Die skokaankondiging Maandagaand dat The Bold and The Beautiful vir oulaas op Vrydag 1 Maart in Suid-Afrika uitgesaai gaan word, het deurwinterde aanhangers van die sepie diep onthuts.

Geld is glo die rede vir dié besluit. Volgens SABC3 is dit ’n bestuursbesluit wat geneem is om “Bold te kanselleer omdat die beleggingsprestasie in die tydgleuf nie genoeg besigheid inbring om dit op die rooster te hou nie; daarom die kansellasie.”

Maar voor die oomblik van afskeid aanbreek, kyk ons na van die grootste en volgens die storielyn soms die mees omstrede karakters wat van 23 Maart 1987 diep in die hart van Suid-Afrikaanse bewonderaars ingekruip het.

John McCook

Eric Forrester, die patriarg van die Forrester-moderyk en medestigter van Forrester Creations, word deur John McCook (74) gespeel. John is een van net twee oorspronklike akteurs wat oor is sedert die program in 1987 begin het. Hy vertolk dus al die rol van Eric ’n verstommende 32 jaar.

Wanneer hy nie op televisie ’n moderyk bestuur nie, bring John tyd deur saam met sy vrou, Laurette Spang-McCook (67), in hul huis in Los Angeles.

Die egpaar het drie kinders, Jake (38), Rebecca (36) en Molly (29).

John het nog ’n seun, Seth (47), by sy eksvrou, Juliet Prowse, wat in 1996 oorlede is.

Katherine Kelly Lang

Brooke Logan is seker ons gunsteling-antiheldin.

Brooke, wat sedert die program se debuut deur Katherine Kelly Lang (57) gespeel word, bly bedrywig aan die romantiese front. Sy het meer as enige ander sepiekarakter voor die kansel gestaan; ’n ongelooflike agt keer in die program se drie dekades. Hier is 'n paar troues uit die sepie, met Brooke wat die botoon voer.

Katherine is ’n kranige atleet en het al drie IronMan-wedlope voltooi, berig CBS.

Die sepiester het drie kinders, Jeremy (28), Julian (26) en Zoe Katrina (21), uit twee huwelike.

Sy is sedert 2013 in ’n verhouding met Dominique Zoida (42), wat ook haar bestuurder is.

Susan Flannery

Susan Flannery (79) is dalk nie meer in The Bold and the Beautiful nie, maar ons sal die Forrester-matriarg Stephanie Forrester nooit vergeet nie. Eric se vrou (en later eksvrou) Stephanie se vetes met Brooke was legendaries.

Die Emmybekroonde aktrise het die program in 2012 verlaat toe Stephanie se karakter aan longkanker dood is, berig Soap Hub.

Susan, wat nooit getroud is nie, het ’n dogter, Blaise Flannery (32), wat sy in 1987 aangeneem het. Sy is ook ’n regisseur, gelisensieerde vlieënier en fynproewerskok.

Ronn Moss

Ronn Moss (66) is die oorspronklike Ridge Forrester, seun van Stephanie Forrester en Massimo Marone (het ons later uitgevind). Ridge is die bekendste vir sy liefdesdriehoek met Taylor en Brooke.


Ronn, wat die program in 2012 verlaat het, na bewering oor salariskwessies, is die pa van twee dogters, Caleb (20) en Creason (24), uit sy eerste huwelik met die aktrise Shari Shattuck (58).

Sewe jaar nadat sy huwelik met Shari in 2002 geëindig het, is hy in 2009 met die model en aktrise Devin DeVasquez (55) getroud.

Ridge word nou gespeel deur Thorsten Kaye (52), wat in 2013 by die program aangesluit het.

Hunter Tylo

A, die beeldskone dr. Taylor Hayes. Hunter Tylo (56) speel Taylor in die sepie. Sy is die bekendste vir haar verhouding met Ridge Forrester – en haar wedywering met Brooke.

Taylor is in 1990 in die sepie bekendgestel, maar die karakter is in 2002 uitgeskryf. Tot die verbasing van baie Bold-aanhangers het Hunter in April verlede jaar ’n onverwagte terugkeer tot die sepie gemaak, berig CBS.

Die aktrise het drie keer getrou en het vier kinders, Christopher (38), Izabella (22), Katya (21) en Michael, wat in 2007 verdrink het. In 1998 is retinoblastoom, ’n seldsame oogkanker, by haar dogter Katya gediagnoseer. Sy het dit oorleef.

Kitsfeite
  • The Bold and The Beautiful het vir die eerste keer op 23 Maart 1987 op die kassie in Amerika verskyn.
  • Dit was bedoel as 'n sustersepie vir William J. Bell en Lee Phillip Bell se ander sepie The Young and The Restless (wat ook in Suid-Afrika uitgesaai is).
  • Bold is die sepie wat wêreldwyd die meeste gekyk word en het ’n geraamde 26,2 miljoen kykers. Dit verskyn van 2009 tweede op die Nielsen-ranglys vir dramas wat bedags uitgesaai word.
  • Die temaliedjie, High Upon This Love, is deur David Kurtz en Jack Allocco geskryf. Eric Marienthal is die man wat die saksofoon so pragtig speel.
  • Dis minder bekend dat Dionne Warwick van November 1998 tot Julie 1999 die temaliedjie in Amerika gesing het.
  • In 2016 is die sepie vir 23 Emmys benoem.

Bronne: Soap Central, CBS, Soap Hub, SABC3