Dit is vir haar 'n persoonlike misie om seker te maak dat elkeen van vanjaar se boere liefde vind, vertel die sanger en aanbieder Leah op die vooraand van die heel eerste episode van die werklikheidsreeks, Boer Soek 'n Vrou, waarin die boere bekendgestel word.

"Hulle is baie oulik en ek wil so graag vir elkeen liefde vind," vertel Leah. "En ek dink darem nie te veel is vol draadwerk en drama nie. Nie dat daar iets fout is met 'n bietjie drama nie."

Leah agter die Huisgenoot-musiekverhoog by die KKNK. Foto: Misha Jordaan

Ons gesels agter die skerms met Leah by die Huisgenoot-musiekverhoog by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn waar sy een van die kunstenaars is wat hier optree.

Die eerste episode waarin Leah die boere bekendstel word Sondag 1 April om 21:00 op kykNET uitgesaai en kykers word dan uitgenooi om vir hulle gunsteling-boer te skryf.

Sy sien baie uit om te sien wat die volgende paar weke gaan oplewer en staan nog aan die begin van die hele proses, maar sê sy kan wel verklaar dat elkeen van die boere verbind is tot die hele proses en dit ernstig opneem. "Ek sien baie uit na die briewe," sê sy en vryf haar hande speels teen mekaar.

Dag 1 van @boer_soek_n_vrou_ !!! ??????

A post shared by Leah [Official] (@leahmusieksa) on

Sy vermoed dat sy nog baie betrokke gaan raak by elke boer se pad en moet haarself maan om te seker te maak dat sy haar emosies en werk van mekaar skei. "Ek gaan seker snot en trane huil wanneer elkeen van die dames moet huis toe gaan."

Sy sê sy weet mense was baie lief vir die vorige aanbieder, Minki van der Westhuizen, en dat daar baie verwagtinge is, maar gaan net deur die hele proses probeer om ten volle haarself te wees.

Minki het darem so ’n bietjie raad met haar gedeel. "Sy het gesê ek moet saam met die boere huil en lag, want dit is ’n avontuur. En dit is!"