Die akteur Dirk Stoltz (50) is nou te sien as die selfversekerde sakeman DeWet Basson in Hillside wat die Welman-huis gekoop het. Hy beloof om al die Hillside-inwoners en kykers aan die raai te hou oor wat hy volgende in die mou voer.

Dirk, wat drama aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie studeer het, sê dis wonderlik om na 16 jaar terug in Hillside te wees.

"Ek is baie bly en baie dankbaar. Dis soos manna uit die hemel," sê hy.

Kykers sal sy karakter onthou as Sandra Stutterheim (Heléne Lombard) se destydse handlanger, wat ook verlief was op haar, vertel Dirk.

Heléne Lombard het die rol van die bose Sandra Stu
Heléne Lombard het die rol van die bose Sandra Stutterheim vertolk. Foto: Netwerk24

Die karakter het intussen 'n groot gedaanteverwisseling ondergaan, sê hy.

"Hy het intussen grootgeword, maar lelik grootgeword. So hy kom terug met baie planne, om baie dinge te doen.

"Ek dink die tyd is nou reg. Die herinneringe van toe hy vroeër daar was spook dalk nou by hom. Hoekom presies, sal ek nog nie kan sê nie," sê Dirk.

DeWet gaan kykers vasgenael voor die kassie hou en vermaak met sy duistere verlede en manipulerende truuks.

Laan-kykers sal gou agterkom dat DeWet tot uiterstes sal gaan om sy verlede weg te steek en sy nalatenskap te beskerm, lui 'n verklaring van 7de Laan.

Die Welman-huis het al ’n paar "skurke" opgelewer soos Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter), wat tans in die tronk sit vir die moord op die Beleef-kelner Ben (Louis Auret).

Deirdre Wolhuter (7de laan) on her divorce and being
Deirdre Wolhuter. Foto: Lubabalo Lesolle

Kykers kan dieselfde slinkse planne verwag van die nuwe eienaar van die Welman-huis, sê Dirk. Daar lê hope kinkels voor, laat hy hoor.

Dirk is 'n bekende gesig op die kassie en in flieks. Hy het al met Hollywood-sterre soos Hilary Swank en Denzel Washington gewerk. "Om Denzel Washington op te foeter in die fliek Safe House (2012), is beslis een van die hoogtepunte van my loopbaan," vertel hy in 'n mediaverklaring van 7de Laan.

Dirk is 'n boorling van die KwaZulu-Natal dorpie Charlestown, maar het die afgelope ruk in Johannesburg gebly, vertel hy aan Huisgenoot. Net toe hy onlangs besluit het om na Somerset-Wes buite Kaapstad te verhuis, het hy weer 'n rol in 7de Laan gekry.

Dirk en sy vrou van die afgelope 16 jaar, Marilize, en hul negejarige dogter, Rogue, het die afgelope naweek Somerset-West toe verhuis en is nou amptelik Kapenaars.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.