Charl Fleurs (14)

Hoe verskil jy van jou karakter, die slimkop Keagan?

Ek is nie so bang om dinge te waag nie.

Wat het jy die meeste op die stel geniet?

Ek het baie van die mense agter die skerms gehou. ­Hulle was baie vriendelik en daar was nooit ’n vervelige oomblik saam met hulle nie.

Wanneer het die toneelspeelgogga gebyt?

Ek het in gr. 8 eers met ?rolspel begin toe my skool ?’n ATKV-tienertoneelstuk opgevoer het. As ’n klein seuntjie het ek in Brood vir die Voëltjies gespeel. My grootste rol tot dusver is die een in Spoorloos.

Is jy deesdae gewilder op skool?

Ja, meer kinders praat nou met my.

Wat hou 2019 vir jou in?

Ek gaan op my skoolwerk fokus en hoop om nog ’n rol te kry.

Eendag as ek groot is . . .

sal ek graag ’n akteur wil word.

Niel Slabbert (14)

Vertel ons meer oor jou karakter, Jan-Gustav.

Hy is avontuurlustig en ’n vindingryke planmaker. Hy is ’n bietjie van ’n introvert en het eintlik net een goeie vriend, Keagan. 

Hoe verskil jy van Jan-Gustav?

Ek is ’n bietjie meer sosiaal as Jan-Gustav, en ek sou nie sommer die moed hê om ’n klas te bunk en ’n hokkie­net te steel nie!

Het jy, Inneke en Charl mekaar voor die ver­filming van Spoorloos geken?

Ja, op so ’n klein dorpie ken almal mos maar mekaar. Ek en Charl is in dieselfde skool (die Hoërskool Cradock), en Ineke is nog in die laer­skool. Ek en Charl speel ook saam krieket.

Wat het jy die meeste op die stel geniet?

Om te sien hoe die lewe van akteurs agter die skerms is. Ek het nie besef dit behels sulke harde werk en lang ure nie. Dit was ook baie cool om die kameraman aan die werk te sien en hoe die beligting en klank werk.

Hoe was dit om die reeks op jou dorp te skiet?

Die hele dorp was opgewonde oor die reeks. Ek kon ?so tussen als deur probeer bybly met skoolwerk. My maats het huiswerk aangedra, wat baie gehelp het, ?en ek het darem nie te veel krieket­wedstryde mis­geloop nie!

Eendag as ek groot is . . . 

wil ek ’n ingenieur word. Ek hou daarvan om goed te ontwerp.

Ineke van der Merwe (11)

Hoe verskil jy van jou karakter, die rabbedoe Esti?

Ek is nogal baie soos Esti, maar my pa is darem nie ’n dwelmhandelaar nie. En ek is nie ’n dief nie.

Wat het jy die meeste op die stel van Spoorloos geniet?

Dat hulle my uit die skool kom haal het en die grappies wat almal op die stel gemaak het. Ek het dit baie geniet om voor die kameras te wees.

Wanneer het jy begin toneelspeel?

Ek het hoofrolle in kleuterskoolkonserte vertolk. Vandat ek drie ?jaar oud was, het ek saam met my ma, Petro (39), wat ’n kleuterskool­onnie, is na haar skool toe gegaan en elke jaar in die konsert gespeel, ?al was ek eintlik nog te klein. 

Toe ek vyf jaar oud was, was ek Gina in ?Pinocchio, en toe ek ses jaar oud was, het ek Rooikappie gespeel.

Hoe was dit om saam met akteurs soos Deon Coetzee, Zane Meas en Amalia Uys te werk?

Dit was ’n ongelooflike ervaring. Zane Meas (Adam Arendse) het my altyd op my regte naam genoem, nie op my stelnaam nie. Dit was vir my lekker dat hy my naam ken. Hy was baie aangenaam. Almal was baie gaaf met my.

Waarin gaan ons jou volgende op die kassie sien?

Enige ander reeks wat ’n klein, stout dogtertjie nodig het, hoop ek!

Wat wil jy graag in 2019 bereik?

Ek wil net elke dag gelukkig wees.

As jy eendag groot is, wil jy ’n voltydse akteur word?

Ek wou nog altyd ’n veearts geword het. Maar vandat ek in Spoorloos was, is dit nou een van my groot drome om ’n aktrise te word.

Spoorloos op kykNET
Spoorloos word Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, KYKNET, INSTAGRAM/@KIMMIKAYKAY