MATEO OLIVIER (15) 

mateo olivier,akteur,alles malan
Mateo Olivier. Foto: Verskaf

SY KARAKTER 

Dié boorling van die Paarl, waar die reeks afspeel, vertolk die rol van Freek Malan, aangenome seun van Tessa en Frik Malan (Nadia en Ivan). Freek worstel met sy ras-identiteit. 

Mateo, in gr. 8 aan die Hoërskool Labori, se ma, Carmon Olivier-Constable (34), werk vir die departement van maatskaplike werk, en haar man, Sebastian Constable (32), werk vir homself.

DEURBRAAK

Hy’t nooit gedink hy sou ’n akteur word nie, sê Mateo. Hy het op 14 begin toneelspeel en was uitgeboul toe hy in Junie 2018 teruggeroep is vir ’n tweede oudisie vir ’n rol in die nuwe rolprentweergawe van Dalene Matthee se bekroonde roman Fiela Se Kind, wat op 13 September in filmteaters begin.

“Ek het toe my talent en liefde vir drama ontdek en het eindelik die rol van Tollie Komoetie jr. losgeslaan,” vertel hy.

greteli fincham,aktrise,alles malan
Greteli Fincham en Mateo Olivier geniet ’n ligte oomblik saam op stel van die nuwe dramareeks Alles Malan. Daarin speel hulle ’n broer en suster. Foto: Instagram/@greteli.fincham

LEWE OP STEL 

Dit was vir hom ’n groot voorreg om in Alles Malan te speel teenoor groot name soos die veteraanakteur Albert Maritz, wat sy oupa speel. 

“Ek is ook ’n groot aanhanger van Ivan (wat sy pa speel). Wanneer ek hier en daar gesukkel het, het almal ingespring om te help. Ons was regtig soos een groot familie op die stel,” vertel hy. 

Anders as die ander sterre was hy gewoond aan die Paarl, waar hulle geskiet het, se versengende hitte. 

Hulle het hope pret op die stel gehad, vertel Mateo. Hy sal nooit die dag vergeet toe die assistentregisseur, Ferdi Burger, in die reën gedans het nie, sê hy. 

LEWENSRAAD 

Mateo se raad aan tieners wat nes sy karakter Freek met ras-identiteit sukkel, is eenvoudig: “Moenie net aan die negatiwiteit van anders wees klou nie; fokus ook op die positiewe. My ma herinner my ook om altyd optimisties te wees.”

greteli fincham,mateo olivier,akteurs
Greteli en Mateo het die afgelope tyd baie goeie vriende geword. Foto: Instagram/@greteli.fincham

GRETELI FINCHAM (18) 

greteli fincham,aktrise,alles malan
Greteli Fincham. Foto: Verskaf

DEURBRAAK 

Dié matrikulant van die Hoërskool Stellenbosch is beslis een om dop te hou. 

Sy het vanjaar ’n klein rol in die kykNET-reeks Dwaalster gehad as die tiener Annabel, maar haar rol as die selfstandige tienermeisie Elani Malan in Alles Malan is haar eerste groot TV-rol. 

Een van die dae maak sy ook haar verskyning as Jessica in die nuwe kykNET-sitkom Lui Maar Op, Belinda, met bekende sepie­sterre soos Annelisa Weiland, oftewel Hilda van 7de Laan, en Brümilda van Rensburg.

DIE LEWE OP DIE STEL 

Dit was vir haar ongelooflik om teenoor die groot sterre in Alles Malan te speel. 

“Ons het ’n regte familie geword wat saam lag en huil,” vertel sy. 

“Daar was tye dat ek vir oupa Derik (Albert Maritz) geleer het om Instagram te gebruik terwyl hy my geleer het van Facebook. 

Nico (die Susters-akteur Sean-Marco Vorster) het my maagspiere laat pyn van die lag en Lee-Anne (Nicole Fortuin van Roer Jou Voete-faam) was van dag een af soos ’n regte suster vir my. 

Ek is ook mal oor Brenda (Elsabé Daneel, oftewel Linda Jordaan in 7de Laan), en Freek was die grootste bondel vreugde op die stel. Daai klein lyfie kan vir jou baie eet,” spot sy. 
greteli fincham,aktrise,alles malan,kyknet
Voor staan Brenda en Derik Malan, onderskeidelik gespeel deur Elsabé Daneel en Albert Maritz, by Mateo. Agter van links is Greteli, Lee-Ann (Nicole Fortuin), Nico (Sean-Marco Vorster), Tessa (Nadia Valvekens) en haar man, Frik (Ivan Zimmermann). Foto: Instagram/@greteli.fincham

LEWENSDROME

Greteli, die oudste van twee dogters, het nooit gedink sy sou eendag ’n aktrise word nie. 

“Op laerskool wou ek ’n joernalis word en ek het later aan mariene biologie begin dink,” vertel sy. 

“Ek was eintlik baie skaam as kind en het ’n liefde vir drama ontwikkel toe my ma, Lisl, my as 10-jarige vir dramalesse gestuur het om van my skaamheid ontslae te raak.”

GRETELI TUIS 

Greteli, wat saam met haar jonger suster, Elwené (10), ma, Lisl (43), en argitek-pa, Newton Fincham (48), op Stellenbosch woon, sê haar TV-ouers, Ivan en Nadia, verskil baie van haar regte ouers. 

“Tessa (Nadia Valvekens) is ’n bietjie meer liberaal en baie beroepsgedrewe, terwyl my ma ’n huishen is,” vertel sy van haar ma, wat voltyds ma is.

greteli fincham,marius weyers,akteurs
Saam met Marius Weyers, wat die rol van oupagrootjie Peet vertolk. Foto: Instagram/@greteli,fincham
ivan zimmerman,greteli fincham,akteurs
Ivan en Greteli op die stel. Foto: Instagram/@greteli.fincham

ROLMODEL 

Nes Mateo sien sy op na Albert Maritz, wat saam met haar in Dwaalster was as Frans Loots; sy sê hy is een van die nederigste mense wat sy ken. 

“Hy het my ook altyd bemoedig om die regte keuses in die lewe te maak.”