Talle kykers van die kykNET-sepie Suidooster het hulle die afgelope paar dae tot die sosiale media gewend om gal te braak oor die manewales van die akteur Cedwyn Joel en die aktrise Lee-Ann van Rooi wat ogies maak vir mekaar en op skelm afsprake gaan sonder dat sy vrou, Mymoena (Jill Levenberg), daarvan weet. 

Volgens Cedwyn het sy karakter AB se gevoelens vir Farah hom heeltemal onkant betrap. 

“Ek dink nie hy weet wat hom getref het nie. Hy kan nie goeie besluite neem nie, want dit lyk half die vrou het ’n spell op hom. Hy kan nie vir haar nee sê nie, en dit wys net hoe sy al onder sy vel geklim het.” 

lee-ann van rooi,suidooster
Farah verkoop haar skoonheidsprodukte in AB se apteek. Foto: kykNET/Suidooster

AB voel natuurlik ook baie skuldig oor hy vir sy liefdevolle vrou moet jok oor hoekom hy nie opdaag vir etes nie of hoekom sy humeur deesdae so kort is. 

“Hy voel sleg daaroor omdat hy die voorstander is van die waarheid en om die regte ding te doen, en hier doen hy verdomp die teenoorgestelde,” sê Cedwyn. 

Die aktrise Lee-Ann van Rooi sê as kykers nie kwaad is vir die drama wat haar karakter die afgelope paar weke in Suidooster veroorsaak het nie, doen sy nie haar werk reg nie. 

“Ek is baie bly dat kykers oor die algemeen oor die saak praat en hulle sê sê. Op die oomblik is dit net die Mymoena’s van die wêreld wat daaroor praat. Ek wag nog vir die AB’s en Farah’s om kop uit te steek,” vertel sy laggend. 

cedwyn joel,suidooster
AB se gevoelens vir Farah het hom onkant gevang. Foto: kykNET/Suidooster

Sy beskryf haar karakter as iemand wat mooi is van buite, maar wat ’n verskuilde agenda het. 

“’n Mens moet binne-in jouself gaan om te dink waar moet ek die karakter plaas of ek moet dit só speel sodat mense kan verstaan hoekom sy dit doen en hoekom sy chaos veroorsaak.

“Daar is mense soos sy in die wêreld, en as ons nie kan verstaan waar vandaan sy kom nie, is ons ook op die verkeerde plek om haar heeltyd te oordeel,” sê Lee-Ann.

Kykers het die aktrise al in die openbaar uitgevra oor die drama wat Farah op Ruiterbosch veroorsaak, maar sy is al gewoond daaraan dat mense haar op straat voorkeer oor die karakters wat sy speel. 

lee-aan van rooi,suidooster
Farah stel die week 'n ultimatum aan AB. Foto: kykNET/Suidooster

Mense het dit destyds gedoen met die karakter Maggie Cloete in Sara se geheim. Lee-Ann spot en sê die volgende rol wat sy moet vertolk is dié van ’n ouma, want sy is moeg daarvan om die “bad girl” te speel.

“Farah is ’n swaar karakter om te dra, maar iemand moet die rol vertolk,” sê die aktrise. 



Volgens Wilmer Müller, die publisiteitsbestuurder van Suidooster, is dit te verwagte dat kykers woedend is vir Farah en AB aangesien die Samsodiens een van die geliefdste sepiefamilies op televisie is. 

“Ja, AB en Mymoena is al in die verlede deur ’n uitdaging of twee in die gesig gestaar en hulle het dit oorkom omdat hulle waarlik lief is vir mekaar maar nou lyk dit nie meer so seker nie. Dit is dus te verstane dat hulle ontsteld is oor AB wat lyk asof hy ’n affair begin.” 

lee-ann van rooi,suidooster
Farah het 'n verskuilde agenda. Foto: kykNET/Suidooster

Dis juis ontstellend vir kykers, want AB was nog altyd ’n gelowige man wat almal rondom hom herinner aan hoe belangrik familiewaardes is. 

“Namate die storie ontwikkel, gaan daar nog ’n interessante kinkel of twee wees dit gaan kykers dalk skok, maar die doel daarvan is eintlik om te wys hoe kompleks verhoudings is en ook wat die rol van geloof speel,” sê Wilmer.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe