Die 29-jarige Robert Bentele, oftewel Rob, was vanaand oorstelp nadat sy naam as die wenner van Survivor uitgeroep is en hy as die Ultimate Survivor aangewys is.

survivor
Foto: Marisa Fockema

Die aanbieder, Nico Pangio, het kykers en die gehoor in spanning gehou terwyl die laaste stemme getel is en die seisoen se wenner tydens ’n regstreekse uitsending uit die Silverline Studios in Kaapstad aangekondig is.

Die slotepisode van twee uur was omtrent met aksie en intrige belaai. En soos wat kykers deur die loop van die reeks gesien het, was die uitkoms alles behalwe voorspelbaar.

Rob het deel van die top-drie geword nadat hy die immuniteitsuitdaging gewen het en hy besluit het om vir Durao Mariano (28) en Nicole Capper (34), eerder as Laetitia le Roux (58), saam met hom na die finale stamberaadvergadering te vat.

Die top-drie deelnemers het toe die geleentheid gekry om hul finale pleidooi voor die jurie te lewer. Rob het in sy pleidooi verduidelik dat hy deur sy spel die reeks se slagspreuk – "outwit, outplay en outlast" – gestand gedoen het

Die jurie van tien voormalige spelers, wat vroeër in die spel uitgestem is, het heelwat gehad om oor na te dink voordat hulle hul besluit geneem het.

Rob het uiteindelik met die manier hoe hy die spel gespeel het die meederheid van sy mede-deelnermers se stemme oorgewen en met die Survivor SA-titel weggestap. Hy het deur die loop van die werklikheidsreeks altesaam vyf immuniteituitdagings gewen.

Al het Rob se speelplan deur die loop van kompetisie nie by almal aanklank gevind nie, was dit op die ou end genoeg om die prys van R1 miljoen te wen.

  • Lees nog oor Survivor South Africa: Island of Secrets se wenner in Huisgenoot se volgende uitgwawe, wat volgende week op winkelrakke sal wees.