Die program, wat deur die sangers Emo Adams en Tarryn Lamb aangebied word, het aan die begin van Junie ’n agt weke lange produksiebreek geneem weens die coronakrisis en die inperking. Dit was ook net nadat hulle vanjaar se top-10-deelnemers bekendgemaak het. 

View this post on Instagram

#MaakMyFamous keer op 8 Augustus 2020 terug ????? Lees meer op #LinkInBio

A post shared by Maak My Famous (@maakmyfamoussa) on

Kykers kan uitsien na heelwat opwindende veranderinge wanneer die program weer begin.

Dit sal voortaan regstreeks uitgesaai word, eerder as episodes wat vooraf opgeneem is soos met die eerste seisoen. Die program skuif na ’n nuwe tydgleuf, Saterdagaande om 20:00, maar sal steeds op kykNET (DStv-kanaal 144) sowel as kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai word. 

Optredes vind steeds by die Roxy Revue Bar by Grandwest Casino in Kaapstad plaas, maar daar sal geen gehoor teenwoordig wees nie. 

Tarryn Josephs, die publisiteitsbestuurder vir die reeks, sê dat elke mentor hul eie spasie by die Roxy Revue Bar sal kry van waar hulle die optredes kan kyk. 

Nog ’n groot verandering aan die reeks is dat kykers nou die geleentheid kry om te besluit wie elke week die kompetisie verlaat. 

“Kykers kry ’n aantal minute om te stem vir wie hulle dink moet huistoe gaan. Dis baie belangrik dat kykers nie hier deurmekaar raak en vir hul gunsteling stem nie. Stemme sal aanlyn gedoen word reg oor die land,” sê Tarryn. 

Sy voeg ook by dat niemand bekommerd hoef te wees oor die proses nie omdat die instruksies tydens die program herhaal sal word. 

Emo vertel hy is baie opgewonde en dankbaar dat hulle die geleentheid kry om tegnologie te gebruik om die reeks regstreeks te kan uitsaai en terselfdertyd die kykers te kan betrek. 

“Sover ek weet, is ons die eerste mense wat dit in Suid-Afrika doen: om te stem in real time van die huise af. Die wonderlike ding is dat mense van seisoen een af gevra het hoe hulle betrokke kan raak en dat hulle graag wil stem. En nou het covid-19 dit moontlik gemaak.

“Ons het ’n maatskappy van oorsee gekry wat hierdie moontlikhede ondersoek. So dit gaan opwindend wees, maar ek dink ook mense het ’n moeilike besluit om te maak. Want anders as in die eerste gedeelte van die reeks waar jy mense moes instem, moet jy nou stem vir die mense wie se optrede jy gedink het dit net nie op die aand gemaak het nie,” sê Emo. 

Hy voeg ook by dat die meeste uitdagings wat hulle ervaar het, het agter die skerms plaasgevind, en dit het verband gehou met die nuwe reëls rakende sosiale distansiëring. 

“Die deelnemers is maar gewoonlik alleen op die verhoog wanneer hulle optree, so daar is nie baie veranderinge in wat kykers op die skerm sien nie,” sê hy.

Intussen het Emo se mede-aanbieder, Tarryn Lamb, in die sosiale media vertel hoe bly sy is oor die terugkeer van die reeks. Sy't boonop met ’n splinternuwe haarstyl gespog.

“Goeiemôre! Ons is op die stel van Maak my famous. Dis baie vroeg vir my om uit die huis uit te wees, maar dis lekker om uit te kom vir ’n verandering,” het die sangeres van Ocean View in ’n video op haar Instagram vertel terwyl sy haar nuwe korter kapsel gewys het.