Die 16de seisoen van die kompetisie het Sondagaand om halfses op Mzansi Magic (DStv kanaal 161) begin. Dié jaar se oudisies vir die reeks is voor die inperking in Maart verfilm. Die Moederstad was eerste aan die beurt om Suid-Afrika te vermaak. 

Sibabalwe het van Oos-Londen gekom om haar oudisie in Kaapstad af te lê. Haar weergawe van die gospelliedjie “His Eye is on the Sparrow” het daarvoor gesorg dat sy ’n goue kaartjie losgeslaan het. 

“Ek kom uit ’n musikale agtergrond en almal in my gesin kan sing. Ek was nog altyd lief vir musiek,” vertel Sibabalwe aan Huisgenoot. 

zozibini tunzi,idols
Sibabalwe was nog altyd lief vir musiek. Foto: Verskaf

As kind was sy baie skaam en het musiek gebruik om haarself uit te druk, maar baie min mense weet eintlik sy kan sing.  

“Ek het nog nooit in die openbaar voor mense opgetree nie. Dit is eintlik die eerste keer dat ek voor ’n groot gehoor opgetree het. Baie mense was eintlik geskok dat ek kan sing,” sê sy. 

View this post on Instagram

#TSRLetMeFindOut: #ZozibiniTunzi a.k.a #MissUniverse be out here killing it with the vocals!! ???????? (??: @missuniverse)

A post shared by The Shade Room (@theshaderoom) on



Zozibini het kort ná haar kroning as Mej. Heelal haar Instagram-volgelinge gaande gehad toe sy wys sy kan ook sing. Sy het hulle beïndruk toe sy op haar Instagram Stories video’s van haar gedeel het waarin sy die Amerikaanse sangeres Beyoncé se liedjie “Sandcastles” sing. 

Selfs die Amerikaanse skinderblad The Shade Room het dié video van Zozi wat sing op hul Instagram-blad met 20 miljoen volgelinge gedeel. Hierby skryf The Shade Room dat Zozibini beïndruk met haar sangtalent. 

Dis juis Zozi wat haar suster aangemoedig het om vir Idols in te skryf. 

“Ek het gevoel dat dit die ideale tyd is om net te doen waarvoor ek lief is en om mense te wys ek hou van sing en dat dit my passie is.” 

“My suster het my ook aangemoedig om uit te gaan en my drome na te jaag en om myself as't ware in die samelewing te 'sement'. Ek het gedink nou is die perfekte tyd.” 

Zozi was ook die eerste een wat sy gebel het om die goeie nuus te deel dat sy deur is na die volgende ronde. 

Die skoonheid was uit haar vel van opgewondenheid.

“Ek is trots op jou. Ek weet hoeveel jy dit wil hê en hoeveel jy dit nodig het,” sê Zozi tydens die video-oproep vanuit haar woonstel in New York. 

Sibabalwe het in trane uitgebars.

“My familie was nog altyd baie ondersteunend in alles wat ons doen. Ek is baie geheg aan my suster en sy het nog altyd geweet wat musiek vir my beteken,” sê sy oor daardie emosionele oomblik tussen haar en Zozi.