Verfilming van die reeks sal na verwagting in 2022 hervat word en alle aanduidings toon daarop dat dit die 1990’s en vroeë 2000’s sal dek.

Dit gaan die versplintering van prins Charles en Diana se huwelik en haar dood in 1997 insluit. Koningin Elizabeth se jonger suster, prinses Margaret, en die koninginmoeder, wat in 2002 sewe weke uit mekaar gesterf het, gaan ook vermoedelik deel van die reeks vorm.

Elizabeth neem die rol van Diana oor by die aktrise Emma Corrin (24), wat die rol van die prinses vertolk in die vierde seisoen, wat nog nie uitgesaai is nie. Terloops, die vierde seisoen is ook die eerste seisoen in die reeks waar Diana ter sprake kom.

Maar wie is Elizabeth Debicki en hoe goed sal sy die rol van Diana kan vertolk?

Haar pa is van Poolse afkoms en haar ma is ’n Australiër van Ierse afkoms. Sy is in die Franse hoofstad, Parys, gebore, is die oudste van drie kinders, en was net vyf jaar oud toe haar gesin na Melbourne in Australië verhuis het. 

Elizabeth is geen groentjie as dit by groot rolle kom nie. Sy het in 2011 haar buiging op die silwerdoek gemaak in ’n ondersteunende rol in die romantiese komedie A few best men met Rebel Wilson en Olivia Newton-John.

Sy het ook al die verhoog gedeel met Isabelle Huppert en Cate Blanchett in die teaterproduksie The Maids.

Nog flieks het gevolg, onder meer The Great Gatsby (2013), Guardians of the Galaxy Vol. 2 (2017), Steve McQueen se Widows (2018) en onlangs The Burnt Orange Heresy (2019) asook natuurlik die verwagte lokettreffer Tenet (2020) wat einde-Augustus uitgereik word. 

So, wat benewens haar groot blou oë en innemende glimlag maak haar geskik vir die rol van die ikoniese Diana?

Daar is veral een groot ooreenkoms tussen haar en Diana: albei het ’n groot passie vir ballet en albei se droom om dit verder te voer, is deur hul lengte gekelder. Elizabeth is 1,9 m en Diana was 1,78 m lank.

Diana wou graag op die verhoog saam met die koninklike balletgroep optree, maar dit was haar nie beskore nie. Haar passie vir dans het egter nooit getaan nie. Ná haar dood het die bekende balletdanser en choreograaf Peter Schaufuss ’n vollengte ballet getiteld Diana the princess ontwikkel.

Elizabeth self was vir baie jare ’n danser. “Ek het gedink ek gaan ’n ballerina wees. Toe ek een keer na ’n somerskool vir die Australiese ballet gaan, was ek langer as my onderwyser. Ek onthou ek het gedink ek sal dit moet heroorweeg.”

Daar gaan bepaalde uitdagings wees omdat Elizabeth 1,9 m lank is en bo van haar mede-akteurs gaan uittroon, maar gesoute aanhangers van die reeks meen hoe Elizabeth se lengte in die reeks hanteer gaan word, is nóg ’n rede om dit te volg.

Iemand het ook uitgewys die legendariese Humphrey Bogart moes op platformskoene loop toe hy in die ikoniese fliek Casablanca (1942) teen Ingrid Bergman moes optree.

Waaroor gaan The Crown?

Dit volg die lewe van koningin Elizabeth vanaf die 1940’s tot vandag. Daarom moet die akteurs ook ooreenkomstig aangepas word om by die ouderdom van die karakters wat hul vertolk, te pas.

Claire Foy was byvoorbeeld in die eerste twee seisoene te sien in die rol van koningin Elizabeth terwyl Matt Smith as prins Philip te sien was. Vanessa Kirby het die rol van prinses Margaret vertolk.

Claire is in die derde seisoen deur Olivia Colman vervang, Helena Bonham Carter het die rol van prinses Margaret oorgeneem en Tobias Menzies was prins Philip.

Die 64-jarige Britse aktrise Imelda Staunton (Harry Potter and the Order of the Phoenix) is die nuwe koningin Elizabeth in die vierde en vyfde seisoen terwyl die Game of thrones-ster Jonathan Pryce (73) by Tobias Menzies as prins Philip gaan oorneem.


Bronne: abc.net.au, rd.com, imdb.com, bbc.com, independent.co.uk, deadline.com, vanityfair.com, townandcountrymag.com