1. Bekendes

Die reeks wemel van bekende gesigte, onder wie die oud-7de Laners Amalia Uys, Deon Coetzee en Zane Meas. Dit speel af op die Oos-Kaapse dorpie Digtersdal, wat 13 jaar gelede geteister is deur ’n reeksmoordenaar wat seuns tussen vyf en 15 geteiken het.

Die moorde het skielik opgehou en die reeksmoordenaar is nooit vasgetrek nie. Nou blyk dit hy slaan weer toe.

De Wet (Eric Bouwer), ’n speurder van Johannesburg, en die TV-joernalis Sonja Landman (Kim Syster) moet die moordenaar opspoor, maar krap in die proses ou wonde oop.

Terselfdertyd probeer drie kinders op die dorp om ook die monster voor te keer.

2. Hoekom Siembamba?

Die reeksmoordenaar het ná elke slagoffer wat hy doodmaak die plaaslike radiostasie en koerant gebel en die deuntjie van die kinderliedjie Siembamba gefluit. Dis hoekom hy Siembamba gedoop is.

3. 'Daddy Long Legs'

Die reeks is gegrond op die boek Daddy Long Legs van die plaaslike skrywer Vernon W. Baumann en die draaiboek is deur Ilse van Hemert geskryf. Dit is op Cradock in die Karoo verfilm en bestaan uit 13 episodes.

Beskikbaar by Amazon.com

4. Wie's wie?

Die Malans staan sentraal in die drama. Deon Coetzee is te sien as Werner Malan, ’n sakeman, politikus en boer wat Digtersdal se Fakkelfees bestuur om besoekers aan te moedig om in ’n nuwe tyddeel-ontwikkeling te belê.

Sy vrou, Angelique (Catriona Andrew), kom uit ’n skatryk Engelse familie.

Catriona Andrew vertolk die rol van Angelique.

Hul seun, Werner jr. (Francois Jacobs van die fliek Vir die Voëls), is getroud met Lara (Amalia Uys), ’n gebroke vrou wat op soek is na redding uit haar versmorende huwelik. Lara het ’n 12-jarige seun, Jan-Gustav (Neil Slabbert).

5. Die slagoffer se familie

Die akteur Ludwig Binge is te sien as Ian Vos, wat by ’n reklame-agentskap in die stad werk. Hy was 17 en in matriek toe sy broer, Benjamin, deur die reeksmoordenaar vermoor is. Hul ma, Frieda (Wilmien Rossouw), woon steeds op Digtersdal.

6. Aartjie na sy vaartjie

Ludwig is die seun van die aktrise Joanie Combrink en die rolprentvervaardiger Herman Binge.

Ludwig was te sien in die bekroonde fliek Johnny Is Nie Dood Nie. Hy het in 2016 die kykNET Silwerskerm-prys vir beste manlike byspeler in ’n speelfilm gewen vir dié rolprent.

Hy sal ook van 19 Oktober af op die silwer-doek in die musiekoorlogsdrama Kanarie te sien wees.

7. Nóg 'n akteursgesin

Wilmien Rossouw is nes Ludwig ’n kind van die televisiebedryf. Sy is die dogter van die veteraanakteurspaar Cobus Rossouw en Sandra Kotzé. Sy het die rol van Denise Palmer,  ’n onderwyseres, in die SAUK2-minireeks Hopeville van Maart tot April 2009 vertolk. 

8. Sepiesterre

Zane Meas, Neville van 7de Laan, is weer op die kassie te sien as Adam Arendse, ’n politieke leier en aktivis wat die burgemeester wil word.

Hy’s die enkelpa van ’n tienerseun, Keagan (Charl Fleurs), ’n slimkop, maar effens van ’n bangbroek.

Zane is nie al sepiester in die reeks nie. Die Villa Rosa-ster Lieb Bester speel die oudpolisieman Gert Neethling, wat hom aan drank vergryp nadat sy seun in Siembamba se kloue beland het. Elsabé Daneel, Linda in 7de Laan, speel sy vrou, Magda.

Elsabé ­Daneel en Lieb Bester speel ’n egpaar.
Zane Meas wys ook gesig in die reeks.

9. Die maplotter

Die akteur André Odendaal, wat al in Getroud met Rugby en Hartland gesig gewys het, is ook in die reeks te sien as Piet "Pille" Taljaart, ’n maplotter en dwelmhandelaar. André sit vir sewe episodes in die regisseurstoel.

André Odendaal hou nie net sy lyf akteur in die reeks nie; hy sit ook in die regisseurstoel.

10. Hallo, Kwêla!

Die Kwêla-aanbieder, Hannes van Wyk, speel die waarnemende skoolhoof, mnr. Immelman, en Lizz Meiring is te sien as Marie Fick, bestuurder van die plaaslike koerant.

Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk ontpop as 'n onderwyser. Foto: Facebook (Hannes van Wyk).
Lizz Meiring bestuur Digtersdal se koerant. Foto: Facebook (Lizz Meiring).
FOTO'S: VERSKAF DEUR KYKNET, INSTAGRAM