Advertensiemodel

Lise-Marié se eerste treë in die kollig was op 11 in ’n advertensie vir ’n groot klerekettingwinkel se somerreeks. Dís waar die toneelgogga gebyt het.

Matie

Dié pragtige slimkop het in 2015 ’n honneursgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het tydens haar studie die rol van Inge in Sara Se Geheim op kykNET losgeslaan.

Familievas

Haar familie is haar grootste ondersteuners. Haar ma, Susan Richardson, is ’n wiskundedosent aan die Universiteit van Johannesburg, en haar susters, Tarrin Jacobs en Jennilyn Bester, is onderskeidelik in die finansies- en gesondheidsbedryf.

TV-MAMMALIEFDE

Sy het baie respek vir die aktrise June van Merch, wat die rol van Sara vertolk. “June het die eerste dag op die stel my onder haar warm vlerk geneem,” sê sy.

“Sy het gesien ek is op my senuwees en na my toe gekom en gesê: ‘Toemaar, my bokkie, dit is nou jou beurt,’ ” onthou sy. June het elke dag seker gemaak dit gaan goed met haar, sê Lisa-Marié. Sy is ook ’n groot aanhanger van die aktrise Marion Holm.

Emmers vol talent

Lise-Marié is ook ’n sangeres en is die stem agter Sara Se Geheim se temaliedjie. Sy skryf ook teaterstukke wat sy soms self opvoer. Sy is boonop ’n akrobaat en danser én beplan om ’n digbundel te skryf.

Kyk dit
Die tweede seisoen van Sara Se Geheim is Dinsdae om 20:00 op kykNET.