Met sy blondekop het hy diep in sy aanhangers se hart ingekruip en menige vrou se knieë lam gemaak.

Bobby van Jaarsveld is selfs al Suid-Afrika se eie Brad Pitt genoem! Maar in die nuwe kykNET-komediereeks Mense Mense sien ons hom nou soos nog nooit tevore nie – met bruin hare.

Al het die gewilde sanger sy lyf al vantevore akteur gehou in flieks soos As Jy Sing en Liefling, is dit die eerste keer dat hy ’n hoofrol op die kassie losgeslaan het.

Boonop het hy self met die idee vorendag gekom vir dié reeks oor ’n klomp vriende wat almal in een woonstelblok woon, werk en kuier. Teenoor hom speel Lea Vivier, wat ons verlede jaar in die kykNET-sepie Binnelanders as Lika Bosch leer ken het.

Terwyl Bobby (31) skerts dat sy nuwe voorkoms min aftrek in sy en vroulief Annatjie (30) se huis kry, beloof dit om Lea se karakter twee keer te laat kyk.

“Daar is van hul eerste ontmoeting ’n ontsettend vriendelike en bekende vonk tussen die twee karakters,” vertel Lea (26), en Bobby voeg by: “Hulle is dadelik nuuskierig en belangstellend teenoor mekaar.”

Lea het ook ’n gedaantewisseling vir haar rol in Mense Mense ondergaan. Sy is van nature ’n brunet, maar haar karakter, Salomé, is blond, en pleks van ’n bob het sy lang lokke.

“Die groot verandering het my gehelp om ’n verkleurmannetjie te word en heeltemal in haar vel te klim,” sê sy oor haar karakter.

Aan die begin was sy nuwe voorkoms vir hom net so vreemd soos vir sy vrou, vertel Bobby. “Annatjie sê deesdae niks; ek dink sy is nou daaraan gewoond.”

Hul twee seuns, Sion (7) en Leben (5), het nie eens agtergekom hul pa is deesdae ’n donkerkop nie.

“Armani (sy tweejarige dogter) sou dit dalk raakgesien het as sy ouer was,” sê die pa van drie. “Maar die twee laaities stel nie in dinge soos my haarkleur belang nie.”

Die idee vir ’n Afrikaanse sitkom het Bobby ’n jaar gelede tydens ’n eilandvakansie op Zanzibar te binne geskiet. Hy het op die plek aantekeninge begin maak op ’n nota-app op sy selfoon.

“Ek het die konsep en van die karakterbeskrywings neergelê en ’n bietjie van ’n storielyn gehad. Komedie was nog altyd my gunstelinggenre,” verduidelik Bobby, wat ’n aanhanger van sitkoms soos How I Met Your Mother en Will & Grace is.

Nadat hy die oorsponklike konsep vir die reeks aan kykNET voorgelê het, het Nouvanaand Films sy idee tot Mense Mense uitgebrei. Dié produksiemaatskappy het ook die kykNET-komediereeks Hotel vervaardig waarin Bobby ’n gasrol gespeel het.

Maar selfs al was die reeks sy geesteskind, moes hy steeds soos enige akteur ’n oudisie daarvoor aflê. Hy speel die hoofrol van Rossouw, ’n kaalvoetboer wat uit die Oos-Kaap Goudstad toe trek nadat sy huwelik op die rotse beland het.

Daar trek hy in dieselfde woonstelblok in waar sy ou universiteitvriende Liesl (Crystal-Donna Roberts) en Julian (Solomon Cupido) woon en raak hy ook met Salomé en Sebastian (Reynardt Slabbert) bevriend.

Op die grondverdieping van die woonstelblok bedryf die eienaar van die gebou, Meintjie (Sandra Prinsloo), ’n klein bierbrouery, en die meeste van die karakters werk daar.

Bobby en Lea in ’n toneel saam met Sandra Prinsloo (Meintjie) en Reynardt Slabbert (Sebastian). Die reeks handel oor ’n klomp vriende wat almal in dieselfde woonstelblok woon, werk en kuier. Foto: Verskaf

Bobby beskryf sy karakter as “’n loveable loser” wat die beste in almal raaksien.

“Al is sy bedoelings goed, gooi hy dikwels die appelkar om en oordramatiseer hy die meeste situasies.”

Nes sy karakter loop hy graag kaalvoet, maar hy meen hy’s ’n “meer ontspanne en teruggetrokke ou” as Rossouw.

Anders as die gesoute akteurs wat saam met hom speel, het Bobby geen toneelopleiding ontvang nie. Lea, wat drama as vak geneem het vir haar B.A.-graadkursus aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad, reken dis eintlik ’n pluspunt.

“Ons akteurs dink dikwels te veel oor dinge,” verduidelik sy tydens ons onderhoud met die twee op die Mense Mense-stel in Johannesburg.

Dan sê sy vir Bobby: “Jy gooi jouself 100% in ’n toneel sonder al daardie teorieë en tegniese goed wat ons geleer het en heeltyd wil toepas.”

Haar karakter is die jongste van die klomp en naiëf, vertel sy.

“Maar Salomé is ook ontsettend passievol oor alles wat sy aanpak. Haar spontaniteit en impulsiwiteit is beslis dinge wat ek met haar deel, maar sy het ’n romantiese jeugdigheid wat haar verwagtings van die liefde betref. Sy droom van ’n ridder op ’n wit perd.” Dis iets wat die enkellopende Lea “nie met haar deel nie”.

Sy en Bobby sê albei dit was ’n voorreg om met veteraanakteurs soos Pierre van Pletzen, wat die regie behartig, en Sandra Prinsloo saam te werk. Sy sien al op na Sandra “vandat ek my eie naam kon spel”, vertel Lea.

“Ek vergeet soms dat sy nie so oud soos ek is nie, al is sy hierdie massiewe bron van kennis en ervaring, want sy beskik oor ’n ongelooflike energie en geesdrif.”

Die toneelgogga het Lea al as kind gebyt. “Ek en my twee susters het met ballet, drama, eisteddfods en gimnastiek grootgeword,” vertel sy van haar jeugjare in Melkbosstrand naby Kaapstad.

Ousus Trix (29) is ook ’n aktrise en het onder meer in die kykNET-reekse Waterfront en Sterlopers gespeel. Kleinsus Meije (20) is ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch.

Ma Adri is ’n Afrikaans- en dramaonderwyseres, pa Pieter ’n advokaat, en haar broer, Hermann (31), bestuur sy eie toerismeonderneming. Lea het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer.

“Ons het op hoërskool baie toneelgespeel,” onthou sy.

Die akteurs Viljé Maritz (Dirkie in Die Pro), Pietie Beyers (wat as dr. Deon Visser in Binnelanders te sien was), sy meisie, Anneke Weidemann (Jane in die rolprent die Wonderwerker), en Ludwig Binge (Hein in die fliek Johnny Is Nie Dood Nie) was almal saam met haar op skool.

Vandeesmaand maak Lea haar debuut op die silwerdoek in die fliek Wonderlus. Haar spel daarin het haar verlede jaar op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad die prys vir beste aktrise besorg.

Wanneer Mense Mense klaar geskiet is, keer sy vir ses maande na Binnelanders se stel terug om die rol van Lika te hervat.

Toe ons met haar en Bobby gesels, is daar nog net drie dae se verfilming oor. Ná sewe weke van halfvyf soggens opstaan om betyds op stel te wees, sien Bobby daarna uit om verlore slaap in te haal en meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

Dis albei se eerste hoofrol op die kassie en albei het ’n gedaantewisseling vir hul rol ondergaan. Foto: Martin de Kock

In Junie wil hy vir die eerste keer in vier jaar ’n volle album uitreik.

Dan is daar nog sprake van ’n nuwe fliekrol en ’n musiekwerklikheidsreeks, en in September begin hy en sy suster die sangeres Karlien van Jaarsveld (32) aan die tweede seisoen van hul VIA-werklikheidsreeks, In Jou Skoene, skiet.

Noudat dit tyd word om die mense van Mense Mense te groet, is dit veral die lekkerlag-oomblikke wat Bobby en Lea onthou. Hulle kan selfs lag oor die kere dat sy so meegevoer geraak het in die tonele dat sy hom “verskriklik hard” geklap het.

Bobby het self ’n paar glipse voor die kameras gehad.

“Rossouw praat glad nie soos ek nie. Hy gebruik baie idiome en vergelykings. Wat hy kwytraak, maak my soms heeltemal deurmekaar, en wat dan uitkom, is heel verkeerd!”

Nes vreemdelinge in die reeks soos familie word, het die akteurs tussen die lang ure, harde werk en grappe deur hegte bande gesmee.

“Dit voel asof ons almal nou familie is,” sê Bobby.

  • Mense Mense word van 9 April af Maandae om 20:30 op kykNET uitgesaai.
Foto's: Martin de Kock, kykNET; stilering, hare en grimering: Orli oh Meiri; Lea se rok, the source joburg