Byna vyf jaar, 1 794 dae se verfilming, ’n besoek aan 41 lande, die harde werk van 1 500 mense en te veel hommeltuie om te tel – dís wat dit gekos het om die jongste meesterstuk deur die maestro van natuurlewereekse te vervaardig.

En David Attenborough se nuutste aanbod is net so skrikwekkend as wat dit fassinerend is. Sy dokumentêr Seven Worlds, One Planet is ’n reeks in sewe dele wat die evolusie van lewe op die aarde se vastelande ondersoek en uitstippel hoe die mens in die toekoms talle spesies vaarwel sal moet toeroep – tensy ons ’n reusepoging aanwend om hulle te red.

David is nou ’n brose 93-jarige, maar hy is steeds so verwonderd oor die natuur soos altyd. Maar in sy nuwe waarskuwing oor die moontlike vernietiging van die diereryk draai hy nie doekies om nie.

Toe hy in die 1950’s as ’n jong natuurwetenskaplike sy eerste dokumentêr gemaak het, was daar meer as 2 000 noordelike witrenosters in Afrika. Amper 70 jaar later bevind hy hom in die nuwe dokkie op die groen vlaktes van die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia waar die laaste twee van dié spesie, genaamd Fatu en Najin, hul laaste dae deurbring.

Om dié seldsame renosterkoeie teen stropers te beskerm, dwaal hulle onder die wakende oog van gewapende wagte rond. Dis ’n hartverskeurende toneel uit ’n boeiende program.

In Antarktika vertel hy van die duisende pikkewyne, robbe, albatrosse en groot walvisse van ’n vasteland wat deur aardverwarming bedreig word. In Asië, ’n vasteland wat David as “veelsoortig en ekstreem” beskryf, sien kykers die goedhartigheid van vissermanne wat gereeld vir walvishaaie van hul vangs gee.

Dan is daar Noord-Amerika, waar vuurvliegies op somernagte die woude verlig en ’n toneel skep wat so mooi is, jy sou maklik kon glo ’n gesoute kunstenaar het dit met die hand geverf.

“Die reeks kry ’n balans tussen hoop en wanhoop,” vertel die skepper en uitvoerende vervaardiger, Jonny Keeling, aan Huisgenoot by ’n voorafvertoning van die program in Johannesburg. Hy wil hê kykers moet twee dinge uit die dokkie leer: om op die natuur verlief te raak en desperaat tot aksie te wil oorgaan om die bedreigde planeet te red.

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
David in Kenia saam met die laaste twee noordelike witrenosters wat op ons planeet oor is, Fatu en Najin. Dié twee renosterkoeie word deur gewapende wagte beskerm.

Jonny glo in die mag van die sosiale media en die uitwerking wat selfs net ’n klein groepie mense kan hê. “Ons het dit met plastiek in Blue Planet 2 gesien,” sê hy oor dié 2017-dokumentêr oor ons oseane.

In grepe uit dié reeks – ook met David as verteller – beeld seevoëls wat plastiekafval opbring die skokkende waarheid uit oor hoe huisrommel die planeet verwoes. Dit het momentum gegee aan die wêreldwye beweging om plastiekstrooitjies te laat vaar en mense oortuig om oor die algemeen minder plastiek te gebruik, meen Jonny.

David in 1956 in een van sy eerste programme, Zoo
David in 1956 in een van sy eerste programme, Zoo Quest.

“Dit was ’n toneel van net twee minute in die program, maar aanlyn het dit daaroor gegons,” vertel hy. “Dit het verbruikers, mense in die raadsaal, in politieke kringe en op straat verander. Skielik word dit ’n groot beweging, en dít kan baie vinnig gebeur.

“Dis my sonnige, optimistiese uitkyk.”

Met Seven Worlds, One Planet wou Jonny iets anders doen, maar hy wou ook ’n dokumentêr skep wat kykers diep sou raak.

“Ons almal kom van ’n spesifieke vasteland; ons behoort daaraan. Dis regte plekke,” sê hy. Hy het al voorheen aan bekroonde natuurdokumentêre gewerk, maar dié een word deur ’n klomp eerstes onderskei: “Nuwe spesies, gedrag, plekke en tegnologie,” sê hy.

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.

“Ons het hommeltuie gebruik wat verder en langer kan vlieg; en die gehalte is beter. Ons het dit in grotte afgestuur, by vulkane in en snags laat vlieg. En net 10 hommeltuie het verongeluk – dis baie goed!”

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.

Onder die “eerstes” wat vasgelê is, is bruin hiënas in die Namibwoestyn wat hulle in verlate en vervalle geboue tuisgemaak het en op dag lange togte gaan om kos te soek. ’n Episode speel ook af in Asië waarin die span ’n fassinerende ontdekking maak: Die Iranse spinnekopadder is op film vasgevang op die grens tussen Iran en Irak, ’n plek waar die span nog nooit voorheen geskiet het nie.

“Dit het twee en ’n half jaar geneem om by Iran in te kom om dit te verfilm,” sê Jonny. “Ek het die toneel vir David gewys en hy het nie geweet wat dit was nie. Ek het ’n bietjie agterbaks én ingenome gevoel.

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.

“Agterbaks omdat ek ’n ou man om die bos gelei het, maar nogal ingenome, want ek het gedink David ken elke liewe dier – maar selfs hy het dié een nog nie vantevore gesien nie!”

Die span se verhouding met inwoners in die gemeenskappe waar hulle verfilm het, was belangrik, voeg Jonny by. “Ons het altyd op plaaslike gidse, spoorsnyers, wetenskaplikes en veldwerkers staatgemaak. Dit het ons twee jaar geneem om die storie te kry van die dingo’s in Australië wat kangaroes agternasit.

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.

“Eindelik het ’n plaaslike veldwagter ons gekontak om te sê hy sit elke aand op ’n heuwel, drink ’n bier en kyk hoe die dingo’s die kangaroes jaag.”

Jonny spot hy was aanvanklik huiwerig: “Ek het eers gedink, gaan ek duisende ponde blaas deur na ’n dronk Australiër te luister?” Hy het die kans gewaag en vir twee plaaslike mense elkeen ’n kamera gekoop om die beeldmateriaal te verfilm voor ’n ekstra span gestuur is.

“Daardie twee ouens het toe twee derdes van die Australiese program vir ons geskiet,” sê Jonny. “En hulle is nou kameramanne. Dis absoluut noodsaaklik om plaaslike mense en kennis te gebruik.”

Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beel
Tonele van die reeks met sewe aflewerings wat beeldmateriaal insluit van spesies wat nog nooit voorheen in hul natuurlike habitat op film vasgelê is nie.

Die byna vyf jaar wat dit geneem het om die dokkiereeks te skep, was nie sonder haakplekke nie. Jonny onthou ’n terugslag wat hulle amper die Antarktika-episode gekos het.

“Twee weke voor ons sou gaan, het ons ’n vlug bespreek, en als was gereël. Een van die ouens wat veronderstel was om saam te gaan het tuberkulose gehad en was vir drie maande afgeboek. Toe besluit die vliegonderneming wat ingestem het om ons te vlieg skielik hulle gaan ons nie meer vat nie.”

Jonny het dringend 40 reisoperateurs gebel tot hy een gekry het wat ingestem het om hulle te neem. Maar hulle het amper hul boot verpas nadat hul filmtoerusting in Argentinië afgevat is.

“Top Gear het voorheen daar verfilm en die Argentyne die josie in gemaak. Toe word ons toerusting geskut,” sê Jonny. Hulle het eindelik hul boot gehaal, maar moes 10 dae lank onstuimige waters en gure weer trotseer om die ysvasteland te bereik.

Met hul wêreldreise het van die spanlede seesiek geraak, hul voertuig het in modder in ’n woud vasgesit, hulle het met slange in hul kamer wakker geword, ’n aap het in hul gesig gespoeg, en miere het oor hul lyf krioel.

Die skep van die sewe boeiende aflewerings het heelwat ontwrigting meegebring, maar wanneer Jonny dink aan die lewens wat dit sal aanraak, was elke terugslag volkome die moeite werd.

“Die dokumentêr sal sowat 1 miljard mense bereik,” sê hy. “Met klein veranderings kan ons ’n groot verskil maak.” 

Foto's: BBC ONE, BBC EARTH, BBC TELEVISION SERVICE
  • Seven Worlds, One Planet begin op 29 Maart op BBC Earth (DStv 184).