• Dit bestaan uit 13 uur lange episodes en speel in Johannesburg af. Die reeks gaan oor vier huisgesinne – die Bekkers, Zimmermans, Davidse en Fortuins – wie se lewe verweef raak terwyl hulle in ’n jaagtog om oorlewing gewikkel is.
  • Die draaiboek is geskryf deur Paul C. Venter, die skrywer van TV-reekse soos Vlug na Egipte, die opvolgreeks Terug na Egipte, Konings en Torings.
  • Dit is die derde keer dat Paul en die regisseur Human Stark kragte saamspan vir ’n reeks. Hulle het voorheen saamgewerk aan Vlug na Egipte en Terug na Egipte.
  • Die rolverdeling wemel van bekendes. Onder hulle tel Armand Aucamp en Christia Visser, wat onderskeidelik die sekuriteitswag Mynhard Bekker en die student Addie Zimmerman speel. Armand en Christia was ’n paartjie in die kykNET-reeks Die Boekklub en was ook albei te sien in die fliek Ballade vir 'n Enkeling.  
  • Dawid Minnaar, in die rol van Christia se pa, Hans, is vir die derde agtereenvolgende keer in ’n kykNET-drama te sien. Hy het in 2017 ook in die TV-reekse Sara Se Geheim en Waterfront verskyn.  
  • Onder die nuwe, vars gesigte is die Kaaps gebore aktrise Schelaine Bennett, wat die danseres Rachel Fortuin speel. Schelaine is self ’n talentvolle danseres en het al in Bollywood-flieks soos Kal Kissne Dekha verskyn. Dié voormalige aanbieder van die tienerprogram Hectic Nine-9 was ook al in musiekvideo’s van bekendes soos die Britse sangeres Natasha Bedingfield (Single) en ons eie Chris Chameleon (Shine).
  • ’n Hele rits Binnelanders-sterre is in die reeks te sien: Dawid Minnaar, Odelle de Wet, André Odendaal, Terence Bridgett, Sandi Schultz, Marisa Drummond, Jacques Pepler, Ciske Kruger en Shareen Swart.
  • André en Odelle, wat die rolle van Andries en sy dogter Delia in Binnelanders vertolk het, speel weer pa en dogter in Knapsekêrels, terwyl Terence en Sandi, wat in ’n stadium in Binnelanders verlief was, dié keer ampergeskeides speel.
  • Die Zimmerman-huis in Knapsekêrels is ’n boetiekhotel naby Sandton; jy kan self daar gaan oornag.
  • Wilmien Rossouw is die dogter van die akteurspaar Cobus Rossouw en Sandra Kotzé. Die vermaakbedryf is omtrent in die familie: Wilmien se suster, Susan, was die rolverdelingsregisseur vir Knapsekêrels en hul broer, Cobus, is ook in die televisie- en rolprentbedryf. Hy was onder meer regisseur van die TV-reeks en fliek Getroud met Rugby. 

Die vier gesinne

Die Zimmermans

Die skatryk sakeman Hans Zimmerman (Dawid Minnaar) is op soek na iemand wat ’n ogie oor sy studentedogter, Addie (Christia Visser), kan hou, want sy steur haar min aan haar pa se reëls. En sy moet eendag sy sakeryk oorneem.

Christia Visser
Dawid Minnaar.

Die Bekkers

Mynhard Bekker (Armand Aucamp) is ’n sekuriteitswag met ’n voorliefde vir vinnige motors en vroue. Sy pa, die verkeerskonstabel Dirk (André Odendaal), sien uit na sy aftrede, maar sukkel om met sy vrou, Joey (Wilmien Rossouw), ’n verpleegster, te kommunikeer. Hul dogter, Karlien (Odelle de Wet), pas gevangenes op.

Wilmien Rossouw.
Odelle de Wet
André Odendaal
Armand Aucamp

Die Fortuins

Die Fortuins moet almal inspring om die pot aan die kook te hou. Sussie Rachel (Schelaine Bennett) gee klas by ’n dansskool en ma Naomi (Nazli George) is ’n huishoudster. Skalkie (Roberto Kyle) werk saam met Mynhard by ’n sekuriteitsfirma en kry die kans van ’n leeftyd wanneer dié hom aan die skatryk Hans voorstel.  

Roberto Kyle.
Schelaine Bennett

Die Davidse

Chantel Davids (Lindsey Abrahams) is Addie se beste vriendin. Haar pa, dr. Adam Davids (Terence Bridgett), was op ’n kol Suid-Afrika se ambassadeur in New York. Hans het sy oog op ’n staatskontrak en die dokter kan hom dalk net help.

Foto's: Peet Mocke, Vernondo Boshoff, kykNET, Imdb