Shawn Mendes se nuwe dokkie In Wonder is beskikbaa
Shawn Mendes se nuwe dokkie In Wonder is beskikbaar op Netflix. Foto: Netflix

DIE MAN AGTER DIE MUSIEK

Teen dié tyd is Shawn se nuwe treffer, “Wonder”, dalk al ’n gunsteling op jou speellys. Nou gee die 22-jarige superster ons ook ’n intieme kykie na sy lewe in die kollig in sy nuwe musiekdokkie, In Wonder, wat op Netflix gestroom kan word.

Hy maak oop oor sy reis na selfontdekking, sy laaste wêreldtoer en die soet en suur van roem.

Aanhangers van Shamila – die oulike naam wat aanhangers Shawn en sy sangeres-meisie, Camila Cabello (23), gegee het – kan ook die paartjie tuis sien.

“Dit gaan nie net oor hoe wonderlik dit is om ’n popster te wees nie,” sê hy oor die dokkie. “Daar is ’n regte hart daarin.”

NUWE ALBUM

Shawn se vierde album, Wonder, word op 4 Desember uitgereik. En as jy, nes ons, steeds na die titelsnit luister wat onlangs uitgereik is, tel jy die dae af tot die nuwe album hier is.

“Dit voel asof ’n stuk van my op papier neergeskryf en in ’n liedjie opgeneem is,” skryf Shawn oor die liedjie.

“Ek het probeer om so eg en eerlik te wees soos wat ek nog altyd was. Dit is ’n wêreld, ’n reis, ’n droom en ’n album wat ek al baie lank wil maak.”

LEWE IN DIE INPERKING

Hy bly eintlik in Kanada. Toe die covid-19-pandemie toegeslaan het, het hy in Amerika by sy meisie, Camila, se huis in Miami ingetrek.

“Toe ek daar kom, was dit die beginproses van die album, en ek was paniekbevange. Ek het gedink daar is geen manier hoe ek musiek sal kan maak nie,” sê hy. “ ’n Week gaan verby en jy begin eiers in die oggend maak, dan begin jy wasgoed doen en die honde vir uitstappies vat,” sê Shawn.

Aan die begin was dit vreemd.

“Ek het van 15 af in hotelkamers gebly. So dit was baie lekker,” sê hy oor sy lewe tydens die inperking. Hy het selfs onlangs op Instagram hul nuwe hond aan sy aanhangers bekendgestel – ’n oulike labrador genaamd Tarzan.

SY GROOTSTE ONDERSTEUNER

Shawn en Camilla het al saamgewerk aan treffers soos “Señorita”. Terwyl hy sy nuwe album opgeneem het, was Camilla sy grootste ondersteuner.

“Wanneer jou meisie ’n skrywer en musikant is, en sy is ongelooflik, het jy twee opsies: Jy kan bang en geïntimideer wees of jy kan sê: ‘Ek moet seker haar hulp vra of hoor wat sy dink,’ ” sê hy.

“Ek weet nie of sy dwarsoor die album krediet gekry het nie, maar sy moet, want daar was niemand anders in dié tyd wat my meer raad gegee en aangemoedig het om te hou by die musiek wat ek gevoel het ek moet maak nie.”

Die album is “ ’n pragtige geskenk aan die wêreld”, sê Camilla.

“Hy het hierdie album met elke laaste bietjie van sy siel, gees en wese gemaak en met die suiwerste bedoeling vervaardig,” skryf sy op Instagram.

SHAWN IN SYFERS
  • 9 miljard kyke op YouTube vir sy musiekvideo’s
  • 45 miljoen maandelikse luisteraars op Spotify
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe