Gaste is verras met ’n spesiale Binnelanders-opname in die Stark-ateljee in Randburg. En min het hulle geweet wat op hulle wag!

Hulle kon sien hoe Je-ani Swiegelaar se karakter, suster Naomi Ferreira, Louis Koster (gespeel deur Germandt Geldenhuys) ’n poets bak.

Van links is Clint Brink (dr. Steve), Kim Cloete (Bronwyn), Germandt Geldenhuys (Louis), Je-ani Swiegelaar (Naomi), Nadia (Pippa), Reynardt Hugo (dr. Ter­tius) en Hans Strydom (dr. At). Foto: Onkgopotse Koloti.

Germandt was doodluiters aan die toneelspeel toe sy hom onverwags gryp en soen.“Ek was baie geskok, maar ek moet sê sy soen nogal lekker,” skerts Germandt en bloos.

Beteken dit daar is dalk hoop dat hul sepiekarakters liefde sal vind? Hulle verklap niks . . .

Germandt onthou nog sy eerste dag op Binnelanders se stel.

Germandt en Je-ani. Foto: Onkgopotse Koloti.

Hy het voor die veteraanakteur Hans Strydom, wat dr. At Koster speel, in ’n glasdeur vasgeloop

“Hy het my eers aangekyk voor hy met sy tipiese droë humorsin geskerts het: ‘Nie net is hy nuut nie, maar nog dronk ook.’ ”

Die sanger Jak de Priester was die gaskunstenaar. Hy het die gehoor bekoor met die ikoniese Binnelanders-temalied, sy eie komposisie.

Jak de Priester het die Binnelanders-temalied op die spesiale aand gesing. Foto: Onkgopotse Koloti.

Binnelanders se bromanse-kliek – Ramey Short (dr. Quinton Meyer), Hykie Berg (dr. Conrad Bester), Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker) en Stefan Ludik (voorheen dr. Gustav Kemp) – het nie net ’n hegte vriendskap op die stel nie; hulle kuier ook graag saam in hul vrye tyd.

Die vier manne treiter en terg mekaar gedurig.

Ramey Short (dr. Quinton Meyer, links) en Stefan Ludik (voorheen dr. Gus­tav Kemp) is ook goeie vriende in die regte lewe. Foto: Onkgopotse Koloti.

Stefan onthou veral die keer toe Ramey vreeslik gesukkel het om ’n groot mediese term uit te spreek.

“Hykie het omtrent sy siel daaroor uitgetrek, maar toe dit Hykie se beurt is om te speel, moes die dialoog sewe keer oorverfilm word soos hy gesukkel het. Ons het lekker vir hom gelag.”