Brendon se karakter, Jazz Normington, se passie is sy saksofoon. “Hy leef in sy eie wêreld en hanteer konflik deur sy kop in die grond te druk tot dit oorwaai,” sê hy.

“Hy is ’n happy-go-lucky ou wat vasgevang is in sy musiek.”

Lee-Ann en Brendon vertolk ’n getroude paartjie, Jazz en Mary. Foto: Noncedo Mathibela.

Lee-Ann speel sy vrou, Mary Normington, wat leerders in haar st. 4-klas het wat dalk meer volwasse as haar man is.

“Hy is amper soos ’n groot kind, maar sy is ontsettend lief vir hom en kyk baie mooi na hom,” vertel Lee-Ann.

Foto: Noncedo Mathibela.

Die intrige in Onder die Suiderkruis begin in die 1980’s. Dis ’n verhaal oor grootword en beeld die beproewings van die Normington-, Tredoux- en Smithyman-familie oor ’n aantal jare uit.

Johan van Jaarsveld is die draaiboekskrywer en Elizabeth Archer die regisseur. Hulle was onder meer ook medeverantwoordelik vir die kykNET-reeks Vallei van Sluiers.

In die Tredoux-familie hanteer Andries Tredoux (Anton Dekker) almal en alles met sy ysterhand.

Stian en Deon gebruik die vrye tyd tussen tonele om woorde te leer. Foto: Noncedo Mathibela.

Stephen (Stian Bam), sy seun, het al op skool pal die een of ander geldmaakprojek gehad en homself van jongs af as ’n entrepreneur ontwikkel.

Hy was nog altyd die beskermer van sy ma, Trunette (Michelle Burgers), en suster, Jane (Christia Visser).

’n Spesiale oomblik tussen Mo­nique Rockman (links), Lee-Ann en Brendon. Monique vertolk die rol van Beverly Kearns, wat saam met Ste­phen werk. Foto: Noncedo Mathibela.

Oupa Stevie (Chris van Niekerk) is die familie se oopkop denker.

Die Smithyman-huishouding ken van sukses. Donny Smithyman besit ’n groot Karooplaas, waar hy ook ’n privaat diamantmyn bedryf.

Sy plaasbestuurder, Skip Gouws (Alyzzander Fourie), is sy regterhand en vertroueling.

Deon en Tinarie is in die reeks as pa en dogter te sien. Foto: Noncedo Mathibela.

Al moet Donny gereeld vir sake reis, is hy ’n enkelouer wat erg is oor sy enigste dogter, Skye (Tinarie van Wyk-Loots).

Sy word van jongs af deur privaat onderwysers grootgemaak. “Maar al het sy baie vroeg akademies vinnig gevorder, het haar emosionele ontwikkeling dalk agterweë gebly,” verklap Tinarie.

Tyd vir mooimaak

Francois gebruik sy grimeerkwas om Monique op haar beste te laat lyk. Christia staan reg vir haar beurt. Foto: Noncedo Mathibela.
Hanri du Plessis kry Tinarie se hare reg vir haar tonele. Foto: Noncedo Mathibela.
Die grimeerkunstenaar Francois Rademeyer versorg Michelle se grimering. Foto: Noncedo Mathibela.

Die eerste van Onder die Suiderkruis se 13 weeklikse aflewerings word op 12 Junie om 19:00 op SABC2 uitgesaai.