Die dae is verby dat ’n mens hoef te vra: “Wat is vanaand op TV? Is daar enigiets om te kyk?” Of toe jy ná die spannende einde van ’n episode van jou gunstelingtelevisiereeks ’n hele week voor die volgende episode moes naels kou en wonder: Wat gaan volgende gebeur?

Deesdae kan jy enige tyd vir ’n lekker stukkie vermaak inskakel en die episodes sommer die een ná die ander inryg. Jou keuses is ook nie meer beperk tot wat daardie dag op TV uitgesaai word nie. Jy het baie keuses van wat jy wil kyk, en wanneer.

Boonop hoef jy nie eens naby ’n televisiestel te kom nie, want jy kan ewe lekker flieks, reekse, dokkies en ander programme op jou skootrekenaar, tablet of slimfoon kyk.

Dit het alles in 2007 begin toe Netflix as die eerste stroomdiens vir flieks in Amerika bekendgestel is.

Stroomdienste het die wêreld van kykvermaak vir ewig verander. Dit bied jou ’n keuse van nimmereindigende nuwe kykstof, want jy laai programme van die internet af. Boonop hoef niemand meer te baklei oor die afstandbeheerder nie, want jy kan tot vyf toestelle aan een rekening verbind, na gelang van die stroomdiens waarop jy inteken.

Ma en pa kan dus voor die televisie ’n fliek sit en kyk terwyl ouboet op sy foon en sus op haar skootrekenaar terselfdertyd na hul gunstelingprogramme kyk.

Dit het alles in 2007 begin toe Netflix as die eerste stroomdiens vir flieks in Amerika bekendgestel is. Kort voor lank het die maatskappy ook sy eie reekse begin maak.

In 2013 was Netflix die eerste internetstroomdiens wat bekroon is vir ’n oorspronklike reeks, House of Cards, en dit met drie Emmy-pryse. Dié stroomdiens het nou 130 miljoen gebruikers in meer as 190 lande, waaronder Suid-Afrika.

Nog voor Netflix sy diens in 2016 hierheen uitgebrei het, is die eg Suid-Afrikaanse stroomdiens Showmax in Augustus 2015 bekendgestel. Dit bied ook Afrikaanse kykstof, onder meer flieks en reekse.

En sedertdien het nog stroomdienste die mark betree: Amazon Prime Video, Cell C Black en DEOD TV.

Maar hoe kies jy vir watter diens jy wil inskakel en opdok? Kyk hier wat jou smaak en sak die beste sal pas.

Netflix

Kykstof

Dit bied ’n groot verskeidenheid flieks, dokkies en reekse, waarvan party deur Netflix self vervaardig is en nêrens anders te sien is nie, soos die reekse House of Cards, The Crown, Stranger Things, Narcos en Orange Is the New Black.

Die nuwe dokkiereeks waaroor almal gons, The Vietnam War, is ook net deur dié diens beskikbaar. Hulle wil nou reekse uit Suid-Afrika maak, en Charlize Theron se reekse Girlboss en Mindhunter, waarvan sy die vervaardiger is, is ook hier te sien.

Koste

’n Mens het ’n keuse van drie pakkette, almal met dieselfde inhoud, maar die verskil lê in die gehalte van die beeld en die getal toestelle waarop jy en jou gesin op ’n bepaalde tydstip kan kyk.

  • Met die Basic Plan-opsie teen R99 per maand kry jy ’n standaarddefinisiebeeld en jy kan op net een toestel kyk.
  • Die Standard Plan-opsie (R139 per maand) bied ’n hoëdefinisiebeeld en die gerief om gelyktydig op twee toestelle te kyk.
  • Met die Premium Plan (R169 per maand) kyk julle na ’n hoëdefinisie- of ultrahoëdefinisiebeeld op tot vier toestelle op ’n slag. Gebruikers kan ’n fliek of reeks van Netflix aflaai en dit later sonder internettoegang kyk, maar dié inhoud verdwyn ná ’n week.

Iets unieks

Hulle vervaardig hul eie flieks, reekse en dokumentêre programme en bied oorspronklike inhoud wat nêrens anders beskikbaar is nie.

Bandwydte

Kyk ’n mens in standaarddefinisie, het jy ’n minimum bandwydte van 0,5 Mbps (megabis per sekonde) nodig.

Datagebruik

’n Uur se Netflix-vermaak in standaarddefinisie gebruik 1 GB (gigagreep) en in hoëdefinisie net meer as 2 GB.

So kry jy dit

Gaan na netflix.com.za. ’n Mens kry ’n gratis proeftydperk van ’n maand.

Showmax

Kykstof

Dié diens bied ’n groot verskeidenheid internasionale treffers soos Game of Thrones, Westworld en Downton Abbey, en ook plaaslike inhoud van kanale soos kykNET, VIA en Mzansi. Dit sluit flieks en talle reekse in.

Van hul treffers is die TV-reekse Younger, The Big Bang Theory en Friends, maar jy kan ook gewilde Afrikaanse reekse soos Boer Soek ’n Vrou en Fynskrif kyk.

Koste

  • Net een pakket is beskikbaar en dit kos R99 per maand.
  • Die diens is gratis vir DStv Premium-intekenare.
  • DStv Compact- en Compact Plus-gebruikers kan teen R49 maandeliks Showmax by hul bestaande DStv-pakkette voeg.

Iets unieks

Dit bied jou die meeste Afrikaanse kykstof van al die stroomdienste, met nuwe maar ook ouer rolprente soos die fliek As Jy Sing, kykNET-reekse soos Egoli en Nataniël Se Tafel en VIA-reekse soos Op Pad met Dana.

Bandwydte

’n 2 Mbps-internetlyn is voldoende, maar ’n 4 Mbps-lyn of vinniger word aanbeveel. Net soos by die ander stroomdienste pas die videogehalte by die bandwydte aan.

Datagebruik

Kykstof in standaarddefinisie gebruik na raming 700 MB per uur en in hoëdefinisie verhoog dit na 1,4 GB per uur. In ultrahoëdefinisie kan jy tot meer as 2 GB per uur gebruik.

Flieks en reekse word ook in verskillende gehaltes aangebied om jou data te help bespaar.

So kry jy dit

Besoek showmax.com. ’n Proeflopie van 14 dae is gratis.

Amazon Prime Video

Kykstof

Die diens is in Desember 2016 in Suid-Afrika en in meer as 200 ander lande bekendgestel en bied bekroonde reekse en flieks soos The Grand Tour, The Marvelous Mrs. Maisel en American Gods.

Koste

Hiervoor moet jy in Amerikaanse dollar betaal. Dit bied ’n enkele standaardpakket teen $2,99 (sowat R45) per maand vir die eerste ses maande. Daarna kan ’n mens dit hernu teen $5,99 (sowat R90) per maand.

Iets unieks

Jy kan op twee toestelle gelyktydig kyk. Jy kan ook flieks en reekse aflaai en dit later sonder internettoegang kyk.

Bandwydte

Om ’n fliek of reeks in standaarddefinisie te kyk, word ’n bandwydte van minstens 1 Mbps aanbeveel. Kyk jy in hoëdefinisie, het jy ’n bandwydte van minstens 3,5 Mbps nodig en vir ultrahoëdefinisie 15 Mbps.

Datagebruik

Stroom jy kykstof in standaarddefinisie, slurp dit 600 MB data per uur op, in hoëdefinisie is die skade 1,8 GB per uur, en in ultrahoëdefinisie meer as 3 GB per uur.

So kry jy dit

Besoek primevideo.co.za.

Cell C Black

Kykstof

Dié stroomdiens uit die Cell C-stal is verlede November bekendgestel en bied meer as 20 verskillende pakkette. Die kykstof wissel van nasionale en internasionale flieks en reekse tot musiek en ’n magdom TV-kanale.

’n Mens het ook ’n beperkte keuse van Afrikaanse flieks.

Koste

Dit wissel van R5 vir ’n enkele dag se toegang tot een sokkerkanaal soos Manchester United TV tot R449 per maand vir die Binge Elite-pakket wat jou onder meer toegang tot 68 TV-kanale bied.

Daaronder tel agt Fox-kanale soos National Geographic, Fox Life en Fox Movies.

Die Binge Access-opsie teen R89 per maand gee jou nie net toegang tot sommige plaaslike flieks, reekse en musiek nie; jy kry ook toegang tot Nollywood- en Bollywood-flieks.

Die soortgelyke Flexi Access-opsie bied jou dieselfde inhoud teen R10 vir ’n enkele dag, R19 vir ’n naweek of R25 vir ’n week.

Iets unieks

Benewens hul korttermynpakkette, selfs net vir ’n dag of naweek, is dit al stroomdiens wat ook flieks en TV-reekse te koop bied.

’n Mens kan dit dan aflaai en vir altyd hou.

Bandwydte

Gewone internettoegang is voldoende as jy op ’n slimfoon kyk, maar as jy dit op jou TV-skerm wil sien, het jy minstens 4 Mbps nodig vir ’n goeie en ononderbroke beeld.

Jy sal dan ook ’n Black-dekodeerder teen R1 499 moet aanskaf.

Datagebruik

Cell C-kliënte wat hul simkaart aktief gebruik, kry die data gratis. Ander gebruikers van hul stroomdiens moet wel daarvoor betaal: ’n Uur se kykstof in standaarddefinisie gebruik 1,5 GB en in hoëdefinisie 3 GB.

So kry jy dit

Besoek black.co.za of laai die GETblack-app af vir Android of iOS.

DEOD TV

Kykstof

Digital Entertainment on Demand, oftewel DEOD TV, is in Mei verlede jaar in Suid-Afrika bekendgestel en bied ’n groot verskeidenheid kykstof na gelang van die pakket wat jy kies.

Dit wissel van ou en nuwe flieks tot nuus, sportkanale en TV-reekse.

Koste

Die pryse wissel van R49 (vir ses nuuskanale waaronder Al Jazeera, Bloomberg en Russia Today) tot R159 vir die premium-opsie.

Iets unieks

Dié stroomdiens is nie in Suid-Afrika op TV beskikbaar nie, maar wel vir skootrekenaars en tablette.

’n Mens kan dit deur ’n app op Android- of Apple-slimfone aflaai.

Bandwydte

Om reekse of flieks te kyk, is ’n bandwydte van 2 Mbps voldoende, maar ’n minimum bandwydte van 4 Mbps word aanbeveel.

Datagebruik

Kyk jy ’n fliek, sal die datagebruik van 900 MB tot 1 GB wissel na gelang van die bandwydte en die definisie van die beeld.

So kry jy dit

Besoek za.deod.tv.