Dit is net die begin van groot drama vir die twee dokters van Pretoria wat hulself in die middel van nêrens, diep in die Kongo, by ’n veldhospitaal bevind. 

Benewens die aanpassing van die besige stad na die boendoes, kry die twee Binnelanders-karakters met baie meer te doen as waarop hulle hulself voorberei het. 

“Vegtende faksies, ‘n geslote kabinet, twee onbekende dokters en ‘n rowwe landskap is maar net van die dinge waarmee die twee dokters gaan kennis maak sodra hulle in die Kongo land,” verklap Ernst Swart van Binnelanders in die persverklaring oor 'n storielyn wat baie drama en intrige beloof. 

Binnelanders se geliefde Elana Bester (gespeel deur Ilne Nienaber) en Steve Abrahams (Clint  Brink) se lewens gaan vandeesweek omgekeer word wanneer hulle die onstabiele terrein van die Kongo aandurf om by ’n veldhospitaal hulp te verleen.

“Daar wag ‘n tawwe tyd op Elana en Steve in die Kongo, maar selfs nog ‘n tawwer tyd op hul geliefdes in Pretoria, want ver in die vreemde is kommunikasie nie altyd so kristalhelder – of beskikbaar – nie.” 

Buiten die nuwe gevare en die aanloklike drama kan kykers ook uitsien na ’n handjie vol nuwe karakters doer in die vreemde, onder andere dr. Charles Feeny (Conrad Kemp) en die rabbedoe Jax Davids (Kim Syster). 

Ander bekende gesigte, soos Nyaniso Dzedze, wat bekend is vir sy rol op e.tv se Ashes to Ashes, en opkomende akteurs soos Perebo George en Lowembo Takoy sal ook in die Kongolese tonele te sien wees. 

Die nuwe twis is reeds in Mei in Suid-Afrika op 'n plaas naby die Hennopsrivier verfilm. 

“Party oggende was dit regtig koud, en dan moet ‘n mens maak asof jy in ‘n snikhete Kongo is,” sê Ilne. 

“Gelukkig was die grimeerkunstenaars daar om te help met die sweet en om die ‘hitte’ op ons lywe uit te beeld, en die res van die span het gereed gestaan met ‘n kombersie of twee vir wanneer die tonele klaar verfilm is.”

“Dit was bitter koud, maar die sweet loop! Om buite te skiet is heelwat anders as in die ateljee, want jy kan interaktief wees met jou omgewing: alles voel net soveel meer werklik,” beaam Clint.