M.C. Noedy, wat ’n groot gunsteling op Maak My Famous was, keer vanaand terug om kykers vir oulaas te vermaak in die finale episode van dié talentsoekprogram. ’n Wenner sal vanaand aangewys word.

Die opkomende rapper van Ocean View in Kaapstad het nie net onder moeilike omstandighede grootgeword nie; hy was ook al op die verkeerde pad en het in ’n stadium dwelms verkoop. 

Hy het intussen sy lewe reggeruk, en nou is daar geen keer aan hom nie. En sy verhoognaam Noedy? Dié staan vir “Never Over-Estimate; Define Yourself”.

maak my famous,m.c.noedy,emo adams
Die jong ster sê hy is dankbaar vir Maak My Famous. Foto: Verskaf

Hy het in 2011 as ’n gr. 9-leerder begin rap, en hy sê hoewel hy baie ups en downs beleef het, is hy dankbaar dat hy moeilike kinderjare gehad het. 

“Nou kan ek terugkyk en my storie vertel sodat ander mense wat hulle in dieselfde situasie bevind, kan sê: Daar is iemand wat weet hoe ek voel.”

Die rapper wat eers in 2017 matrikuleer het, sê al was dit laat, wou hy sy lewe verander om ’n goeie voorbeeld vir sy seuntjie, Abdul-Raheem Sabodien (4), te stel. 

“Ek wil iemand wees na wie hy kan opkyk en sê hy wil soos sy pa wees wanneer hy groot is. Ek het nie my eie pa baie goed geken nie en het by my ma grootgeword.”

“Dis nie wat ek vir my seuntjie wil hê nie. Ek wil hê hy moet sy pa 100% ken,” voeg hy by. 

Sy seuntjie en om homself te laat hoor, is volgens hom redes hoekom hy vir die program ingeskryf het. 

“Ek het die eerste keer van Maak My Famous gehoor toe my matriekonderwyser my daarvan vertel het. Ek het toe ingestem om in te skryf. Ek het glad nie ge-worry oor die pryse nie, maar enige blootstelling sou help,” vertel M.C.

“Ek het geweet ek het iets om te sê en wou ’n merk los, en ek kan met trots sê dat ek dit gedoen het.”

bernice west,m.c.noedy,maak my famous
Bernice West en M.C. Noedy het gesorg vir hoendervel met hul gesamentlike optrede. Foto: Verskaf

Die jong rapper het die top-10 van die kompetisie gehaal.

Oor sy ervaring van Maak My Famous sê hy: “Ek het later besef dat dit nie net ’n kompetisie is nie; die mense gee regtig om vir jou. Die mense saam met wie jy werk, is ook later soos ’n familie wat jy nooit gedroom het jy sou hê nie.”

Emo Adams het tydens die program vir hom geld aangebied, maar hy het verkies om liewers in die kompetisie aan te bly as om dit te aanvaar. 

M.C. sê dit was vir hom belangrik om die kans te vat en liewers aan te bly, want geld hou nie vir altyd nie. 

“Die geleentheid wat Emo Adams, Maak My Famous en kykNET my gegee het, sal my vir altyd bybly.”

“Hoewel die geld lekker sou wees, was die journey die moeite werd. Ek is bly ek het die regte keuse gemaak,” sê hy. 

Die lewe ná Maak My Famous klink vir die jong rapper ook baie belowend. 

“Ek beoog om musiekoptredes te doen, musiekvideo’s te maak, T-hemde, CD’s en pette te verkoop om my handelsnaam te bou,” vertel hy trots.

  • Die regstreekse finaal van Maak My Famous word op 11 Julie 20:00 op kykNET en kykNET&kie uitgesaai en mense kan tot Dinsdag 9 Julie vir die top-2 stem.