Onweer broei binne die vier mure van dié huisie so beknop, dit gee jou skoon engtevrees – of jy nou een van die dosyne inwoners daarvan is of vasgenael voor jou TV na hul doen en late kyk.

In die tweeslaapkamerhuis wat spesiaal agter ’n winkelsentrum in ’n noordelike voorstad van Kaapstad vir ’n nuwe kompetisiereeks gebou is, het ’n volle 50 deelnemers aanvanklik kom nesskop. 

Dink weer aan daardie skrikwekkende gedagte: výftig mense wat woon in een huis, met net twee slaapkamers...

Een vir een sal hulle mekaar nou uitstem met die gesamentlike uitroep deur die “inwoners” wat agterbly: “Trap! Dis my huis.” Dis dan ook die titel van dié nuwe reeks op VIA.

Van die deelnemers kan ook self besluit genoeg is genoeg en dan ’n beslissende tree oor die rooi streep buite die skuifdeur gee. 

Dink weer aan daardie skrikwekkende gedagte: výftig mense wat woon in een huis, met net twee slaapkamers...

Maar dan is hulle die kans kwyt om die prysgeld los te slaan. Want die inwoner wat dit die langste in die huis uithou, is die wenner – en hy wen dalk nie die huis nie, maar die wengeld wat die deelnemers saam kon “spaar”.

Daardie wenbeloning was aanvanklik ’n volle R1 miljoen, maar dit krimp elke dag, want die deelnemers moet dié beloofde prysgeld ook gebruik om eers basiese benodigdhede te koop terwyl hulle in die huis bly. 

En boonop is alles peperduur – ’n rol toiletpapier kos byvoorbeeld R600. 

Die besteding van die pryspot is ’n twisappel wat groot onmin kan saai.

Terwyl dié oorlewingstryd in Oktober verlede jaar oor ’n tydperk van drie weke verfilm is, het Huisgenoot agter die skerms gaan inloer vir ’n eksklusiewe kykie na die splinternuwe reeks wat beloof om boeiende kykstof te bied.

trap! dis my huis,via
Eers is daar 50. Dan word die mense – en geld – minder omdat hulle die inkopiekas moet aanvul. Foto: VIA
trap! dis my huis,kompetisie,via
Die Huisgenoot-joernalis, Pieter van Zyl, praat met Christo wat as huiskaptein vir die dag gekies is. Foto: VIA

Dis sesuur op ’n bewolkte Kaapse lenteoggend toe ons by die huis aanklop. Die sonstrale dring deur die wolke om ’n nuwe dag in die huis aan te kondig – nog ’n dag nader aan die prysgeld vir die bittereinders onder die deelnemers.

“Welkom in die gat,” groet Nina Swart (destyds Wilmien in 7de Laan) ons in die TV-kontrolekamer wat buite die huis agter ’n rietheining opgerig is. 

Soos met die onlangse Survivor South Africa op M-Net is sy die regisseur van Trap! Dis my huis.

In die huis is die bewoners aan die wakker word, soos ons hier op die ry rekenaarskerms kan sien.

Met net ’n dubbelbed in een slaapkamer en twee slaapbanke in die ander wat ook as leefvertrek dien, moes die meeste die vorige nag op die vloer ’n lêplekkie vind. 

Net soos met die destydse M-Net-reeks Big Brother se huis in Randburg, Johannesburg, loop en ry mense verby die oënskynlik doodgewone huisie sonder die vaagste benul wat binne aangaan. Soos Nina sê: “Hulle het nie ’n idee van die universe wat ons hier skep nie.”

Hier en daar slaap iemand nog onder ’n duvet in ’n hoekie of onder ’n laken langs die wasmasjien. 

Net soos met die destydse M-Net-reeks Big Brother se huis in Randburg, Johannesburg, loop en ry mense verby die oënskynlik doodgewone huisie sonder die vaagste benul wat binne aangaan. Soos Nina sê: “Hulle het nie ’n idee van die universe wat ons hier skep nie.”

Binne is 61 mikrofone en 20 loer­kameras om elke beweging in die huis, behalwe in die badkamer, dop te hou.

“Dit het die strategie van Survivor, maar daar is oomblikke van trash talk tussen die spelers,” sê Nina oor die reeks wat kykers in Nederland, Duitsland en Brasilië al aan die praat gehad het toe weergawes daarvan daar uitgesaai is. 

Dit is die eerste keer dat 50 vreemdelinge dit op Suid-Afrikaanse bodem uitspook in ’n tweeslaapkamerhuis wat aanvanklik met net genoeg kos, toiletware en beddegoed vir twee mense toegerus is. 

trap! dis my huis,via
Die inkopiekas. Foto: VIA
trap! dis my huis,via
Hul dag se kos in die yskas. Foto: VIA

Alles wat die inwoners verder benodig, moet hulle met die beloofde prysgeld aankoop.

“Gisteraand het hulle vir mekaar hul hartseer stories vertel. Hulle is besig om te bond,” vertel die reeks se vervaardiger, Handrie Basson van die produksiemaatskappy Afrokaans, oor die vorige aand se gebeure in die huis.

Net ’n paar meter van die kontrolekamer trek ’n deelnemer, Hein (52), nou ’n gordyn in die huis oop terwyl ons op die skerms toekyk.

Om 06:45 gaan die ligte in die huis aan. Van die inwoners doen ligte strek­oefeninge op die stoep.

Johan (36), ’n haarkapper van Bloemfontein, is doenig met ’n mededeelnemer, Rinnie (58), van Kirkwood in die Oos-Kaap, se kapsel. “Hy is Hannon in die huis,” spot Nina.

Binne is 61 mikrofone en 20 loer­kameras om elke beweging in die huis, behalwe in die badkamer, dop te hou.

’n Klompie is aan die gesels oor wat hulle vandag gaan aantrek. “Daar is nie ’n murmeling oor iemand wat wil uitstap en wegstap nie,” sê iemand in die kontrolekamer verlig en voeg by: “Nog nie...”

Dis 09:41 en die huiskaptein vir die dag is pas gekies. 

Die kaptein kry ’n bed om op te slaap, maar kan dit ruil vir iemand anders se porsie kos. Hy of sy besluit ook watter twee deelnemers daardie dag uit die huis moet trap. 

Nog ’n gewigtige besluit waaroor die kaptein met van die ander koppe bymekaarsit, is oor hoeveel hulle gaan bestee om die spens vir die dag te vul.

Wat sou ’n mens besiel om drie weke lank saam met wildvreemdelinge in ’n beperkte ruimte saamgehok te word sonder kontak met die buitewêreld?

trap! dis my huis,kompetisie,via
Die Huisgenoot-joernalis, Pieter van Zyl, praat met Christo wat as huiskaptein vir die dag gekies is. Foto: VIA

Vir Christo, ’n deelnemer met ’n Paul Kruger-baard is die ongerief in die huis nie die ergste nie, maar die verlange na sy vrou, Annemarie (28), en hul dogtertjie, Amelia (1). 

“Ek wonder of alles orraait is,” sê dié eienaar van ’n kunsgras-onderneming in Vereeniging. Hy sal die prysgeld daarin wil stort en sy skuld afbetaal. 

“Ek het ingeskryf om my pa-hulle op die plaas te help,” vertel Marli (23), van Williston in die Noord-Kaap, waar haar ouers onder ’n droogte gebuk gaan. 

Vir Jacolene (40), ’n ma van drie van Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap, is dit ’n avontuur om hier in die huis te wees waar die geur van stortseep, sigarette en koffie vroegoggend in die lug hang. 

“Ek het ’n lekker man. Hy’s ’n Nama­kwalander. Hy het gesê: ‘Doen dit,’ ” spog sy oor haar teeboerwederhelf, Jaco (48).

trap! dis my huis,kompetisie,via
Hulle kon hul wasgoed op die balkon hang buite die huis, maar as hulle oor die rooi streep trap moet hulle huis toe gaan. Foto: VIA

“Ek hou van mense. En mense het baie seer – ook hier binne. En hulle kom met my gesels,” verduidelik sy verder. 

Rinnie, ’n oorlewende van kanker, sê haar deelname is vir haar ’n emosionele ervaring. “My uitdaging hier is om oop te maak. Dis soos terapie vir my.”

Rhona (29), ’n sjef, vertel sy het haar restaurant op Upington verloor. “Uiteet is deesdae ’n luxury,” verduidelik sy hartseer. 

As sy as die wenner hier sou uitstap, sal sy die helfte van die wengeld aan haar suster skenk en die res vir ’n droomreis na Ierland gebruik.

Op 20 is Judith van Wellington in die Wes-Kaap een van die jongste deelnemers. Haar droom is om haar ouers die skoolgeld vir haar twee susters te help betaal en vir haar ’n motor te koop. 

“Ek gaan nou begin huil,” sê Llewelyn (35) van Springbok in die Noord-Kaap toe hy met sy lewensverhaal wegval. 

“Ek het by my oupa en ouma grootgeword. My oupa het nou kanker. Ons was nog nooit met ’n gesinsvakansie see toe nie. Ek sou die geld gebruik om vir almal die lewe makliker te maak.”

Johan, oftewel die huis se “Hannon”, sal graag sy ma met die wengeld wil bederf. “Ek wil haar Bali, Mauritius, Mosselbaai en Hartenbos toe neem.” 

Die nood in sy geweldgeteisterde ­gemeenskap het Bash (25), ’n omroeper van Westbury in Johannesburg, laat besluit om in te skryf. Hy sou jong mense graag met die wengeld wil bemagtig. “The sky is the limit,” sê hy.

trap! dis my huis,kompetisie,via
Blue help Bash se ooghare inkleur. Hulle twee is onafskeidbaar. Foto: VIA

Om ons word die groot vraagstuk van die dag nou druk bespreek: of die huisbewoners vanaand hier buite op die stoep duskant die rooi streep gaan vleis braai – iets wat hulle tienduisende rande uit die sak kan jaag en daardie prysgeld verder sal laat krimp...

Intussen het die reeks se aan­bieders, die aktrise Amalia Uys en die TV- en radiopersoonlikheid Zoë Brown, by die kontrolekamer opgedaag.

“Ek kan nog nie uit-figure wie in die finale episode gaan wees nie,” gesels Zoë. 

“Hulle is nou in monkey mode,” meen Amalia. “Hulle groom mekaar en sit in groepies vir warmte en toenadering. Maar later skop survival mode in en dan steek hulle mekaar in die rug.”

trap! dis my huis,amalia uys,zoë brown
Die aanbieders is Amalia Uys (links) en Zoë Brown. Foto: VIA

Teen 11:31 het die huiskaptein met die hulp van die mede-inwoners besluit om R2 000 per tjoppie en porsie wors te betaal. 

Die rooster en braaigereed­skap jaag hulle R10 000 uit die sak en ’n bottel wyn R500. 

Boonop probeer ’n paar deelnemers die huiskaptein oortuig om vier biere teen R600 elk te koop. 

In die kontrolekamer voorspel Handrie: “Die mense gaan opstandig raak. Lovely...” 

  • Trap! Dis my huis word van 15 Januarie elke Woensdag om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Vir ekstra kykstof kan kykers ook op VIA se spesiale YouTube-kanaal inteken. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.