Ons gesels met die akteurs oor hul ligte oomblikke wat 7de Laan in die sosiale media gedeel het. 

Vince en Aggie se troue

Mimi Mahlasela, wat die rol van Aggie Ngwenya vertolk, het omtrent haar TV-verloofde, Jacques Blignaut, oftewel Vince Meintjies, onkant gevang toe sy grappenderwys agter die skerms by hom wou weet wanneer hulle voor die kansel gaan staan.

“Wanneer trou ons? Ek’s reg hoor! Volgende week?” het sy gespot. 

Jacques praat net met lof van sy TV-liefie. "Mimi is ’n baie professionele aktrise met hope talent, maar het ook ’n fantastiese sin vir humor. Ons het altyd groot pret op die stel en kry steeds die werk gedoen," vertel Jacques aan Huisgenoot. 

Mimi beaam. "Ons kom goed oor die weg – hy is ’n goeie mens en ons het ’n goeie verstandhouding," vertel sy. "Hy help my ook baie met Afrikaans aangesien dit my derde taal is."

Op die kassie het Vince voorheen teleurstellings in sy vorige verhoudings met Bonita (Hildegardt Whites) en Celeste (Chantal Stanfield) ervaar. Bonita het hom onder meer verneuk met sy broer Xander (Theodore Jantjies), en Celeste het weer sy eie seun van hom weggehou.

"Aggie is baie anders as enige van sy vorige verhoudings. Sy’s ’n lieflike mens met ’n hart van goud. Ek’s seker hulle verhouding sal vir ewig aanhou en hulle sal saam baie goeie ouers wees. Hulle komplementeer mekaar,” vertel hy. 

In die regte lewe gaan dit klopdisselboom met Jacques se liefdeslewe. Hy is al 10 jaar lank gelukkig getroud met sy vrou, Melanie. Die paartjie het drie kinders, Angelique (8), Emmanuelle (6) en Raphael (2). 

Mimi is self al twee dekades lank saam met haar hoërskoolliefie, Thabo. 

'Filexa' se danspassies 

In ’n terugblik video op 7de Laan se amptelike Instagram-profiel is Nicholas Nkuna en Carina Nel, wat die TV-paar en dokters Fikani Chauke en Alexa Welman speel, vol energie met hul danspassies. Die duo het die verhoog in Port Elizabeth behoorlik laat vlam vat tydens 7de Laan se kuier in die vriendelike stad.

"Carina is skreeusnaaks," vertel Nicholas aan Huisgenoot. "Sy is ’n talentvolle aktrise, passievol, so liefdevol en vol omgee. Die pret wat ons op die stel het, is ongelooflik. Ek herinner haar elke dag: ‘Vriend, jy gaan ver kom.’"

In die regte lewe is Carina getroud met Deon Nagel terwyl Nicholas nog enkellopend is. "Ek wil eers aan myself werk, want die liefde is mooi en wanneer dit kom sal dit my slaggereed kry."

Oud, maar nog nie koud

Staan terug jongspan – laat oom Jacob julle wys hoe dit gedoen word!

Patrick Shai, wat as die Laan se boekwurm gedurig ’n fontein van wysheid vir die inwoners is, het tydens ’n besoek aan Heidelberg ook gewys dat hy met sy dansbewegings die jongelinge ’n ding of twee kan wys.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.