Esti (Reandi Grey) of Emma (Bertha le Roux-Wahl)? Dit is die moeilike keuse wat Marko (Francois Lensley) tans laat kopkrap.

Marko was gebroke toe Esti vroeër vanjaar hul verlowing verbreek het toe sy na die Weskus getrek het om haar seun, Thomas (Vian Singleton), by te staan. Thomas het in ’n verbeteringskool beland nadat hy Rickus (André Lötter) per ongeluk raakgery en verlam gelaat het.

Die tiener het op ’n aand uit met sy vriendin, Chanelle (Luandri Reynders), met Marko se toestemming agter die stuurwiel geklim en per ongeluk vir Rickus met die motor gestamp.

“Marko was stukkend toe Esti weggegaan het en kon nie verstaan hoekom sy hom nie wou toelaat om haar deur hierdie moeilike tyd te help nie,” verduidelik Kayleen Bessit, 7de Laan se publisiteitsbeampte aan Huisgenoot.

“Sy het hom gedeeltelik verantwoordelik gehou vir Thomas wat na die verbeteringskool moes gaan, aangesien hy die een is wat vir Thomas die motorsleutels op daardie rampspoedige aand gegee het. Marko voel self ook verantwoordelik.” 

Nietemin het Marko nooit enige kwade gevoelens gekoester nie en hy het bly hoop dat hy en Esti weer sou versoen. “Hy hou van wat hy met Esti en Thomas gehad het.”

Intussen het Emma haar moordvonnis uitgedien en onlangs teruggekeer Hillside toe. 

“Toe Emma terugkeer, het Marko se hart iets bekend nodig gehad. Ten spyte van die drama waarmee sy gekom het, kon hy haar vergewe toe hy haar kant van die storie hoor. 

“Nadat hulle maande lank nie van Esti gehoor het nie, was dit ’n geval van op dieselfde plek op die regte tyd. Dit het Marko en Emma laat besef hulle het iets spesiaals gehad en kan dit weer hê.”

Soos die noodlot dit wil hê vra Marko toe vir Emma om te trou net voor Esti weer in Hillside opduik.

En wat nou van Esti, Oppiekoffie se nuwe bestuurder, wat terug is in die Laan?

“Die feit dat Esti dadelik vir Marko gaan opsoek het met haar terugkeer na Hillside, dui daarop dat sy hoop gehad het om hul verhouding te hervat,” vertel Kayleen. 

“Sy het hernude ywer gehad, want Thomas was amper klaar met sy tyd (in die verbeteringskool) en sy het ’n nuwe werksgeleentheid losgeslaan. Die liefde van haar lewe sou die prentjie voltooi.”

Maar haar tydsberekening was af. Marko het aanbeweeg nadat sy hom maande gelede verstoot het. 

Later blyk dit egter asof Marko en Emma verskillende sienings van hul verhouding het – Emma soek steeds ’n sprokiesverhaal, terwyl Marko glo in “vriendskap en vertroue”. 

Ondanks vriende soos Connie (Quinne Brown Huffman) en André (Marcus Muller) wat hulle oor die gevaarligte wil waarsku, het die paartjie steeds besluit om verloof te raak.

“Marko het sy keuse gemaak. Of hy sy vriende of hómself wil oortuig sal later bekend gemaak word.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.