lee-ann van rooi in suidooster
'Suidooster' se Farah op haar troudag. Foto: Erina Niemand

Sedert AB en Farah se troue op Woensdag, 7 Oktober is daar nie meer so ’n groot bohaai oor haar karakter in die sosiale media nie, sê Lee-Ann. 

“Ek dink mense het gehoop dat die troue nie sou gebeur nie en dat iemand soos Rhafiek of Mymoena die situasie kom red, maar dit het nie gebeur nie,” vertel die aktrise. 

“Dis amper asof mense nie kon glo wat gebeur het nie,” meen sy. 

Baie het hulle ontferm oor Mymoena (Jill Levenberg) wat vrede moes maak dat haar man volgens die Moslem-geloof ’n tweede vrou gevat het. 

Tog is Lee-Ann se Facebook-messenger, waar mense vir haar privaat boodskappe kan stuur, steeds gedeaktiveer. Sy het dit 'n paar weke gelede gedeaktiveer nadat mense vir haar lelike boodskappe gestuur het.

samsodiens in suidooster
Die Samsodiens was 'n gelukkige egpaar voor Farah op die toneel verskyn het. Foto: kykNET

“Ek het maar besluit ek gaan dit so los, dis glad nie ’n probleem vir my nie. So af en toe gaan ek op ’n social distancing van die sosiale media af om net ’n bietjie perspective te kry,” skerts sy. 

In baie van die direkte boodskappe wat sy gekry het, het mense goed gesê soos “ons hou nie van jou nie” of “jy is uiterlik mooi, maar lelik van binne”. 

“Mense kon haar nie fisiek afdruk nie; daarom het dit gegaan oor hoe aaklig sy is,” sê Lee-Ann.

“Iemand het byvoorbeeld gesê hulle kan maar nou wat van die Farah-vrou sê, maar een ding wat waar is, is dat sy ’n mooi vrou is.” 

“Ons het met haar looks gespeel, want die lokpunt vir AB was dat sy ongelooflik mooi is. Farah is ’n baie aantreklike vrou, sy trek mooi aan en haar doek was altyd on point,” vertel sy laggend. 

suidooster,lee-ann van rooi
Farah doen alles in haar vermoë om seker te maak AB bring so min moontlik tyd saam met Mymoena deur. Foto: kykNET


Ja, die goed wat mense haar soms toesnou, is vir haar moeilik om te hoor. “Dan besef jy mense verstaan nie dat jy ’n akteur is wat ’n karakter speel nie, maar soms wil mense ook net ’n bietjie fun hê.” 

Sy het al ’n paar keer lekker gelag vir die memes wat in die sosiale media rondgestuur is.

“Dit sê dinge soos weet Farah dat Mymoena Ellen Pakkies is? Toe vra iemand weet Mymoena dat Farah eintlik Maggie Cloete is van Sara se geheim? Albei het mos hul kinders vermoor,” vertel Lee-Ann. 

Dis vir haar wonderlik om te sien hoe die mense in die verskeie gemeenskappe hulself in die stories inleef en by die storielyn betrokke raak. 

“Dit wys dat ons die regte stories vertel. Ek hoop ook dat dit ’n ruimte is waar mense oor die situasie kan dink. Dit help ook nie ek is vies vir dit wat die mense sê nie. Ek het net my werk gedoen.” 

Kykers kan hulle soos gewoonlik gereedmaak vir baie vuurwerke in die komende weke. Farah doen juis alles in haar vermoë om seker te maak AB bring so min moontlik tyd saam met Mymoena deur. 

“AB is mos haar man en as dit mos jou man is, moet jy veg vir jou man,” vertel sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe