Maande lank is bespiegel of daar ’n tweede seisoen van kykNET & kie se eerste Afrikaanse telenovelle, Arendsvlei, sou wees. 

En onlangs het die goeie nuus soos ’n veldbrand onder aanhangers in die sosiale media versprei: Ja, daar sal! 

Kykers kan soos gewoonlik heelwat drama verwag. Verbode liefde, ’n verlowing, nóg ’n moord, en  natuurlik sal die feeks Wendy Newman (Rehane Abrahams) weer die Cupido-familie se lewe hel maak. 

TERUGBLIK

Die telenovelle, wat op 1 Oktober 2018 vir die eerste keer op ons skerms gewys is, speel op die Kaapse Vlakte af en word by ’n tegniese skool in Eersterivier en Atlantic Film Studios in Kaapstad verfilm. 

Dit wentel rondom die Hoërskool Arendsvlei op die gelyknamige dorpie.

riana alfreds,gerwen simon,arendsvlei
Riana Alfreds en ­Gerwen ­Simon is ook in die tele­novelle te sien. Foto: David Swart

“In die eerste seisoen het ons ’n hoofstuk in elke karakter se lewe besoek en nuwe karakters ontmoet,” sê die kreatiewe vervaardiger, Roberta Durrant. 

“In die tweede seisoen sien ons hoe die eerste groep leerders matrikuleer en universiteit toe gaan. Die matriekklas van 2020 word ook bekendgestel en van ons geliefde karakters sit met meer geraamtes in hul kas as wat ons aanvanklik gedink het.” 

’n Hele klompie nuwe akteurs is in die tweede seisoen te sien.

SHALEEN SURTIE-RICHARDS

Dié aktrise, alombekend vir haar rol as Nenna in die destydse sepie Egoli: Plek van goud, maak ’n Kaapse draai vir haar rol in Arendsvlei

Sy vertolk die rol van Muriel Foster, ’n verpleegster, wat die motorfietsryer Lionel (Jody Abrahams) se ma is. 

Die gesoute aktrise het van Johannesburg gereis om tonele vir die telenovelle te skiet. 

Shaleen Surtie-Richards
Shaleen Surtie-Richards. Foto: Dino Codevilla

QUANITA ADAMS

Sy was vir die eerste seisoen van Arendsvlei deel van die skryfspan, maar nou is dié aktrise, wat ook in Sara se geheim was, self voor die kameras. 

Sy speel Leatitia Meintjies, ’n hawelose vrou. Die aktrise sê sy was gek oor dié rol. 

“Dit het my herinner aan die rol van Lena wat ek in die teaterstuk Boesman en Lena gespeel het.”

quanita adams,aktrise,arendsvlei
Quanita Adams. Foto: David Swart

MAURICE CARPEDE

Die voormalige aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla en Smile 90.4FM-omroeper vertolk die rol van Chantel (Menicia Sass) se pa, Ridwaan “Waanie” Matthews, wat onverwags aan die gesin se deur kom klop. 

“Benewens die feit dat hy ’n vragmotorbestuurder is wat gedurig op die pad is en sy gesin selde sien, is Waanie ook ’n ou wat nie naby enige vrou toegelaat moet word nie,” waarsku Maurice oor sy karakter. 

“Hy is ’n vullis van ’n man en enige vrou se grootste nagmerrie.”

Maurice waarsku dat Waanie groot moles gaan veroorsaak. 

maurice carpede,akteur,arendsvlei
Maurice Carpede. Foto: Verskaf

DANNY ROSS

Die akteur wat voorheen as Jerome October in Suidooster te sien was, maak sy verskyning as die langverlore seun van ’n bekende karakter in die eerste seisoen. 

Danny vertolk die rol van Nathan Abrahams. 

“Nathan gaan as ’n onderwyser aan die Hoërskool Arendsvlei werk en het sy eie agenda. Maar wat presies sy agenda is, gaan eers later aan die lig kom. Hy gaan beslis vir heelwat drama en spanning sorg,” verseker Danny.

danny ross,akteur,arendsvlei
Danny Ross. Foto: David Swart

JARRID GEDULD

Die akteur, wat verlede jaar groot lof ontvang het vir sy vertolking van Abie Pakkies in die rolprent Ellen: Die storie van Ellen Pakkies (2018), vertolk die rol van Bompie. 

“Hy is ’n 24-jarige man wat in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte grootgeword het en in sy pa se skaduwee beweeg. Sy pa wil hê hy moet die familieonderneming oorneem; hy verkoop dwelms en het baie mag in die onderwêreld,” vertel Jarrid. 

Sy karakter raak ook op een van die skoolmeisies verlief.

jarrid geduld,akteur,arendsvlei
Jarrid Geduld. Foto: David Swart

RIANA ALFREDS

Kykers ken reeds die aktrise wat as Bianca Petersen in die eerste seisoen van dié telenovelle te sien was. 

Maar dié keer is sy vir ’n sterker storielyn terug. 

“Ek het altyd in Janice se salon gesit, maar ek vertolk nou die rol van Saartjie se ma en is heelwat meer by die skool betrokke,” sê Riana. 

Sy was voorheen as Yvonne Martins in die SABC1-dramareeks Montana te sien en as Mary Martens in die kykNET-sepie Suidooster.

riana alfreds,aktrise,arendsvlei
Riana Alfreds. Foto: David Swart

GERSHWIN MIAS

Die jong akteur wat in die trefferfliek Noem my Skollie (2016) as Shorty verskyn het, speel Zane Abrahams. 

Hy is ’n opkomende sokkerspeler wat uit sy vorige skool geskors is en nou aan die Hoërskool Arendsvlei ingeskryf is. 

“Al is hy nie akademies sterk nie, blink hy op die sokkerveld uit. Hy sal ander manipuleer om sy sin te kry,” verklap Gershwin. 

gershwin mias,akteur,arendsvlei
Gershwin Mias. Foto: David Swart

ROBYN ROSSOUW

Die boorling van Kimberley speel Monique Ross, ’n leerder aan die Hoërskool Arendsvlei. 

Sy is een van die skool se nuwe studente en ’n uitstekende baldanser. 

Monique is vol selfvertroue, maar terselfdertyd ook iemand wat haarself afsonder.

“Sy presteer in alles wat sy aanpak,” sê Robyn. 

Die jong aktrise wat verlede jaar haar B.A.-dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, is ook volgende jaar in die derde seisoen van die kykNET-dramareeks Sara se geheim te sien. 

“Knip jou oë en jy sal my dalk miskyk,” skerts sy oor haar klein rol in dié gewilde reeks. 

robyn rossouw,aktrise,arendsvlei
Robyn Rossouw. Foto: David Swart

HUNTER PLAATJIES

Arendsvlei is dié jong aktrise se eerste groot TV-reeks.

Hunter, oorspronklik van Kuilsrivier, wou nog altyd ’n aktrise word en het verlede jaar haar honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Sy speel Saartjie Petersen, nog een van die Hoërskool Arendsvlei se leerders.

“Sy is daarop ingestel om Moeder Aarde te help beskerm en doen altyd alles volgens die reëls,” vertel sy oor haar karakter.

hunter plaatjies,aktrise,arendsvlei
Hunter Plaatjies. Foto: David Swart

CANTONA JAMES

Dié akteur, wat in 2016 as die wenner van kykNET se nasionale toneelkompetisie aangewys is, is ’n dramastudent in sy finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch. Cantona speel Daniël Lefras in Arendsvlei

Sy karakter se ouers is oorlede en hy het aanvanklik as broodwinner by sy tannie Emily (Zenobia Kloppers) gebly en met die skool se beursgeld die pot aan die kook gehou.

“Sedert die skool net koopbewyse uitdeel, leef hy op straat, en elke dag is vir hom ’n uitdaging om te eet en ’n dak oor sy kop te kry,” vertel Cantona. 

Hy gaan eindelik vir Leatitia (Quanita Adams) op straat ontmoet en sy gaan haar oor die jong man ontferm.

cantona james,akteur,arendsvlei
Cantona James. Foto: David Swart

ELDON VAN DER MERWE

Eldon is geen vreemdeling op die kassie nie. 

Dié boorling van die plattelandse dorpie Piketberg in die Wes-Kaap het kykers as Elvis in die kykNET-komediereeks Ouboet & Wors leer ken. 

Nou speel hy die leerder Kurtley Neethling in Arendsvlei. 

“My karakter het altyd goeie bedoelings. Toe hy by die Hoërskool Arendsvlei aankom, is Lee-Roy (Roberto Kyle) die eerste mens met wie hy kennismaak. Hy raak eindelik op iemand verlief, maar dit gaan groot moeilikheid vir hom veroorsaak,” verklap Eldon. 

eldon van der merwe,akteur,arendsvlei
Eldon van der Merwe. Foto: David Swart


Kom neem deel aan die gesprek.
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.