Welkom op kampus!

Die 18-jarige Yara is bekend vir haar rol as Zoey, oudste spruit van die Johson- gesin in die trefferreeks Black-ish. Die uitloperreeks, Grown-ish, draai om dié karakter se avonture as eerstejaarstudent.

Familievas

Yara het twee boeties, Sayeed (15) en Ehsan (10), nes Zoey, haar karakter in Black-ish. Hulle is ook akteurs.

"Ek geniet dit om die oudste kind en al dogter te wees. My broers is my gunstelingmense," vertel Yara.

Harvard-meisie

Dié kranige aktivis vir onder meer vroueregte is aanvaar om sosiale studie, met vakke soos filosofie en sosiologie, aan die gesogte Harvard-universiteit te studeer. En raai wie het haar aanbevelingsbrief geskryf? Die gewese Amerikaanse presidentsvrou Michelle Obama. Praat van vriende in hoë plekke!

Modeliefling

Die pragtige Yara haal gereeld die lyste van besgekledes en sit gewoonlik nie ’n modevoet verkeerd nie. Sy is onlangs as die nuwe Amerikaanse handelsmerk-ambassadeur vir die modereus Chanel aangewys.

Talentvolle gesin

Die Shahidi-gesin is almal in die vermaakbedryf. Yara se pa, Afshin, wat oorspronklik van Iran is, is ’n fotograaf wat jare lank saam met die sanger Prince gewerk het. Haar ma, Keri, is nes haar kroos ’n aktrise. Yara is baie geheg aan haar ma en hulle lyk byna soos susters!

BRONNE: NYTIMES.COM, INSTAGRAM, WMAGAZINE.COM