In die voorlaaste episode het kykers vanaand gesien hoe die boere en hul kuiermaats in Plettenbergbaai vakansie hou. Intussen het Huisgenoot by Leah gaan uitvind watter oomblikke het dié seisoen vir haar spesiaal gemaak.

“Dit is letterlik soos ’n wipplank,” vertel die blonde aanbieder as sy terugdink aan al die kronkelpaaie wat in die seisoen gestap moes word om vir die vyf boere liefde te probeer vind. 

"Die onsekerheid knaag maar aan almal en die moegheid neem ook soms oor. Alles dra by tot die spanning.”

Dit is dus geen wonder dat Leah ook gereeld moes wal gooi teen die trane wanneer van die kuiergaste die program moes verlaat nie.

“Elke liewe pasmaat was vir my so spesiaal en ongelooflik op hul eie manier,” vertel Leah. “Dis regtig braaf van hulle om in te skryf en dan sien jy hoe hulle seergemaak of teleurgestel word. Dis aaklig.”

Leah geniet dit om saam met Theunis na sy briewe t
Leah geniet dit om saam met Theunis na sy briewe te kyk.

Sy dink veral aan Marcia wat vir boer Theunis gesê het dat sy liewer nie op die plaas gaan bly nie ná sy die boer se finale keuse was.

“Theunis was so teleurgesteld en dit het hom werklik onkant gevang. Jhelize het ook slegs met net een onderhoud diep in my hart gekruip en dit was vir my sleg om haar te sien gaan.”

Maar die grootste skok van die seisoen is beslis toe Hester uit haar eie besluit het om boer Hentie se plaas te verlaat.

Elke deelnemer was vir haar spesiaal en op hul eie
Elke deelnemer was vir haar spesiaal en op hul eie manier uniek, vertel Leah. Hier is sy saam met Boer Graham.

“Ek het glad nie Hester se besluit sien kom nie,” vertel Leah nou. “Maar die manier hoe Hentie en Hantie dit hanteer het, het my baie beïndruk.”

Nog ’n oomblik wat haar hart vermurwe het, is toe boer Damian vir Andrew kies en hy tydens die onderhoud sy hand op Andrew se been sit.

“Die respek, verligting en geluk; alles het in daardie oomblik gewys,” vertel sy.

Andrew is baie opgewonde dat hy nog langer by Dami
Andrew is baie opgewonde dat hy nog langer by Damian op die plaas kon bly.

Hoewel boer Gerrit nie genoeg briewe ontvang het om deel van dié seisoen te wees nie, sal Leah nooit hul ontmoeting vergeet nie, al wil sy baie graag!

“In ons drukkie het my haarknippies aan my trui vasgehaak dat my nek letterlik agtertoe gebuig gebly het. Ek dink ek het vir ’n oomblik soos die boggelrug Quasimodo gelyk,” lag sy.

En nes die deelnemers het Leah ook meer van haarself geleer soos die seisoen verloop het.

“Jy is ook ver van jou mense af en werk met regte emosies en harte. Ek het opnuut perspektief oor die lewe en liefde gekry,” vertel Leah, wat in die noordelike voorstede van Kaapstad woon saam met haar man, Hennie van Niekerk, en hul twee hondekinders, die Jack Russells Lila en Muggie.

“Om jouself te wees is so belangrik, en hierdie seisoen het dit net vir my weereens bevestig.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.