DEURBRAAKROL
Dié boorling van Vereeniging in Gauteng is tans te sien as die hoërskoolleerder Jacques Olivier in die hospitaaldramareeks Binnelanders.
Dihan (20) het die rol van Trudie Ferreira (Daniah de Villiers) se bestie losgeslaan, en dit sommer ná sy heel eerste oudisie vir ’n TV-reeks.
Die jong akteur was voorheen te sien in die plaaslike verhoogproduksies Calling Me Home en Big Bad Musical, waarin hy teenoor die aktrise Simoné Pretorius, oftewel suster René Spies in Binnelanders, gespeel het.
Dihan is mal daaroor om nou in Binnelanders saam met groot name soos Hykie Berg, Hans Strydom en Cindy Swanepoel (onderskeidelik Conrad, At en Annelize) te werk.
“Hulle het my van dag een af gemaklik en deel van die Binnelanders-familie laat voel. Ek kan ook enige tyd by hulle vir raad aanklop,” vertel hy.
BESTIES
Omdat Jacques en Trudie besties in die sepie is, was dit vir Dihan en die 16-jarige Daniah belangrik om van die begin af ’n goeie verhouding te bou.
“Al het ons mekaar glad nie vooraf geken nie, het ons dadelik oor die weg gekom,” vertel hy oor sy band met Daniah, wat in die 2017-fliek Meerkat Maantuig te sien was.
“Ek is net so beskermend oor haar soos Jacques oor Trudie. Ek dink sy is ’n fantastiese aktrise met die mooiste hart. Ek het baie lief geword vir haar en beskou haar as my sussie,” sê die akteur.
Hy is ook dol oor Hannelie Warren, wat Ilse Delport in Binnelanders speel.
“Sy het ook in Vereeniging grootgeword en het my dadelik laat tuis voel en op die eerste dag aan almal voorgestel. Nou skinder ons lekker tussen tonele,” spot hy.
“Ben Kruger, wat die rol van Trudie se oupa Okkie vertolk, is ook verskriklik wys en het ’n aansteeklike glimlag.”
SELFAANVAARDING
Dihan is oop oor sy seksualiteit en het in ’n video sy aanhangers vertel hy is gay.
Vir hom is dit belangrik dat gay akteurs self gay karakters vertolk.
“Ek het juis vir die rol van Jacques (wat ook openlik gay is) ’n oudisie afgelê omdat daar volgens my nie genoeg gay verteenwoordiging in die Afrikaanse media en vermaakbedryf is nie.
Ek het dit as ’n geleentheid gesien om verandering teweeg te bring, en ek is tot vandag toe nie daaroor spyt nie,” sê hy trots.
Vir hom is selfaanvaarding die eerste stap wat tieners moet doen wat sukkel om hulself te wees.
“Homoseksualiteit is nie ’n keuse nie, en jou seksualiteit bepaal nie jou menswaardigheid nie. Jy is genoeg en sal altyd genoeg wees.”
MUSIEKMAKER
Dihan is ’n liedjieskrywer van formaat.
Sy styl word deur plaaslike sangers soos Leah en Elandré en die Amerikaanse sangeres Katy Perry beïnvloed.
Dihan en sy medester Daniah het hul eie weergawe van die popster Miley Cyrus se treffer The Climb opgeneem en aanlyn gedeel, en sy aanhangers was dol daaroor.
“Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster in Binnelanders vertolk, is dikwels besig om klavier te speel in die ateljee, en ek en Daniah is lief daarvoor om saam te sing. Ons het eendag tussen tonele besluit om dié liedjie op te neem. Met my ma se hulp het ons die video in die straat geskiet.”
Hy skryf tans sy eie musiek en beoog om vroeg volgende jaar sy eerste album uit te reik.
ROLMODEL
Katy Perry, wat bekend is vir treffers soos I Kissed a Girl, Roar en Con Calma en ook nou sangtalent as beoordelaar in die sangkompetisiereeks American Idol ontgin, is sy rolmodel.
“Ek is nou 11 jaar lank ’n baie groot aanhanger en het verlede jaar die ongelooflike voorreg gehad om haar vertoning in Johannesburg by te woon. Sy het my verhoog toe geroep en gesê sy glo in my. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir daardie oomblik.”
FAMILIEBANDE
Al het hy geen formele opleiding as akteur nie, het hy in ’n huis grootgeword waar die uitvoerende kunste die norm is.
Hy sing al vandat hy vier jaar oud was en was tot 2015 deel van die Colla Voce-jeugkoor, wat bekende Afrikaanse sangers soos Refentse en Joshua na die Reën opgelewer het.
Sy ma, Heidi (47), ’n onderwyseres en die hoof van uitvoerende kunste aan die Waterstone College in Kiblerpark in die suide van Johannesburg, is een van die stigterslede van dié koor en het ook vanjaar die leisels as dirigent oorgeneem.
Sy broer, Nico (27), ’n rekenmeester wat saam met sy vrou, Lené (27), ’n sielkundige, in Londen, Engeland, woon, was self deel van die koor.
“Ek was stemleier vir die basse in my finale jaar as koorlid. Dit was ook die laaste jaar dat Refentse deel was van die koor. Ons was toe al pelle.”
Al werk sy pa, Johan (55), as ’n fabriekbestuurder, het hy volgens Dihan ongelooflike kennis van die tegniese sy van musiek.
“Wat my drome betref, is albei my ouers ongelooflik ondersteunend,” voeg hy by.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET