HANSEL & GRETEL: WITCH HUNTERS (E.TV)

Gemma Arterton en Jeremy Renner

Aksie. Hansel en sy suster, Gretel, word deur ’n bose heks gevang, maar hulle ontsnap en word bekend as heksejagters.

Toe kinders op die dorpie Augsburg begin verdwyn, word dié sibbes ingespan om die raaisel op te los. Hulle ontdek in die proses meer oor hul herkoms. Met Gemma Arterton en Jeremy Renner.

VRYDAG 20 JULIE 22:00

2013. 88 MIN. 16G

COCO (M-NET)

Animasie. Musiek is in die 12-jarige Miguel se huis verbied sedert sy oor-oupagrootjie sy gesin verlaat het om ’n musiekloopbaan na te streef.

Miguel ontdek ’n ou foto en is oortuig sy oor-oupagrootjie is die legendariese musikant Ernesto de la Cruz. Hy vat dan die pad om Ernesto se beroemde kitaar te gaan soek en ’n musikant te word. Met die stemme van Anthony Gonzalez en Gael García Bernal.


SATERDAG 21 JULIE 14:30

2017. 105 MIN. O

UITVLUCHT (KYKNET)

Clara Joubert van den Bergh

Drama. Dié fliek is gegrond op die liefdesverhaal van die rolprent­maker Regardt van den Bergh en sy vrou, Clara Joubert van den Bergh.

Clara vertolk die rol van Anna, ’n konserwatiewe middelklasvrou wat met vuur speel en alles in haar lewe verloor.

Sy beland dan by ’n plaasskooltjie, Uitvlucht, en ontmoet ’n alleenloperboer. Ook met Stian Bam en Marvin-Lee Beukes.

SATERDAG 21 JULIE 20:00

2016. 88 min. 13GT

ACCIDENT (M-NET)

Roxane Hayward en Stephanie Schildknecht

Aksie. ’n Amerikaanse tiener­meisie, Caroline, se ma laai haar en haar vriendin Jess by ’n bushalte af omdat hulle na ’n musiekfees reis.

Caroline het egter planne om saam met pelle soontoe te gaan. Toe dié nie opdaag nie, soek die twee ’n saamrygeleentheid en word een aangebied deur twee mans.

Maar dié pretrit ontaard in ’n nagmerrie. Met Roxane Hayward en Stephanie Schildknecht.

SATERDAG 21 JULIE 21:00

2017. 95 MIN. 16GT

SIDE EFFECTS (SABC 3)

Rooney Mara en Channing Tatum

Drama. ’n Vrou wag al vier jaar lank vir haar man om uit die tronk vry­gelaat te word, waar hy sy vonnis weens onwettige handel uitdien. Maar met sy terugkeer sink sy in ’n diep depressie.

Ná sy onsuksesvol haar eie lewe probeer neem, skryf haar psigiater vir haar nuwe medikasie voor. Vreemde dinge begin dan gebeur. Met Rooney Mara, Channing Tatum en Jude Law.

SATERDAG 21 JULIE 21:30

2013. 106 MIN. 16

RENEGADES (M-NET)

Sullivan Stapleton en J.K. Simmons

Aksie. ’n Groep Navy Seals ontdek goud, wat glo honderde miljoene dollars werd is, in ’n meer in die oorlog­geteisterde Bosnië.

Hulle wil die goud aan die regmatige eienaars terugbesorg, maar hul vyand kry snuf in die neus. Die span het dan net 10 uur om hul sending te voltooi. 

Met Sullivan Stapleton, J.K. Simmons (foto), Mahamadou Coulibaly en ­Sylvia Hoeks.

SONDAG 22 julie 20:05

2017. 106 min. o13gt

DIE KASTEEL (KYKNET)

Van links is Cintaine Schutte, wat hul dogter, Michellay, speel, Pulane Sekepe, wat die rol van hul hardekwas huishulp Cecilia vertolk, Hannes, ­Dorette en Solomon Cupido, oftewel hul naïewe tuinier Wilson.

Volg weer Eckard de Wet (Hannes Muller) en sy gesin se manewales in  die tweede seisoen van dié sitkom. Daar is weer hope kaskenades by Eckard en die gewese skoonheids­koningin Tina-Marie (Dorette Potgieter) se boetiekhotel. 


WOENSDAE OM 20:30

QUANTICO (1MAGIC)

Priyanka Chopra

Priyanka Chopra keer terug as die CIA-agent Alex Parrish in die derde en laaste seisoen van dié drama­reeks. Drie jaar het verloop sedert die Amerikaanse heldin haar lewe op die spel geplaas het vir haar land.

Alex voer nou ’n anonieme bestaan in Italië. Maar sy moet haar idilliese lewe agterlaat toe Ryan (Jake Mc­Laughlin) haar vra om hom te help om Shelby (Johanna Braddy) van ’n berugte internasionale ­wapenhandelaar te red.

DONDERDAE OM 20:30