Mooi mense, moeilike kinders en ’n verhaal vol drama en verraad teen ’n agtergrond van rykdom en oorvloed.

Eindelik is die gewag vir die tweede seisoen van die bekroonde M-Net- en Showmax-reeks Big Little Lies verby, en al die gefolterde karakters is terug: die gespanne Madeline (Reese Witherspoon), die mishandelde Celeste (Nicole Kidman), die enkelma Jane (Shailene Woodley), die vrygees Bonnie (Zoë Kravitz) en die geldgierige Renata (Laura Dern).

Dié vroue van die Monterey Five, so gedoop vanweë die mooi seedorpie waarop hulle woon, probeer om in dié seisoen hul beste voetjie voor te sit, maar onder die blink oppervlak skuil donker geheime van mishandeling, ontrouheid – en nou die nagevolge van ’n moord.

Die eerste seisoen het geëindig waar Celeste se gewelddadige man, Perry (Alexander Skarsgård), by ’n partytjie geval het en dood is. Almal glo dit was ’n ongeluk, maar die vyf vroue weet van beter, en hulle moet nou met dié geheim saamleef.

Die moord spook by die vroue en bedreig hul eens gemoedelike vriendskap. Om sake verder te beduiwel maak Perry se ma, Mary Louise (Meryl Streep), haar opwagting en vra allerlei vrae . . .

Die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het die tweede seisoen geloof as ewe goed – dalk selfs beter – as die eerste een: “Dit bevat twee keer soveel donker humor en selfs sappiger drama wat die indrukwekkende rolverdeling ontgin – veral ’n uitmuntende Meryl Streep.”

TERUG OP AANVRAAG

’n Tweede seisoen was aanvanklik nie beplan nie, maar die vyf vroue se begeerte om weer saam te werk het dit gedryf, sê Nicole (52), wat saam met Reese (43) die uitvoerende vervaardiger is.

“En daar was ’n enorme aanvraag van kykers,” benadruk sy. Die skrywer van die reeks, David E. Kelley, het ook gevoel daar is nog baie om te sê.

“Ons het nie werklik met die vorige seisoen die hoofstuk afgesluit nie.”

Die vervaardigers moes toe Liane Moriarty, die Australiese skrywer van die boek, oortuig om nog ’n aflewering te skryf.

Sy het nie ’n opvolg geskryf nie, maar om aanhangers en die vervaardigers tevrede te stel, het sy ’n novelle van 50 000 woorde oor die karakters geskryf.

David het dit as grondslag vir die draaiboek van die tweede seisoen ingespan.

Nicole en Meryl
Reese saam met die skrywer van die boek Big Little Lies, Liane Moriarty (links). Foto: Gallo Images/Getty Images

DIE ROLVERDELING

Om weer saam te werk was soos om ’n ou paar pantoffels aan te trek, sê Reese. En dat almal uit hul eie lewenservaring kon put, het dinge makliker gemaak.

“Ek was geskei, het weer getrou, het kinders gehad. Ek het al baie geleef! Ek was so te sê al elke vrou in daardie reeks. En Nicole, Laura, Zoë en Shai – ons het almal al dinge beleef wat op elke karakter van toepassing is,” sê Reese.

Zoë se karakter, Bonnie, het dié keer ’n sentraler rol. “Sy gaan op ’n interessante reis,” verklap Nicole.

“Ons verken Bonnie se verlede, waaroor ek baie gelukkig is,” sê Zoë (30), wat dié karakter speel.

Crysta Fox en Zoe Kravits
Zoë en Crystal Fox, wat haar ma speel, in ’n toneel. Foto: HBO

“Ons leer meer oor haar familie en die moontlike rede vir haar optrede aan die einde van die eerste seisoen.” Bonnie was natuurlik die een wat Celeste se man by die partytjie gestamp het . . .

Laura se karakter, die fynbesnaarde Renata, is ook kwater as ooit. Haar man het al hul geld verloor – en geld is vir Renata baie belangrik.

“Ek weier om nie ryk te wees nie!” skree sy op hom toe hy erken hul gemaklike leefwyse staan einde se kant toe. Tog is daar ’n groot verandering in Renata se lewe. “Sy het nou vriende,” sê Laura (52).

Jane, wat ’n verkragting oorleef het, probeer met haar lewe aangaan. Sy werk by ’n akwarium. Shailene (27), wat dié rol vertolk, het dit destyds oorweeg om toneelspel vaarwel toe te roep voor sy die draaiboek vir die eerste seisoen ontvang en haar hart op die karakter verloor het.

Jane en Madeline
Shailene (links) en Reese in ’n toneel uit die tweede seisoen. Foto: HBO

VROUE AAN DIE STUUR

Die televisiereeks is Reese se geesteskind. Sy het die boekregte bekom en Nicole toe genader om dit saam met haar te maak. Hulle het besluit om self as vervaardigers in te spring omdat hulle gefrustreerd was met die tekort aan sappige rolle vir vroue in Hollywood.

Hulle is uitgesproke oor die behoefte aan meer flieks en TV-reekse waar vroue in beheer is. “Dis nie algemeen om vyf vroue in ’n projek te sien nie en dit behoort nie so te wees nie,” sê Nicole.

Dié twee het elkeen R14 miljoen per episode vir die tweede seisoen verdien en die ander hoofaktrises R7,5 miljoen per episode.

Nicole en Reese het nou saamgespan om nog ’n boek deur Liane Moriarty, Truly Madly Guilty, vir die silwerdoek te verwerk.

Dit gaan oor ’n bedrywige egpaar wat hul werk- en gesinslewe probeer balanseer.

DIE MERYL-FAKTOR

Om dié driemalige Oscarwenner op die stel te verwelkom was vir die res van die akteurs opwindend “en terselfdertyd intimiderend, want sy is ’n legende”, sê Reese.

 “Ek is al meer as 20 jaar in die rolprentbedryf en sy’t nie ’n gelyke nie. Sy is die nederigste, eerlikste en prettigste mens.”Maar haar karakter, Mary Louise, is die teenoorgestelde; sy is katterig en byna grillerig. Meryl onthou die oproep van haar agent: “Nicole wil jou iets vra.”

Sy het nie veel oorreding nodig gehad om die aanbod te aanvaar nie, want sy was reeds ’n groot aanhanger van Big Little Lies.

Nicole en Meryl Streep
Nicole (links) en Meryl het ’n groot waardering vir mekaar se toneelspelvernuf. Foto: HBO

“My agent het gevra: ‘Wil jy die draaiboek lees?’ Ek het nee gesê. Dis die beste ding op televisie.”

Nog ’n trekpleister was die feit dat Liane die karakter spesifiek vir haar geskep het.Nicole sê om saam met dié veteraan te werk is soos ’n meesterklas in toneelspel.

“Sy is nooit laat nie en is altyd gereed om te werk wanneer sy op die stel opdaag. En toneelspel is steeds haar groot liefde. Sy is uiters professioneel.”Meryl onthou haar eerste dag op die stel toe Nicole se spel so intens was dat dit haar byna bang gemaak het. “Sy het weggespring met ’n toneel waar sy ’n ineens

AKTUELE KWESSIES

Die tweede seisoen delf weer in die eerste een se tema van huishoudelike geweld en hoe dit die lewe van vroue beïnvloed. Dit ondersoek ook posttraumatiese stres, iets waarmee Bonnie sukkel.

“Ek het iemand vermoor, onthou?” antwoord sy toe Madeline haar in die eerste episode vra of sy oukei is. “Dis swaar.”

Die reeks word geloof omdat dit moeilike kwessies takel, en dis iets wat Liane in haar boek wou doen. Sy het self mishandeling ervaar en wou ’n sterk karakter uitbeeld.

Celeste en Perry
Alexander Skarsgård en Nicole in ’n toneel uit die eerste seisoen. Foto: HBO

“Toe ek die eerste keer met Nicole gepraat het, het ek vir haar gesê: ‘Wat jy ook al doen, maak seker jy slaan terug.’ Dit was vir my baie belangrik.

“Moenie ’n mooi vrou wees wie se man haar rondklap nie – wys die kompleksiteite van die verhouding en dat sy aandadig voel omdat sy terugslaan.” 

Bronne: Variety.com, Forbes.com, VanityFair.com, Huffpost.com, EW.com, IMDB.com, Newsweek.com, Hollywoodreporter.com