Toe die bruid enkele ure voor die troue nog skoonveld is, is gevrees sy het die hasepad gekies . . .

Maar die rebelse Carmen Fourie, gespeel deur Desiré Gardner (32), het tot almal se verligting op die nippertjie opgedaag vir haar groot dag op 27 Julie in die fiktiewe buurt Ruiterbosch.

Sy was net betyds om blitssnel in ’n asemrowende bruid omskep te word in haar klassieke, sjiek wit rok met ragfyn kant en kralewerk, en ’n hidjab om haar gesig.

“Het sy nie mooi gelyk nie?” vra die akteur Irshaad Ally (40), wat Desiré se TV-bruidegom in die kykNET-sepie Suidooster speel.

Sy karakter, Rhafiek Samsodien, het ewe deftig op die troue gelyk, uitgevat in ’n ryklik versierde pak. Carmen het ’n dag voor die bruilof saam met haar vriendin Ciska (gespeel deur Amalia Uys) ’n uitstappie onderneem.

Haar motor het gaan staan en hulle was in die middel van nêrens gestrand.

Maar ’n desperate bruid maak ’n plan en hulle kon ’n rygeleentheid tot by haar bekommerde bruidegom kry, al was dit tussen hooibale agterop ’n plaasbakkie.

Rhafiek kon skaars sy oë glo toe hy Carmen in haar tradisionele Moslemtrourok sien. Foto: Kirk van Rooi

Die Suidooster-bruilof, op 27 Julie op die kassie, is die eerste Moslemtroue wat kykers in ’n Afrikaanse sepie sien.

“Die skrywers het die storielyn baie mooi hanteer,” vertel Desiré trots oor die huwelikseremonie tussen ’n bruid en bruidegom uit onderskeidelik ’n Afrikaanse Christenhuis en ’n tradisionele Moslemfamilie.

“Hulle het aspekte van albei karakters se kultuur- en gelooftradisies vir die geleentheid saamgevleg.”

Die stralende bruid aan haar pa se arm. Foto: Kirk van Rooi

Nadat Rhafiek die trouring aan Carmen se vinger gesteek het, het hy die nuwe mev. Samsodien geesdriftig gesoen.

Carmen se verdwyning was nie al drama in die aanloop tot hul troudag nie. Haar ouers, Estelle (Elsabé Daneel) en Gawie (Albert Maritz), was aanvanklik omgekrap oor die verlowing omdat hulle gedink het sy is oorhaastig.

Toe maak Rhafiek se eks, Nicci (Gerwen Simon), boonop haar opwagting en probeer haar voormalige liefde terugwen.

#sulkerukke #sukkerukke @suidoostertv #dalawatjymoet Rhafiek #dalawatjymoet

A post shared by Irshaad Ally (@irshaadally) on

Maar Carmen en Rhafiek se verhouding het die struikelblokke oorkom, en hul groot dag het bewys die liefde kan alles oorwin.

“Hulle is teenoorgesteldes, nie net wat agtergrond en godsdiens betref nie,” meen Irshaad. “Hul karakters se persoonlikheid verskil ook.”

“Sy is wild en onvoorspelbaar en moet effens bedaar,” meen Desiré. “Hy hou van struktuur en beheer, maar sy bring avontuurlustigheid in hom na vore.”

In die regte lewe het Desiré en haar man, Chris (34), die tegniese hoof by Suidooster, ’n Christelike troue gehad, terwyl Irshaad en Ayesha (31), ’n laerskoolonderwyseres, op ’n Moslemtroue in die eg verbind is.

Albei akteurs meen dis nie aldag maklik om TV-verliefdes te speel nie. “Ons is gelukkig dat ons mekaar vertrou,” sê Desiré, “dat daar wedersydse respek en ’n lekker energie tussen ons is.”

Terwyl Irshaad na sy TV-vrou aard, sien Desiré weer meer eienskappe van haarself in haar sepieman. “Ek verskil baie van Carmen. Ek is nie iemand wat hou van verken en avontuur nie,” sê sy.

Die skoonpa’s wens mekaar geluk terwyl die bruidspaar soen. Foto: Kirk van Rooi

“Ek hou daarvan om te beplan en te voel asof ek dinge onder beheer het.”

Irshaad sê hy sal in sy vrye tyd onverwags ’n opwindende uitstappie onderneem en hy vryduik en spieshengel graag: “Ek is avontuurlustiger as Rhafiek.”

Die verfilming van die troue was geen gewone dag op die Suidooster-stel nie. Al die tonele moes binne ’n dag geskiet word, want die stel moes spesiaal in ’n trouplek omskep word.

Imaam Kashief Damon van Belhar in die Kaap het die godsdienstige seremonie voor die kameras gelei, ekstras en trouklere is gereël, en kos is vir die onthaal berei.

“Ons het daardie aand tot halfelf verfilm,” sê Desiré. Dis haar derde sepietroue. Toe sy nog in Binnelanders op kykNET die verpleegster Daleen gespeel het, is haar karakter twee keer met dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) getroud.

“Dis regtig emosioneel,” vertel Desiré oor die ervaring van ’n sepietroue. “Dis ’n mooi oomblik tussen twee vriende wat ’n liefdestorie geloofwaardig wil oordra en almal sê die hele tyd: ‘Wow!’ ”

In dié stadium is Rhafiek en Carmen halsoorkop verlief. Is daar enige ooreenkomste tussen hul kassieverhouding en hul verhouding met hul lewensmaats?

Irshaad en Ayesha is sewe jaar getroud en het ’n dogter, Rahmah (5).

Irshaad by sy vrou, Aye­sha, en klein Rahmah. Foto: Verskaf

Desiré en Chris is al agt jaar getroud en is die ouers van James (6) en Robin (2).

Desiré en man­lief Chris by Robin (links) en James. Foto: Verskaf

“ ’n Mens gaan deur daai fase waar jou handpalms sweet en jy sterre in jou oë het,” sê Desiré, “maar my huwelik is nou heel anders as toe.”

Irshaad sê verhoudings verander mettertyd. “Jy is steeds lief vir die persoon, maar dis ’n ander soort liefde. Dit groei en verander en jy moet jou heeltyd tot die verhouding verbind om sterker anderkant uit te kom.”

Desiré het Chris in 2008 ontmoet op die Binnelanders-stel, waar hy toe nog as beligtingsregisseur gewerk het. “Hoewel ons kernwaardes dieselfde is, verskil ons ook baie,” sê sy.

“Ek wil iets uitpraat wanneer ons vassit; hy wil op sy eie tyd daaroor dink. Hy is impulsief; ek is nogal ’n beheervraat. Dit het lank geduur om te besef ek moet aanpas en die verskille tussen ons respekteer.”

Haar man het haar geleer dis in die haak “dat alles nie altyd perfek is nie”.

Irshaad sê mettertyd het die huwelik hom geleer om “jou maat te aanvaar vir wie hulle is. Selfs al hanteer ons die lewe anders, maak albei vir mekaar opofferings,” verduidelik hy.

“Toe ek destyds trou, was ek nog hierdie wilde akteur en TV-aanbieder wat gedoen het wat ek wou,” sê Irshaad, wat voorheen ’n veldaanbieder vir die SABC2-joernaalprogram Pasella was.

“Toe Ayesha by my intrek, was daar nog ’n kajak in my voorkamer en niks het by mekaar gepas nie. Sy het vir my standvastigheid gebring.”

Op Philadelphia, ’n dorpie tussen die Swartland se golwende graanlande noord van Kaapstad, het Desiré en Chris die volmaakte middeweg tussen die plaas- en stadslewe gevind sedert hulle twee en ’n half jaar gelede uit Johannesburg daarheen getrek het.

“Ons albei werk hard,” sê Desiré; “daarom is gesinsdinge naweke baie spesiaal vir ons.” Hulle koop dan graag deeg en geniet ’n “bou-jou-eie-pizza-aand”.

Soggens douvoordag gaan Desiré saam met hul Duitse herdershond, Sky, op ’n plaaspad draf.

Irshaad vertel hy hou van die see en Ayesha is weer lief vir die berg; daarom bring hulle baie tyd in die natuur deur.

“Rahmah sal elke geleentheid aangryp om bioskoop toe te gaan en is altyd ingelig oor die jongste animasieprent wat sy moet sien.”

Dis nie moeilik om te raai waar haar liefde vir flieks vandaan kom nie. Irshaad was pas weer op die silwerdoek in die rolprent Nommer 37 te sien.

A post shared by Irshaad Ally (@irshaadally) on

In dié misdaadriller vertolk hy die hoofrol van Randall Hendricks, wat op die Kaapse Vlakte in ’n bendegeveg met ’n mes gesteek en in die onderlyf verlam word.

Carmen en Rhafiek se troue is die derde bruilof in Suidooster, maar die vorige twee het albei op ’n ramp afgestuur.

Nicci het vir Tim (Marco Spaumer) voor die kansel gelos, en die glyjakkals Adam (Kevin Smith) het ná sy troue met Lee-Ann (Portia Joel) die pad gevat met al haar geld. Hy is nooit weer gesien nie.

Desiré en Irshaad kan nie verklap hoe hul karakters se huwelikspad vorentoe lyk nie, maar meen die paartjie bevind hulself nou in die wittebroodfase. “Ek dink nie Rhafiek of Carmen het self baie hard gedink oor wat voorlê nie,” sê Desiré.

Dan voeg Irshaad geheimsinnig by: “Hy vul nou ’n leemte in haar en sy in hom, maar wie weet wat sal gebeur namate hul verhouding ontwikkel . . .” 

TWEE KULTURE, EEN TROUE

“Die tema van die troue was harmonie en vermenging,” vertel Colin Howard, Suidooster se lynvervaardiger. “Carmen en Rhafiek se agtergrond verskil en ons wou wys dat die twee families ondanks hul verskille kan saamsmelt en gelukkig wees.”

Rhafiek het die huwelik ingevolge die Moslemgebruik voltrek voor ’n imam en mansgetuies, onder andere Carmen se pa, Gawie (Albert Maritz), en eers ná die bevestiging by sy bruid aangesluit.

Maar anders as op ’n tradisionele troue, waar die plegtigheid in die moskee plaasvind en die bruid elders wag, was Carmen in dieselfde vertrek as haar aanstaande – hy het net nie omgedraai om na haar te kyk voor die bevestiging afgehandel is nie.