ab en farah op hul troudag
AB Samsodien (Cedwyn Joel) het Farah Adjerahn (Lee-Ann van Rooi) as sy tweede vrou gevat in die kykNET-sepie Suidooster. Foto: Erina Niemand

Hulle is een van die geliefdste paartjies op die kassie – die apteker AB Samsodien en sy vrou, Mymoena, was ná ’n huwelik van 30 jaar immers die toonbeeld van geluk in die kykNET-sepie Suidooster. 

En Cedwyn Joel en Jill Levenberg, die akteurs wat dié egpaar speel, was net so gewild onder kykers. Maar toe daag Farah Adjerahn in Ruiterbosch op en laat AB se oog dwaal.

En kort daarna bars die bom: AB sê vir Moena hy wil met Farah trou en haar sy tweede vrou maak. Die gesinsman is getrou aan die Moslem-tradisies en verwag sy vrou moet daarby inval.

Lank laas het ’n sepiestorielyn kykers se bloed so laat kook. Farah, wat deur die gesoute aktrise Lee-Ann van Rooi gespeel word, is uitgekryt as ’n “feeks” en “flerrie” wat net agter AB se geld en apteek aan is.

Kykers het in hul duisende in die sosiale media gal gebraak. Maar op 7 Oktober was die koeël deur die kerk: AB en Farah het afgehaak en die eerste poligamiese Moslem-troue het op die kassie in ’n Afrikaanse sepie afgespeel.

mymoena is verpletter
Mymoena (Jill Levenberg) is verpletter oor haar man se besluit en woon nie die troue by nie. Foto: kykNET

Die Samsodiens se seun Rhiyaaz (gespeel deur Anton David Jeftha) het heelpad uit Londen gekom vir die bruilof, maar Mymoena was nêrens in sig nie, nog minder Rhiyaaz se tweelingbroer, Rhafiek (Irshaad Ally), wat nog oomblikke voor die huwelikseremonie sy pa gesmeek het om sy trouplanne te laat vaar. 


Terwyl Moena met ’n gebroke hart tuis gesit het, het die tweede mev. Samsodien – tot talle kykers se ergernis – gestraal op haar groot dag in ’n vloeiende ligpienk rok en bypassende hijab.

“Die rok is spesiaal vir my gemaak en ek het soos ’n prinses gevoel,” sê Lee-Ann (48). Die bruidegom was in ’n goue sherwani-troupak opgetof vir die onthaal in sy stiefdogter, Bianca (Simone Biscombe), se werkplek, die Oos-Wes-restaurant.

Lee-Ann se karakter, Farah, is tans die mees omstrede vrou op TV. En sy loop aanlyn onder kritiek deur.

“Daar is baie mense wat ongeskik is en die aakligste goeters sê, maar daar is ook dié wat sê: ‘Nee kom nou mense, dis net ’n storie’,” vertel Lee-Ann in haar tuisstad, Kaapstad, waar al die drama afspeel. 

En Cedwyn (67) vermy winkels uit vrees dat kykers hom gaan uittrap oor AB se streke. “Ek is half skepties om winkel toe te gaan. Ek moet maar online shopping doen,” laat hy hoor.

die seremonie is by 'n moskee naby milnerton gehou
Die seremonie is by ’n moskee in Phoenix naby Milnerton in Kaapstad verfilm. Foto: Erina Niemand

“Die masker help so ’n bietjie, maar sodra jy in ’n ry staan by ’n winkel en jy praat, herken mense jou stem. Daar is mense wat sê hulle wil my bedood – en dit sê ek het my werk reg gedoen,” sê die akteur en skerts: “As daar klappe uitgedeel word, moet hulle maar vir AB klap en nie vir Cedwyn nie.”

Weg van die kameras is Cedwyn ’n pa van drie dogters en al 43 jaar gelukkig getroud met sy vrou, Cecelia (65). Dié is glad nie beïndruk met haar man se manewales op TV nie.

“Sy raak kwaad vir my. Dan sê ek sy moet vir AB kwaad raak, nie vir my nie,” vertel Cedwyn. “Ek is nou al 33 jaar in die bedryf en sy is al gewoond daaraan.”

Die egpaar se 40-jarige dogter, Portia Joel, is ook in Suidooster as die sakevrou Lee-Ann Jacobs te sien.

“Sy hou maar haar afstand op die stel, want dis nogal hectic,” sê Cedwyn. “ ’n Mens klim so diep in die karakter dat mense soms vra hulle sien ons twee praat nie met mekaar op die stel nie. Ons hou dit professioneel.”

Sy TV-vrou, Jill (43), onthul haar bure in die Kaapse buurt Kensington het haar meer as twee maande laas gesien terwyl sy die jongste storielyn geskiet het.

“Somtyds het die storielyne ’n emosionele impak op ’n mens en dan word jy stil gedurende daai tyd, want soms demand die storielyn daai soort stilte,” sê Jill. “Ek sal byvoorbeeld dan nie baie social wees nie. My bure het met hierdie storielyn gesê hulle het my twee en ’n half maande laas gesien,” vertel dié enkelloper.

rabia ondersteun vir farah
Rabia (Na-aymah Samaai) ondersteun Farah op haar groot dag. Foto: Erina Niemand

Dis juis Jill wat met die storie-idee vorendag gekom het dat haar TV-man, AB, ’n tweede vrou moet vat.

“Ek ken mense met wie dit gebeur het en al is dit algemeen in ons samelewing, het ons dit nog nooit op Suid-Afrikaanse televisie gesien nie,” sê die aktrise, wat die afgelope vyf jaar die liefdevolle Moslem-matriarg Mymoena vertolk.

Jill en Cedwyn is na die vervaardigers toe met die idee, maar eers het daar niks van gekom nie. “Ek dink nie ons was daai tyd gereed daarvoor nie,” sê sy nou.

’n Paar maande gelede het sy en Cedwyn weer op die stel gesit en oor die storielyn gesels. Hulle het gevoel daar kort iets in hul karakters se lewe. Kort voor een van die sepie se groot storiekonferensies het hulle Colin Howard, Suidooster se kreatiewe vervaardiger, weer genader.

“Ek wou hê mense moet ’n ander sy van my karakter sien,” sê Cedwyn. “AB wil altyd alles reg doen en ek wou juis hê hy moet misluk om te wys dat almal ook flaws het.”

Almal by die storiekonferensie was opgewonde oor die idee. “Dit was nog ’n manier om ons land se verskillende mense en hul tradisies aan mekaar bloot te stel en te verduidelik,” sê Paul Venter, een van die vervaardigers.

In 2018 het Suidooster geskiedenis gemaak toe die Samsodiens se seun, Rhafiek, en Carmen (Desiré Gardner) in die eerste Moslemtroue in ’n Afrikaanse sepie afgehaak het.

Nou spog hulle met nog ’n eerste. Maar “dit gaan nie vir ons oor eerstes nie,” sê Paul. “Dis ’n storie wat vertel word van ’n liefdesdriehoek en die doel van Suidooster is om mense aand ná aand deel te laat voel van ’n wêreld wat hulle ken, herken en saam in wil leef en bly.”

farah word mooi gemaak vir haar troue
Mary-Ann Martin van die kunsafdeling (links) en Tarry-Lee Alexander van grimering sorg dat die bruid perfek lyk. Foto: Erina Niemand

Al was dit die uitdagendste storielyn wat Jill se karakter nóg aangepak het, wou sy hê mense moet opgevoed word daardeur en sien wat dit aan ’n gesin kan doen.

“Al het kykers empatie met Mymoena is hulle op die oomblik kwaad vir haar, want sy het ingestem vir die tweede vrou. Maar mense moet onthou ons vertel ’n storie van ’n vrou in haar ouer jare wat miskien nie veilig genoeg voel om te skei nie. Sy probeer volgens haar geloof doen wat reg is, maar dit beteken nie noodwendig sy is gelukkig nie.”

AB en Farah se troue is op 10 Augustus by ’n moskee in Phoenix naby Milnerton geskiet. Imam Kashief Damon van Belhar, wat gereeld deur die sepie geraadpleeg word, het die godsdienstige seremonie voor die kameras gelei.

Die troue is oor twee dae geskiet.

“Ons het ’n moskee gesoek wat mooi is van binne. Iets wat die oog vang en ’n goeie toonbeeld van die Moslem-geloof is,” sê Colin. Die gekose moskee was naby die Atlantic Film Studios in Montague Gardens, waar Suidooster verfilm word.

Dis die eerste keer dat hulle ’n troue onder die streng covid-19-maatreëls moes skiet. Maskers is gedra en die stel is gereeld ontsmet.

Dit was vir Lee-Ann ’n emosionele ervaring. Dit was die eerste keer dat sy in haar 25 jaar as aktrise op TV afgehaak het. “Op ’n kol het ek en Cedwyn vir mekaar gesê ons moet onthou dis net karakters, want ons maak nou hierdie groot beloftes voor God,” sê sy.

Dit was “aaklig” om die gehate Farah te speel, vertel dié ma van ’n 12-jarige dogter. “Dit het my ontstel as mens, maar ’n mens kan nie die liefde keer nie. Wat jy daarmee doen, kan jy. ’n Mens het altyd ’n keuse.”

Al kan die driestuks nie verklap hoe die pad vorentoe lyk nie, is een ding seker: Die Samsodiens gaan nooit weer dieselfde wees nie. Soos Cedwyn dit stel: “AB moet homself redeem, want ek is nie baie impressed met hom nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe