Uit die hoek van haar oog sien sy die noodlig op die kragbreker flikker. En met ’n dekade se ervaring as elektrisiën agter die rug weet sy wat gebeur: Dis ’n kortsluiting op die kragbreker waardeur 400 volt stroom.

Binne ’n millisekonde kan sy onherkenbaar verbrand of dalk selfs sterf.

Die 46-jarige Christel Rawstorne draai haar gesig weg, knyp haar oë toe en voel die hittegloed aan die linkerkant van haar gesig en nek. Sy val op die grond neer.

Die laaste wat sy onthou is die brandreuk in haar neus en haar ore wat suis van die knal.

Later daardie dag herwin sy haar bewussyn in die waakeenheid van die Life Springs Parkland-hospitaal. Sy lééf, is haar eerste gedagte. Maar sy staal haar vir wat sy dalk sal sien wanneer sy in ’n spieël kyk.

Dit was 18 maande gelede.

Ou wonde

In November verlede jaar het Christel onverwags die trauma van dié oomblik herleef toe sy sien hoe ’n handgranaat in die gesig van die 7de Laan-karakter Connie (Quinne Brown Huffman) ontplof. Connie word met brandwonde aan haar gesig gelaat, nes Christel daardie dag toe die blou elektriese vlam haar getref het.

“Die voorval het al die ou wonde oopgekrap – en dit op die punt toe ek dink ek het lank reeds vrede gemaak met wat gebeur het,” sê Christel oor dié toneel in die SABC2-sepie.

Maar wat haar die meeste ontstel, is Connie se bykans psigotiese reaksie op haar verminking.

“Ek kon nie glo hoe Connie optree nie. Ek was self daar; ek moes self wroeg met die idee dat my vrouwees geskend is. Maar so dramaties was ek nie. My persoonlikheid het nie skielik verander nie; dit het my vreeslik ontstel.”

Ander kykers voel ook so.

'Ek wil net hê hulle moet deegliker dink oor storielyne soos dié, iets wat deur iemand beleef is, want dit maak seer as dit nie reg vertel word nie' - Christel

“Connie is ’n gevaar vir die samelewing. Hoe sy nou optree, is nie normaal nie. Sy moet óf gly, óf die skrywers moet seker maak die ou Connie kom terug,” vertel Anrika Laas aan Huisgenoot.

En Isabel Verwey skryf: “Ek het my gesig, arms en borste gebrand (en my hare afgebrand) en was ses weke lank in die hospitaal. Twee dae ná my ontslag het die kollege begin en het ek as eerstejaar ingeskryf. Ek het etlike kere vir plastiese chirurgie gegaan, maar het steeds baie letsels.

“Ek het nooit soos Connie opgetree nie. Dis onnatuurlik.”

Christel som dit so op: “Ek wil net hê hulle moet deegliker dink oor storielyne soos dié, iets wat deur iemand beleef is, want dit maak seer as dit nie reg vertel word nie.”

Sielkundig en fisiek

Die karakter Connie het eindelik tot haar sinne gekom en besef sy moet haar regruk en met die lewe aangaan. Sy het selfs vir Emile (Christopher van der Westhuizen) verskoning gevra oor haar manipulerende gedrag teenoor hom; dat sy hom in ’n vrou wou omskep, nes die model wat sy destyds was, en nie geskend soos nou nie.

Die sielkundige wonde is aan die heel word, maar sy gaan nog lank met die fisieke skade loop en dra steeds ’n pleister aan haar gesig.

Die dag van 26 Julie 2017 is in Christel se geheue vasgebrand.

Sy was besig met instandhouding by die Johannesburgse wateraanleg, vertel sy by die Oos-Randse gastehuis waar sy tydens haar werkweek woon. Naweke is sy by haar gesin op Middelburg, Mpumalanga.

“Ons moet die kragbrekers van tyd tot tyd toets om seker te maak daar is geen probleem nie. Daardie dag was daar ’n probleem; ’n grote,” sê sy. Christel, wat vandag steeds by die wateraanleg werk, wil nie uitwei oor wat dalk die kortsluiting kon veroorsaak het nie.

Sy was lang oomblikke nog by haar bewussyn nadat sy op die grond neergeval het.

“Ek onthou hoe ek met bewende hande aan my gesig gevat het, toe’s my vingerpunte swart.”

Dit het haar laat hoop haar gesig is net swart geskroei en dat dit “afgevee” kan word.

“Maar toe al my kollegas by die aanleg skielik om my saamdrom, het ek geweet dis ernstig.”

Hulle het haar in ’n bakkie gelaai en hospitaal toe gejaag. Toe sy daardie aand haar bewussyn herwin, het dokters haar vertel sy is gelukkig sy leef.

“My gesig en nek was in verbande toegedraai. Dit was styf. Die eerste ding wat ek by dokters wou weet, is of my ooglede afgebrand het. Dit het nie.”

Op foto’s wat kort ná die voorval geneem is, kan ’n mens duidelik sien hoe die vlamme haar haar gesig verskroei het.
Christel was twee weke lank in die hospitaal.

’n Maand lank het sy geweldige pyn ervaar, sê Christel. Soms was sy moedeloos. Maar nooit het sy ’n persoonlikheidsverandering ondergaan soos Connie nie. Sy druk met ’n sneesdoekie teen haar oë.

“Ek dink ek sou moed opgegee het as dit nie vir my man en kinders was nie. My kollegas, vriende en die hospitaalpersoneel het my ook help moed hou.

“Hulle het my laat besef ek kan nie vir God of die mensdom kwaad wees omdat hierdie ding oor my pad gekom het nie. Dis waarom ek so vies is vir Connie; haar optrede krap ou wonde oop; dit laat kykers dink jy kan nie deur so ’n ding kom nie.

“Sy laat dit lyk of so ’n voorval jou wêreld verswelg; asof dit die einde is. Maar dit is nie.”

Christel is in middel Augustus 2017 uit die hospitaal en is vroeg September terug werk toe. In 2018 was sy drie keer terug hospitaal toe, onder meer vir ’n veloorplanting aan haar nek en om die verdikking van haar nekletsels te verklein.

Sommige dae sukkel Christel nog met haar selfbeeld.

“Dit pla my nog, dié verskriklike letsel aan my nek,” bieg sy.

“Soms is ek bang om winkel toe te gaan. Ek wonder gereeld wat mense sal sê as hulle my so sien; of hulle dan anders teenoor my sal optree. Dis tog my voorkoms, my vrouwees. Enigiemand wil mooi voel en sommige dae voel ek nie so nie.

Die letsels aan haar nek en gesig.

“Ek het ’n wonderlike gesin, vriende en kollegas wat my steun. Ek het berading gekry en besef ek kan myself nie toelaat om in ’n donker plek te beland nie.”

Dis waarom sy as jare lange aanhanger van 7de Laan in die sosiale media na die sepievervaardigers oor Connie se storielyn uitreik.

“Nadat die granaat in Connie se gesig ontplof het, het ek aande saam met haar omgehuil. My hart was stukkend; soveel van my eie seer was vlak. Maar nou is ek ontsteld. Wat ek liewer op die kassie sou wou sien, is ’n storie van hoop, nie iemand wat almal van haar wegstoot, nie meer in haarself glo en sommer ’n nuwe persoonlikheid kry nie.

“Nou sit hoeveel kykers saans in hul sitkamers, mense wat deur soortgelyke trauma is, en twyfel self of hulle ná so iets kan opstaan en aanhou leef.”

Dan dink sy ’n oomblik na, en wys na die letsel aan haar nek.

“Eintlik moet ek ook ophou mor oor ’n letsel en besef ek is gelukkig . . . Gelukkig om te leef, want dis ’n voorreg wat soveel ander ontneem word.” 

7de Laan: wat is regte skoonheid?

Die sepievervaardigers is bewus van kykers se irritasie met Connie, sê Kayleen Bessit, ’n woordvoerder vir 7de Laan.

“Ons sien dit deur die kommentaar op ons amptelike Facebookblad. Kykers is veral geïrriteer deur haar manipulering van Emile.”

Sy sê sepiekykers se kommentaar word in ag geneem wanneer toekomstige storielyne beplan en geskryf word.

“Die storielyne word twee maande vooraf geskiet en dis nie moontlik om dit te verander nie.”

Hanli Rolfes, aktrise en hoofdraaibroekskrywer, sê 7de Laan wou die idee uitdaag dat ’n vrou se voorkoms een van haar grootste bates is; daarom het hulle Connie, in die sepie ’n voormalige model, vir dié storielyn gekies.

“Die karakter se hele lewe was gebou op die idee dat sy mooi is in die oë van ander. Die gesigbesering het haar oortuigings oor haarself uitgedaag.”

Draaiboekskrywers wou juis hê die storielyn moes kritieke vrae oor die samelewing laat ontstaan, sê sy.

Vir navorsing is onderhoude gevoer met ’n sielkundige, plastiese chirurg en twee vroueslagoffers van soortgelyke voorvalle.

“Ons wou weet: Wat is regte skoonheid? Kan ’n vrou wat haar altyd as fisiek aantreklik beskou het, haar perspektief verander en haarself waardeer vir die ware innerlike skoonheid wat sy het?

“Alle storielyne word geskryf deur die karakter in uitdagende omstandighede te plaas. Die karakter beweeg van probleem tot probleem en vind dan ’n manier om die probleme te hanteer.

“Soms probeer die karakter om probleme op ’n verkeerde en ontwrigtende manier op te los, maar wanneer positiewe boodskappe gekommunikeer wil word – dis sentraal tot 7de Laan se waardes – sal die karakter eindelik tot ’n dieper begrip kom, met ’n nuwe stel gesonder oortuigings.”

Foto's: Sharon Seretlo, verskaf