van 5 Januarie, Sondae, 20:00

Waldemar Schultz keer terug as die bedrewe kol. Piet van der Bijl wat reeksmoordenaars vastrek.

HOTEL (SEISOEN 4)

Komedie. kykNET, Van 6 Januarie, Maandae, 20:00

Die Fransenhotel en sy kleurryke personeel sorg weer vir hope pret en komiese verligting.

NISBOERE (SEISOEN 5)

Landbouprogram. Via, Van 15 Januarie, Woensdae, 18:30

Ontmoet die boere wat suksesvol op kleiner lappies grond boer.

SARA SE GEHEIM (SEISOEN 3)

Drama. kykNET, Van 16 Januarie, Donderdae, 20:00

Die tweede seisoen het ’n naelbyteinde gehad toe Maggie (Lee-Ann van Rooi) haar seun Kelvin (Conway October) skiet. Boonop het die geheim van Johnny (Dawid Minnaar) op die lappe gekom. Die intrige duur voort.

MAAK MY FAMOUS (SEISOEN 2)

Werklikheidsreeks. kykNET, begin in April

Die sanger en televisieaanbieder Emo Adams is weer op soek na plaaslike talent.

FYNSKRIF (SEISOEN 3)

Drama. kykNET, begin in April

Met die derde seisoen van die gewilde regsdrama sal kykers weer vasgenael voor die kassie sit. Wat hou die toekoms vir Van Wyk en Vennote in?

Gunstelinge keer terug | Engels

GREY’S ANATOMY (SEISOEN 16)

Drama. M-NET, Van 6 Januarie, Maandae, 19:00 (Seisoen 1-15 is op Showmax beskikbaar)

Dié dramareeks word as een van die beste televisiereekse van ons tyd beskou. In die 16de seisoen is die gange van die Grey Sloan Memorial-hospitaal weer vol drama.

MASTERCHEF AUSTRALIA (SEISOEN 11)

Werklikheidsreeks. M-Net, Van 9 Januarie, Maandae tot Vrydae, 18:00

Dis die laaste seisoen met die beoordelaars Gary Mehigan, George Calombaris en Matt Preston. Die drie het die gewilde kookprogram verlaat nadat hulle nie “kon ooreenstem oor die kontrakbepalings” vir die 12de seisoen nie. Talle weergawes van die reeks is wêreldwyd vervaardig, maar die oorspronklike bly bobaas.

THE BACHELOR SA (SEISOEN 2)

Werklikheidsreeks. M-NET, Van 13 Februarie, Donderdae,19:00

Suid-Afrika se tweede Bachelor, Marc Buckner, is op soek na liefde. Sal hy vanjaar die liefde van sy lewe tussen 22 beeldskone vroue vind?

Flieks | Engels

JUDY

Van 10 Januarie in fliekteaters

Renée Zellweger speel die Amerikaanse aktrise en sangeres Judy Garland. In die fliek kom Judy in 1968 in Londen aan vir vertonings.

BOMBSHELL

Van 24 Januarie in fliekteaters

Charlize Theron, Nicole Kidman en Margot Robbie vertolk die hoofrolle in die ware verhaal van die vrou wat die gewese Fox News-grootbaas Roger Ailes (John Lithgow) met ’n aanklag van seksuele teistering tot ’n val gebring het.

HARRIET

Van 7 Februarie in fliekteaters

Cynthia Erivo speel die hoofkarakter, Harriet Tubman – ’n vrou wat van slawerny ontsnap en honderde slawe help bevry het. ’n Ware verhaal.

RICHARD JEWELL

Van 21 Februarie in fliekteaters

Paul Walter Hauser speel die sekuriteitswag Richard Jewell, wat in 1996 ’n bom by die Olimpiese Spele in Atlanta ontdek het. Clint Eastwood is die regisseur. ’n Ware verhaal.

NO TIME TO DIE

Van 3 April in fliekteaters

Die oudspioen James Bond lei ’n stil lewe tot die CIA-agent Felix Leiter (Jeffrey Wright) hom vra om ’n wetenskaplike te help red. Dis Daniel Craig se laaste verskyning as 007.

TENET

Van 16 Julie in fliekteaters

Nog min is oor Christopher Nolan se nuwe fliek bekend, maar dit word beskryf as “ ’n epiese aksieprent wat uit die wêreld van internasionale spioenasie ontstaan”. Denzel Washington se seun John David is een van die hoofakteurs.

Flieks | Afrikaans

POPPIE NONGENA

Van 31 Januarie in fliekteaters

Die silwerdoekverwerking van Elsa Joubert se roman het ’n dosyn pryse gewen, onder meer vir beste rolprent op die kykNET Silwerskermfees. Clementine Mosimane vertolk die titelrol, dié van ’n jong Xhosa-vrou wat haar verset teen die apartheidsregering se pogings om haar te verplig om na ’n “tuisland” te trek.

VERGEET MY NIE

Van 14 Februarie in fliekteaters

Ná die sukses van Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die voëls, het ons lesers weer genooi om hul ware liefdesverhale aan ons te stuur, en dié van Mardaleen en Hugo Derks van Namibië is as die wenner van ons tweede fliekkompetisie gekies. Vergeet my nie, wat op hul storie gegrond is, word op Valentynsdag uitgereik – en dit is ’n heerlike kragtoer.

Dié romantiese fliek is in onder meer Potchefstroom, Londen, Kaapstad en Namibië verfilm en speel in die 1990’s af met Sean-Marco Vorster as Hugo en Marguerite van Eeden as Mardaleen. Die rolprent is vervaardig deur The Film Factory in samewerking met kykNET, en dit beloof om een van die grootste vermaakhoogtepunte van die jaar te wees.

Dié Afrikaanse flieks word na verwagting teen einde 2020 uitgereik:

  • Toorbos, gegrond op Dalene Matthee se roman.
  • Griekwastad, gegrond op die Griekwastad-gesinsmoord.
  • Semi-soet 2, die opvolg van die eerste romkom wat in 2012 uitgereik is.

Flieks | Superhelde

BIRDS OF PREY

Van 7 Februarie in fliekteaters

Margot Robbie se Harley Quinn, die ligpunt in die vrot Suicide Squad, is terug! Harley, die superheldinne Huntress en Black Canary en die Gotham City-polisiebeampte Renee Montoya span kragte saam om die skurk Black Mask (Ewan McGregor) te stuit.

BLOODSHOT

Van 6 Maart in fliekteaters

Vin Diesel vertolk die hoofrol in dié strokiesboekverwerking wat verlede jaar in Suid-Afrika verfilm is. ’n Vermoorde seesoldaat word opgewek as ’n supersoldaat met onbetroubare herinnerings aan sy lewe en wraak in sy hart. 

BLACK WIDOW

Van 1 Mei in fliekteaters

Nee, Natasha Romanova (Scarlett Johansson), ook bekend as Black Widow, staan nie uit die dood op ná Marvel se Avengers: Endgame nie – dié rolprent speel jare vantevore af ná die val van die Sowjetunie.

WONDER WOMAN 1984

Van 5 Junie in fliekteaters

Wonder Woman (Gal Gadot) is in die Koue Oorlog in die 1980’s vasgevang en kom teen ’n formidabele vyand in The Cheetah (Kristen Wiig) te staan. Patty Jenkins is terug in die regisseurstoel en Steve Trevor (Chris Pine) keer onverklaarbaar terug uit die dood.

THE ETERNALS

Van 6 November in fliekteaters

Die 25ste Marvel Cinematic Universe het ’n kosmiese geurtjie met die bekendstelling van die Eternals, godagtige onsterflikes wat die mensdom en geskiedenis op die aarde gevorm het.

Die rolverdeling sluit in Angelina Jolie, Salma Hayek, Kumail Nanjiani, Gemma Chan, Richard Madden, Kit Harington en Brian Tyree Henry.

Nog flieks wat jy kan oorweeg

Bad Boys for Life

– 17 Januarie – Will Smith en Martin Lawrence span weer saam as polisiebeamptes.

Fast & Furious 9

– 22 Mei – Vin Diesel stuit boosheid in sy spore.

The Many Saints of Newark

– 25 September – Die fliek sluit aan by die televisiereeks The Sopranos.

Death on the Nile

– 9 Oktober – Hercule Poirot slaan weer toe.

Dune

– 18 Desember – ’n Nuwe verwerking van Frank Herbert se epiese en ikoniese wetenskapsfiksieboek.

Flieks | Nuwe gedaantes

TOP GUN: MAVERICK

Van 3 Julie in fliekteaters

Tom Cruise keer meer as drie dekades ná die oorspronklike fliek terug as die vlieënier Pete “Maverick” Mitchell. Die storielyn is ’n digbewaarde geheim, maar Val Kilmer is ook terug as Maverick se mededinger, Iceman.

GHOSTBUSTERS 2020

Van 29 Julie in fliekteaters

Dié tweede opvolg van die Ghostbusters-fliek hou nie verband met die 2016-weergawe met vrouehoofspelers nie. Die rolverdeling sluit Paul Rudd en Mckenna Grace in, en die oorspronklike spookjagters Bill Murray, Dan Aykroyd en Sigourney Weaver is ook terug.

COMING 2 AMERICA

Van 7 Augustus in fliekteaters

Prins Akeem (Eddie Murphy) is op die punt om die koning van Zamunda te word toe hy ontdek hy het ’n langverlore seun in Amerika. Met die Suid-Afrikaanse aktrise Nomzamo Mbatha, Wesley Snipes, Leslie Jones en Tracy Morgan.

BILL & TED FACE THE MUSIC

Van 20 Augustus in fliekteaters

Alex Winter en Keanu Reeves hervat hul rolle as die aspirantrockers en beste pelle van Bill & Ted’s Excellent Adventure en die opvolg, Bogus Journey. Deesdae is hulle middeljarige pa’s en hulle word deur ’n tydreisiger besoek wat beweer hul liedjies kan die wêreld red.

Flieks vir die jongspan

SONIC THE HEDGEHOG

Van 14 Februarie in fliekteaters

Die wêreld se gunsteling- blou krimpvarkie is gereed vir sy volgende avontuur.

ONWARD

Van 6 Maart in fliekteaters

Tom Holland en Chris Pratt speel elfbroers wat hul oorlede pa met ’n towerspreuk probeer opwek.

PETER RABBIT 2: THE RUNAWAY

Van 3 April in fliekteaters

Die ondeunde konyn gaan op ’n reis van selfontdekking in die stad.

TROLLS WORLD TOUR 

Van 10 April in fliekteaters 

Die trolle Poppy (Anna Kendrick) en Branch (Justin Timberlake) ontdek daar is verskillende trolstamme, maar hul mededinging met mekaar bedreig hul oorlewing.

ARTEMIS FOWL

Van 29 Mei in fliekteaters

’n Jong baasbrein ontvoer ’n fee met die hoop om haar by ’n bose wese vir sy pa in te ruil.

SOUL

Van 19 Junie in fliekteaters

In dié Pixarfliek word ’n onderwyser (Jamie Foxx) se siel per ongeluk van sy liggaam geskei en verplaas na ’n opleidingsentrum vir nuwer siele wat hulle voorberei om die liggaam van pasgebore babas binne te gaan. Sjoe.

MINIONS: THE RISE OF GRU

Van 3 Julie in fliekteaters 

Kyk hoe maak Gru opgang in dié superskurkvoorvolg. Die vorige Minion-rolprent het meer as R21 miljard by die loket laat inrol.

  • Uitreikingsdatums en uit- saaitye kan verander.