Hy's selfversekerd, slim, bekkig en talentvol – en hy het die beroemdste paar ore op aarde. En dít boonop al nege dekades lank. Maar al word hy vandeesmaand 90, is hy steeds volstoom aan die gang – hoeveel sterre kan dit sê?

Hy is natuurlik Mickey Muis, die strokiesmuis met die wit handskoene, rooi broekie, geel skoene en vrolike hoë stem wat sy skepper gehelp het om ’n multimiljarddollarsakeryk te bou.

Bekroonde rolprente, tallose TV-programme, massas handelsware, winsgewende temaparke, noem maar op: Daardie beroemde ronde ore verskyn al dekades lank daarop of daarin.

Walt Disney het nooit die betowering vergeet van die muis wat hy as jong man geskep het nie. Hy het gesê: “Ek hoop net ek sal nooit een ding uit die oog verloor nie: dat dit alles begin is deur ’n muis.”

Die geboorte van ’n ster

Voor Mickey op die toneel verskyn het, was daar Oswald the Lucky Rabbit. Hy is in 1927 deur Walt en die animeerder Ubbe “Ub” Iwerks geskep toe Disney Brothers Studio nog ’n klein animasiesentrum binne die rolprentreus Universal was.

Oswald was ’n treffer en fliekgangers kon nie genoeg kry van die konyn wat in sy eie reeks animasiestrokies gespeel het nie. Maar toe Walt in 1928 ’n beter ooreenkoms met Universal se baas, Charles Mintz, probeer beding, het Charles geweier.

Toe vat Walt die pad en laat Oswald agter, want Universal het die regte tot die karakter besit. Op die treinrit huis toe het Walt aan idees vir ’n nuwe karakter begin dink.

Ub het toe verskeie strokiesdiere vir Walt geskets – ’n koei, ’n perd, ’n padda – maar Walt het almal verwerp. Eindelik het Ub ’n muis geskets – en Walt het geweet dis ’n wenner.

Oswald the Lucky Rabbit. Foto: Walt Disney Pictures.

Wankelrige begin

Mickey was nie ’n kitstreffer nie – toe hy vroeg in 1928 in Plane Crazy en The Gallopin’ Gaucho verskyn, het dié kortflieks misluk. Maar daarna reik Disney se ateljee die kortfliek Steamboat Willie op 18 November 1928 uit, en dit word die gewildste strokiesprent van sy tyd.

In die fliek stuur Mickey ’n rivierboot en vermaak sy passasier met musiek waarvoor hy die diere aan boord as instrumente gebruik. Die passasier? Minnie Muis. Dit was die eerste animasie met gesinchroniseerde musiek en klankeffekte, en dit was ’n wegholsukses.

’n Skermgreep uit Steamboat Willie. Foto: Walt Disney Pictures.

En toe word hy ’n empire

Toe Mickey eers Amerika en toe die wêreld oorrompel, het die “ware vernuf van Walt Disney ingeskop”, het die tydskrif Time al berig. Walt het die bemarkingsmag van sy muis besef en binne enkele maande vir Mickey sy eie reeks handelsware uitgereik en sy eie klub, The Mickey Mouse Club, begin.

Die rolprente het vinnig op mekaar gevolg. Teen 1937 het Disney 12 Mickey-kortflieks per jaar vervaardig, en die muis het álles beleef: Hy het by die leër aangesluit, ’n simfonieorkes gedirigeer en was ’n voetbalheld; hy het sy hond, Pluto, van ’n hondevanger gered en sy meisie, Minnie, aan verskeie gespierde stoutseuns afgestaan . . . maar darem altyd weer teruggewen.

Teen die 1950’s was Mickey die ster van sy eie koerantstrokiesverhaal, die Mickey Mouse Club is in ’n televisieprogram omskep en die temapark Disneyland in Kalifornië het sy deure in 1955 oopgegooi.

Maar teen dié tyd het die Disney-ateljee ook sy spiere gebult met vollengterolprente, en die sukses van flieks soos Snow White, Bambi en Sleeping Beauty het beteken Mickey, wat toe al amper 30 jaar oud was, kon ’n blaaskans neem.

Al het hy in twee rolprente ’n hoofrol gespeel – Mickey’s Christmas Carol in 1983 en The Prince and the Pauper in 1990 – was dit op die kassie waar hy sy tuiste gevind het.

Programme soos Mickey Mouse Works, Disney’s House of Mouse en Mickey and the Roadster Racers was treffers. En 90 jaar ná sy debuut is hy steeds ’n ikoon op wie se muisskouertjies ’n mega-handelsnaam gebou is.

Mickey se bende

Minnie, sy jare lange liefde, verskyn in 1928 die eerste keer in Plane Crazy toe Mickey haar vir ’n rit in sy vliegtuig nooi. Toe hy haar probeer soen, spring sy in ’n valskerm terug grond toe en skik die toneel vir dekades van vlerkslepery.

Terwyl die verliefde muise nooit op die skerm trou nie, het Walt eenkeer onthul “in die privaat lewe is Mickey met Minnie getroud”.

Pluto ontwikkel van ’n naamlose bloedhond in The Chain Gang van 1930 tot Pluto the Pup, Mickey se geliefde troeteldier, in The Moose Hunt in 1931.

Pluto is die enigste van die oorspronklike Disney-karakters wat nie antropomorfies is nie, wat beteken hy het nie menslike eienskappe nie. Hy is net ’n hond.

Goofy, Mickey se lomp boesem-vriend, maak in 1932 sy debuut in Mickey’s Revue, oorspronklik as die ouerige Dippy Dawg. Hy kry later daardie jaar ’n herskepsessie en die jonger Goofy word in The Whoopee Party gebore.

Donald Duck is sedert 1934 met ons toe hy in The Wise Little Hen verskyn het. Donald is veral bekend vir sy onverstaanbare spraak en vurige humeur en het ’n vriendelike wedywering met Mickey – die twee kan as die oorspronklike frenemies beskou word.

Daisy Duck word in 1940 geskep om Donald se liefdesbelangstelling te wees in Mr Duck Steps Out. Anders as haar vriendin Minnie is Daisy altyd aan haar ou toegewy.

Minnie Muis. Foto: Walt Disney Pictures.
Pluto. Foto: Walt Disney Pictures.
Goofy. Foto: Walt Disney Pictures.
Donald Duck. Foto: Walt Disney Pictures.
Daisy Duck. Foto: Walt Disney Pictures.

Die stem agter die muis

Walt Disney het self eerste sy stem aan Mickey verleen, maar teen die laat 1940’s het die bestuur van sy immer groeiende maatskappy die meeste van Walt se tyd in beslag geneem – en sy rookgewoonte sou Mickey se skril stem begin skor maak.

Toe neem die musikant en akteur Jimmy MacDonald die taak oor. Jimmy, wat tot met sy aftrede in 1977 Mickey se stemwerk gedoen het, kon ook ander ongelooflike toertjies met sy stem vermag: Hy het al die gejodel in Snow White and the Seven Dwarfs gedoen, die hiëna se gehuil in Bedknobs and Broomsticks en selfs die tier Shere Khan se gebrul in The Jungle Book.

Mickey se volgende langtermynstem was met die komplimente van Wayne Allwine, wat bekend was daarvoor dat hy met Russi Taylor, die stemaktrise agter Minnie, getrou het. Wayne was 32 jaar lank Mickey se stem, tot met sy dood in 2009 op 62.  Bret Iwan (36), ’n voormalige Hallmark-kaartjieskrywer, is Mickey se huidige stem.

Kitsfeite
  • Mickey se eerste gesproke woorde was “Hot dogs, hot dogs!” in die rolprent Karnival Kid van 1929.
  • Charlie Chaplin was Walt Disney se inspirasie vir Mickey.
  • Minnie se volle naam is eintlik Minerva Muis.
  • Mickey was die eerste strokieskarakter wat sy eie ster op die Walk of Fame in Hollywood gekry het. Dit was in 1978.
  • Minnie is ’n nieamptelike Disney-prinses. Soos Mickey eenkeer vir haar gesê het: “Gits, Minnie, vir my was jy nog altyd ’n prinses.”
  • Mickey het net drie vingers en ’n duim aan elke hand, want volgens Walt is “vyf vingers te veel vir ’n muis. Sy hand sou soos ’n tros piesangs gelyk het.”

Mickey se vele gesigte

1928: Die oorspronklike Mickey in Plane Crazy.
1935: Mickey’s Garden was die eerste volkleur-Mickey-kortfliek
1939 The Pointer, nadat Mickey sy eerste groot herskepsessie gehad het. Foto: Walt Disney Pictures.
1983: Animeerders keer terug na die 1940’s-styl vir Mickey’s Christmas Carol.
2004: Mickey’s Twice upon a Christmas, sy eerste verskyning as 3D-rekenaargrafika. Foto: Walt Disney Pictures.
2013: Mickey se voorkoms is vereenvoudig vir sy nuwe TV-reeks, Mickey Mouse. Foto: Walt Disney Pictures.

Bronne: Time.com, Disneyfanatic.com, Disney.wikia.com, Variety.com, The Mirror