UITDAGENDE ROL

Matt vertolk die rol van Jamie Burns, ’n agtermekaar inwoner van Dorchester wie se donker geheime ná ’n dodelike motorongeluk oopgevlek word. Die speurder Harry Ambrose (Bill Pullman) probeer die legkaartstukke bymekaarsit.

“Jamie wil die goue seun wees, die jabroer, en ander tevrede stel,” sê Matt (42).


“Hy het ’n praglewe, ’n wonderlike vrou en hulle verwag ’n kind, maar hy is besig om van binne te sterf. Hy voel eensaam.”

Matt en Eddie Martinez, wat die rol van Vic Soto v
Matt en Eddie Martinez, wat die rol van Vic Soto vertolk. Foto: USA Network

Dit was die uitdagendste rol wat hy al vertolk het, erken Matt.

“Dit het beslis ’n sielkundige en fisieke tol geëis, maar ek dink dis waarop jy hoop as akteur.”

ROLMODEL

Hy het voorheen saam met Bill gewerk aan die fliek Walking Out van 2017, maar het nie tonele met hom gedeel nie.

Een van die redes hoekom hy die rol in The Sinner aanvaar het, was om by Bill te leer.

In ’n toneel saam met Bill Pullman. Foto: USA Netw
In ’n toneel saam met Bill Pullman. Foto: USA Network/Getty Images/Gallo Images

Bill was ’n “fantastiese rolmodel”, vertel hy. Hy het ook met die aktrise Jessica Biel saamgewerk, wat die uitvoerende vervaardiger van die reeks is en in seisoen een te sien was.

Jessica is getroud met sy verlangse neef, die sanger en akteur Justin Timberlake.

“Sy is fenomenaal. Sy’s ’n wonderlike baas,” sê Matt.

WEG VAN DIE SKERMS

Hy het as een van drie kinders in Texas grootgeword en het op hoërskool teaterwerk begin doen.

“Ek het net geweet dié is my mense. Ek het gedink ek gaan vir die res van my lewe in teater wees,” het Matt aan die tydskrif Out vertel.

Hy het in 2000, nadat hy ’n kunsgraad verwerf het, New York toe getrek.

Sy TV-deurbraak het gekom in die sepie Guiding Light.

Die akteur het in 2012 bekendgemaak hy is gay.

Matt, wat in ’n konserwatiewe Christenhuis in Spring, Texas, grootgeword het, het ’n brief aan sy ouers geskryf om te sê hy is gay.

Daarna het hy ses maande niks van hulle gehoor nie.

Matt is nou al nege jaar met die Hollywood-reklameagent Simon Halls (56) getroud. Hul drie seuns, Kit (15) en die 12-jarige tweeling Walker en Henry, is deur ’n surrogaat gebore. 

Matt en sy man, Simon Halls, saam met hul drie seu
Matt en sy man, Simon Halls, saam met hul drie seuns, Kit (agter) en die tweeling Walker en Henry. Foto: Instagram/@MattBomer

Kitsfeite
  • Byna 90 000 van sy aanhangers het ’n petisie onderteken in die hoop om hom in die hoofrol te kry in die stomende fliek Fifty Shades of Grey.
  • Hy het in 2002 die rol van Superman losgeslaan, maar die projek het deur die mat geval. Toe ’n fliek wel later gemaak is, het Brandon Routh die rol gekry in Superman Returns (2006).
  • Hy wil nie hê sy seuns moet kindersterre wees nie, maar “normale kinderjare” hê.
  • Matt glo in spoke. Toe hy in Santa Fe die fliek The Magnificent Seven geskiet het, het hy saans ’n groot lawaai gehoor. Hy het later gehoor dit spook in die hotel. Hy het toe salie in sy kamer gebrand en die spoke gevra om weg te gaan.
  • The Sinner begin op 22 Julie om 22:00 op M-Net
BRONNE: COLLIDER.COM, VARIETY.COM, BOOMSBEAT.COM, WONDERWALL.COM