Hoewel sy eers verlede jaar haar buiging as aktrise gemaak het, gaan Emma Corrin nie net Diana speel nie, sy gaan ook binnekort die rol vertolk van Jillian Jessup, ’n voormalige Mej. Suid-Afrika, in die fliek Misbehaviour, wat tans in post-produksie is.

In dié fliek beplan ’n groep vroue om 1970 se Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie in Londen te ontwrig.

Die nuweling Emma (23) – wat die rol van prins Charles se eerste vrou gaan vertolk – sê sy is baie opgewonde om Diana op die kassie te wees.

“Prinses Diana was ’n ikoon,” meen Emma en voeg by sy gaan haar bes probeer om die rol gestand te doen.

View this post on Instagram

overjoyed, over the moon and incredibly honoured ?? what a project to join @thecrownnetflix

A post shared by Emma Corrin (@emmalouisecorrin) on

Maar wie is Emma, die aktrise wat prins Harry en prins William se wyle ma in die vierde seisoen van The Crown gaan speel?

Emma is van Tunbridge Wells, Kent in Brittanje en het aan die Cambridge Universiteit studeer. Sy was voorheen te sien in die Britse drama Grantchester, wat Suid-Afrikaanse kykers op DStv op ITV Choice kan sien. 

“Ek kyk (The Crown) sedert die eerste episode, en om te dink ek gaan by nou die ongelooflike talentvolle akteurs aansluit, is so onwerklik,” sê Emma. 

Die reeks se skepper, Peter Morgan, is in sy noppies oor Emma se toevoeging tot die reeks.

“Emma het ongelooflike talent wat ons onmiddellik opgetel het toe sy ingekom het vir die oudisie vir Diana Spencer se rol.”

Emma het die onskuld en skoonheid van ’n jong Diana, sê Peter. 

Die vierde seisoen van The Crown word glo vanjaar uitgereik.

Dié seisoen sal fokus op die wel en weë van die koninklikes van 1964 tot 1976. Olivia Colman (45) vat oor by Claire Foy (34) in die rol as koningin Elizabeth II. Die bekroonde aktrise Helena Bonham Carter (52) sal nou die koningin se ontslape suster, prinses Margaret, in die plek van Vanessa Kirby (30) vertolk. 

Bronne: imdb.com, CNN, Mirror, The Guardian