Archie Williams gaan te sien wees in die opkomende talentsoektog-kompetisiereeks America’s Got Talent (AGT) se 15de seisoen. 

Die reeks het op Twitter ’n voorsmakie van Archie se weergawe van die liedjie ‘Don’t Let The Sun Go Down On Me’ deur George Michael en Elton John op die AGT se verhoog gedeel. 

Die beoordelaar met die bittertong Simon Cowell, en sy kollegas; die komediant Howie Mandel, die voormalige supermodel Heidi Klum en die Modern Family-aktrise Sofía Vergara, was almal absoluut gaande oor Archie se stem. Selfs die gehoor was in trane.

“Dié is Archie Williams. Ek sal nooit sy oudisie vir die res van my lewe vergeet nie. En ek sal nooit weer dieselfde na dié liedjie luister nie,” het Simon met ’n videogreep van Archie se vertoning op Twitter geskryf. 

In 1982 is Archie gearresteer vir die aanval en verkragting van ’n dertigjarige vrou in haar huis in Baton Rouge in die Amerikaanse deelstaat Louisiana.

Ten spyte daarvan dat geen van sy vingerafdrukke destyds op die toneel gevind is nie en dat drie verskillende mense getuig het hy was tuis was ten tyde van dié aanval, is hy steeds vir 37 jaar tronk toe gestuur. 

Die Innocence Project het met DNS-bewyse daarvoor gesorg dat Archie in Maart 2019 vrygelaat is. 

“Ek het geweet ek is onskuldig. Al misdaad wat ek gepleeg het, is dat ek ’n arm swart kind was,” het Archie op die program laat hoor. 

Bronne: Metro, Daily Mail