Wanneer jy vir jou gunstelingsepie inskakel, is die kans goed jy krul saam met jou troeteldier op die rusbank op om dit te geniet.

Volgens ’n peiling wat Netflix vroeër vanjaar gedoen het, is hul hond of kat vir 64% van Suid-Afrikaners die ideale televisiekykmaat, terwyl 38% sê hulle het hulle tot hul troeteldier gewend tydens ’n hartseer of vreesaanjaende toneel.

Boonop het 30% aangedui hulle het met hul hond gepraat oor die reeks of fliek wat hulle gekyk het. Meer as die helfte van die respondente het gesê hulle het al van sitplek verander sodat hul troeteldier gemaklik kan wees, terwyl 23% hulle met bederfies probeer omkoop het om langer saam te kyk.

Tot 16% het al ’n program afgesit omdat hul troeteldier nie daarvan gehou het nie. Jou vierpotige vriend is net so geboei deur wat op die skerm aangaan soos jy.

Honde en katte kan beelde op televisie op dieselfde manier as ons ervaar en is intelligent genoeg om diere op die skerm te herken, selfs as hulle dit nog nooit tevore in die regte lewe gesien het nie.

Maar hulle verskil van mense wat die kleure betref wat hulle sien. In teenstelling met die algemene opvatting sien hulle nie die wêreld in swart en wit nie. Honde en katte kan blou en groen sien, maar nie rooi nie.

Dit is omdat hulle net twee soorte kegelselle aan die agterkant van die oog het teenoor mense se drie. Hulle is wel goed in die waarneming van helderheid en beweging en fokus op die buitelyne van diere of mense wat hulle op die skerm sien.

“Katte met ’n hoër prooi-aandryfkrag is meer geneig om aangetrokke tot die vinnige bewegings van voorwerpe oor die skerm te wees,” sê dr. Jillian Orlando, ’n veeartsenykundige gedragskenner aan die kollege van dieregeneeskunde by die Staatsuniversiteit van Noord-Carolina.

“As jou kat daarop uit is om die televisie te ‘jag’, moet jy hulle nie sonder toesig laat TV kyk nie. En as jy ’n groot platskerm het, maak dit teen die muur vas ingeval kietsie besluit om te spring.”

Bronne: Stuff.co.nz, Petful.com 

Die kat wat instagram op hol het

Ontmoet vir Xherdan, die jongste kat waaroor die internet gaande is. Die Kanadese sfinkskat, wat by sy eienaar, Sandra Filippi (45), in Switserland woon, het ’n sensasie op Instagram geword danksy sy pienk, plooierige vel, blou oë en permanente frons.

“Ek hou van eet en is lief vir my gesin,” sê hy op sy Instagram-blad getiteld @xherdanthenakedcat wat byna 9 000 aanhangers het.

Sandra sê Xherdan “het onmiddellik haar hart gesteel” toe sy hom aanlyn vind en voeg by hy is eintlik ’n gelukkige kat.

“Hy laat my en ander mense gedurig lag.”

Sy deel gereeld foto’s van die vyfjarige dier in verskeie uitrustings op Instagram.

“A, dis die mooiste plooie wat ons al ooit gesien het,” het een aanhanger geskryf.

Bron: Hindustantimes.com 

Steun dié uitreikprojek

Die Underdog-projek in Houtbaai, Kaapstad, is ’n unieke projek wat honde en kinders uit minderbevoorregte gebiede bymekaarbring.

Deur ’n kombinasie van diereterapie en honde-opleiding deur positiewe versterking mik hulle daarna om sowel kinders as honde te help.

Die kinders leer oor onder meer vriendelikheid, selfwaarde, konflikoplossing en leierskapsvaardighede, wat met trauma help.

Foto: Paco Arbol Photography

Op hul beurt word die honde gestimuleer en opgelei; dit help hulle om ’n tuiste te vind. Die Underdog-projek vra bystand van die publiek.

Hulle het ook middagete-skenkings vir die kinders nodig.

As jy wil help
Kontak nina@underdogproject.org of besoek underdogproject.org.

Bronne: Stuff.co.nz, Petful.comHindustantimes.com