Niemand weet nog vir seker wie dit gaan wees nie, maar een van die karakters op die gewilde en bekroonde Amerikaanse sitkom Modern Family gaan in die tiende seisoen van die reeks, wat tans op M-Net uitsaai, sterf. 

Christopher Lloyd, een van die vervaardigers, sê aan Entertainment Weekly ’n dood kom in dié seisoen. Dit sal ’n paar episodes lank ’n groot uitwerking op die familie in die reeks hê, sê hy. 

"Ons moes almal die dood in die gesig staar, selfs families op televisie en dis nie maklik om so ’n gewigtige onderwerp aan te raak nie,” sê Christopher.

Hy wil glad nie verklap wie doodgaan en of dit een van die hoof-familielede sal wees nie, maar noem dat die karakter ’n "betekenisvolle" rol speel.

Ed O'Neill is Jay Pritchett in Modern Family.

Kykers in die sosiale media glo dit is Ed O'Neill (72), wat die rol van die patriarg Jay Pritchett speel, wat uit die reeks geskryf gaan word. Ander glo weer dis dalk die laaste sien van Ty Burrell (51), wat sy skoonseun Phil Dunphy vertolk. 

Dié reeks, wat al talle pryse gewen het, se kykertal is nie meer so sterk soos dit was toe dit destyds in 2009 begin het nie en die reeks is nog nie vir ’n 11de seisoen hernu nie. Maar Christopher voel positief dat die reeks wel hernu sal word. 

Bronne: Mirror, EW