Hoe het jy die rol van Chanel Samuels in Binnelanders gekry?

Soos enige ander professionele aktrise het ek ’n oudisie afgelê, in my geval vir Stark Films. Ek was bevoorreg genoeg om voorheen saam met Human Stark aan die kykNET-dramareeks Knapsekêrels te werk, maar was glad nie seker of ek die rol in die sepie sou kry nie.

Sy was vanjaar in die dramareeks Knapsekêrels, wat ook op kykNET te sien was en waarin sy haar staal gewys het teenoor gesoute akteurs soos Armand Aucamp en ­Ro­berto Kyle. Foto: Verskaf

Ses maande later het hulle my gebel en moes ek inderhaas my lewe in die Kaap in bokse pak en vir die groot, nuwe avontuur Johannesburg toe verhuis.

Hoe lyk ’n gewone dag vir Lindsey?

’n Weekdag begin vir my met vroeg opstaan. Die hele proses gaan daaroor om vir die dag se tonele in my karakter, Chanel, se lyf te klim en dan my beste te gee tot dit tyd raak om huis toe te gaan.

Lindsey vertolk deesdae die rol van Chanel Samuels in die kykNET-sepie Binnelanders. Foto: Starkfilms/kykNET

Daar berei ek weer voor op die volgende dag se opnames. En so gaan dit aan. Naweke kyk ek graag rugby en kuier gewoonlik saam met my vriende. Sondae gaan ek kerk toe. Ek glo dis hoe ’n mens jou week behoort te begin.

Het jy altyd geweet dat jy ’n aktrise wil wees?

Ek het altyd geweet dis die loopbaan vir my. My ma, Antha, het kerkdramas en -produksies aangepak en ek was altyd deel daarvan.

Haar ma, Samantha, en pa, André, hou Lindsey plat op die aarde en maak haar baie gelukkig. Haar ma het vroeër produksies opgevoer. Foto: Verskaf
Haar ma, Samantha, en pa, André, hou Lindsey plat op die aarde en maak haar baie gelukkig. Haar ma het vroeër produksies opgevoer. Foto: Verskaf

’n Mens kan sê ek is grootgemaak om ’n aktrise te wees. Ek kan aan niks anders dink wat ek met soveel passie en oorgawe sal kan doen nie.

Geniet jy teaterwerk die meeste of om voor die kamera te wees?

Teater sal altyd my eerste liefde bly. Ek geniet dit voor die kamera, maar dit is twee verskillende wêrelde. Met teater speel jy met jou hele lyf, terwyl die boodskap voor die kamera met kleiner bewegings oorgedra moet word.

Ek voel asof ek die geleentheid kry om meer van myself te gee op die verhoog, juis omdat ’n mens nie iets op die verhoog oor kan doen nie. Voor die kamera kry jy altyd meer as een kans om dit te doen wat die regisseur wil hê jy moet doen.

Hoe beskryf jou vriende jou?

Hulle sê ek het ’n baie ou siel en het my die bynaam Ouma gegee. Ek is nogal ’n introvert; daarom beleef baie mense my as stil en teruggetrokke. Ek hou nie van baie mense om my nie.

Ek verkies om tyd deur te bring saam met ’n paar uitgesoekte vriende. Dit maak my rustig. Dit wil nie sê ek is ’n muurblommetjie nie, want ek kan lekker gesels, maar dit gebeur nie sommer net nie.

Na watter Suid-Afrikaanse bekendes sien jy op?

Kim Syster, Ephraim Gordon, Dean-John Smith, Amy Jephta, Nicole Fortuin en Vashti Prins is nie net mense in die bedryf wat ek ken nie; dit is mense wat regtig reik na goud.

Hulle is inspirerend omdat hulle volhard en regtig hul beste gee. Hulle is die nuwe geslag baanbrekers in die bedryf.

Wat het jy al van die bedryf geleer?

Dat ’n mens onverwagte lesse by die mees onverwagte mense kan leer en dit kan toepas in jou daaglikse lewe of roetine.

In dié stadium van my lewe is ek soos ’n spons: Ek drink lesse en lewe en mense in, en probeer soveel moontlik daaruit kry.

Watter raad sou jy aan jou jonger self gegee het?

Ek sou vir myself gesê het: “Chill! Alles gaan uitwerk!”

Pretvrae vir Lindsey

Skoonheidswenk wat jy al jare lank gebruik?

Onderlaag werk net as jy dit spaarsaam gebruik; jy kan dit nie aanplak soos muurpapier nie.

Geliefkoosde spreekwoord?

Jesus is die antwoord.

Wat doen jy heel eerste soggens?

Skakel die wekker af en doen dan ’n dansie.

Kat of hond?

Hond.

Channing Tatum of Zac Efron?

Channing Tatum.

Instagram of Facebook?

Instagram

Grootste kompliment wat jy al gekry het?

Jy gaan eendag die beste ma wees.

Trooskos?

Pizza . . . met geen pynappel nie!

Liedjie wat jou altyd laat dans?

Pharrell Williams se Happy.

Gunstelingfliek?

The Notebook. 

Jou droomrol?

Satine in Moulin Rouge.

Snaaksste ding wat ’n aanhanger gedoen het?

Iemand het my eendag aan my hand deur ’n hospitaal gesleep om die ander mense te wys wie sy raakgeloop het.

Het jy enige slegte gewoontes?

Ek praat ure met myself.