Jozaan Digue, ’n prokureur van Pretoria, Michelle Reddy, ’n verbruikersbemarkingspesialis van Durban, Gina Meyers, ’n grimeerkunstenaar van Johannesburg, en Jacqueline Ramos-Pinto, ’n voorskoolse onderwyser van Johannesburg, is die vier gelukkige vroue wat in die volgende episode hul gesinne aan die vrygesel gaan voorstel.

Hulle is die vier skoonhede wat oorbly nadat altesaam 24 vroue aan die begin van die seisoen 'n herehuis in Sandown, Johannesburg, betrek het in 'n poging om Lee se hart te wen.

Lee het Donderdagaand vir elkeen van dié vier ’n rooi roos uitgedeel – die teken in die reeks dat ’n deelnemer nog langer mag aanbly. 

Ons het gaan kyk hoe dinge die afgelope tyd vir die oorblywende deelnemers ontvou het. 

Jozaan Digue

In die werlikheidsreeks is die langbeenskoonheid vol selfvertroue, parmantig en sy laat kykers gereeld skaterlag met haar onmiskenbare humorsin. 

Die vonk tussen haar en Lee het al duideliker geword toe hy haar onlangs gekies het vir ’n romantiese wegbreek buite die landgrense in ons buurland Zimbabwe. 

Hier het Lee erken hy is besig om op die borrelende blondekop verlief te raak. 

Maar terwyl hy nog op die kassie wik en weeg oor sy finale keuse, weet Jozaan reeds hy is haar droomman. 

Hier is van die gevoelens wat sy die afgelope tyd oor Lee op haar Instagram-blad gedeel het.

“Ek het omtrent 'n honderd klein dinge oor hom geweet, maar toe hy my soen, kon ek nie eens my eie naam onthou nie," lui een inskrywing.

"Jy is die soort mens vir wie ek graag in die oggend wil koffie maak," skryf sy by nog 'n foto waar hulle hand aan hand stap.

By 'n foto waar hulle gereedmaak vir 'n reksprong, skryf sy: "Op daardie oomblik het ek vir jou geval - en ek het hard geval."

"Hy het na my gekyk asof ek die strerre is en hy was verlore in my heelal," skryf sy by 'n foto waar Lee in 'n helikopter droomverlore na haar staar.

Michelle Reddy

Sy het van die eerste oomblik toe hulle ontmoet Lee se aandag geboei en hy het vir haar die roos vir eerste indrukke gegee. Wie sal nou vergeet hoe sy tydens dié eerste kennismaking soos Belle van Beauty and The Beast in 'n fraai geel balrok geskitter het?

The Bachelor SA contestant Michelle Reddy

Lee is nie al een vir wie Michelle beïndruk het nie. Die skoonheid van Durban het ook diep in kykers se harte gekruip en is ’n groot gunsteling onder aanhangers.

Al het sy Lee se aandag van die eerste oomblik geboei, het Michelle meer begin terughou soos wat die reeks ontvou het.

Onlangs het sy gedeel dat sy in ’n vorige verhouding diep seergekry het.

Toe Lee haar Donderdagaand vir ’n alleenafspraak met 'n lugballon-uitstappie bederf, het sy weer gemakliker voorgekom en die twee het 'n passievolle soen gedeel.

Loer 'n mens na die inskrywings op haar Instagram-blad, vertel Michelle dikwels hoe baie sy deur haar deelname aan die werklikheidsreeks gegroei het. Sy deel ook gereeld filosofiese boodskappe oor haar soeke na 'n gelukkige einde.

Gina Meyers

Gina het ’n reguit persoonlikheid en het uit die staanspoor baie goed met al die ander vroue in die huis oor die weg gekom.

View this post on Instagram

I dressed for the occasion ... ??

A post shared by Gina Myers (@gi_myers) on

Sy deel dikwels raad om ander te bemoedig en Lee het ook vinnig haar warm, omgeepersoonlikheid raakgesien.

Donderdagaand het hulle alleentyd saam deurgebring en passievol gesoen. 

Al het die skoonheid heeltyd tydens die reeks selfversekerd voorgekom, was sy met hul laaste ontmoeting vir die eerste keer terughoudend. Kort voordat Lee Donderdagaand sy topvier vroue gekies het, was die atmosfeer tussen hulle skielik ongemaklik.

Sy het begin twyfel of sy ’n wel 'n roos wil aanvaar as Lee die besluit sou neem om vir haar een uit te deel.

Toe die oomblik kom, het sy vir ’n paar sekondes geaarsel voordat sy die roos aanvaar het.

 “Wat ook al jy doen, volg jou hart,” het sy kort ná die besluit by ’n foto van haar en Lee op Instagram geskryf.

View this post on Instagram

Whatever you do, follow your heart. #thebachelorSA

A post shared by Gina Myers (@gi_myers) on

Jacqueline Ramos-Pinto

Sy is die enigste van die vier oorblywende vroue wat nog nie vir Lee op ’n alleenafspraak vergesel het nie. Dalk is dit die rede waarom sy dikwels onseker voorkom en die emosies hoog loop.

Lee het haar al meer as een keer getroos as die trane rol.

 “Jy is ’n roos, kies iemand wat nie bang is vir jou dorings nie,” het die dokerkoponderwyser onlangs op haar Instagram-blad laat hoor.

Sy het in sosiale media erken dit was vir haar moeilik om so oop en kwesbaar op die kassie te verskyn.

“Ek het geen idee gehad dat dit so moeilik gaan wees nie. Julle sien verskeie kante van my: Jax vol selfvertroue, Jax wat onseker is, Jax wat skaam is, Jax wat bang is. Jy sien die waarheid,” het sy onder meer geskryf. 

Sy het bygevoeg dat sy haarself en haar geliefdes belowe het dat sy deur die hele reis getrou aan haarself wou bly.

"Dra jou hart op jou mou en wees vriendelik. Wees presies hoe jy is," lui nog ’n inskrywing op haar Instagram-blad.

Noudat die reeks einde se kant toe staan, sal Lee in die volgende episode die ouerhuise van die vier skoonhede besoek. Die vroue wat hierna oorbly, sal op hul beurt weer sy mense ontmoet.

  • The Bachelor SA is elke Donderdagaand om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) te sien.