CHAD BAAI (21)

Chad Baai. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei
Chad Baai. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei

Chad woon in Belhar in die suidelike voorstede van Kaapstad. Sy karakter, Kaleb Jacobs, het op Clanwilliam gebly voor hy Arendsvlei toe getrek het.

Vertel ons meer oor Kaleb.

Hy is ’n 16-jarige stil, trotse en hardwerkende seun.

View this post on Instagram

A post shared by chad baai (@chadbaai)

Hoe was jy op skool?

Ek het aan die Hoërskool Belhar gematrikuleer. Drama en dans was altyd my passie, en dit was my hoofvakke op skool. Dit het my skoolloopbaan pret gemaak. Ek is tans ’n derdejaarstudent aan die Waterfrontteaterskool.

Wat geniet jy om te doen in jou vrye tyd?

Vrye tyd is maar skaars omdat ek swot en toneelspeel. Maar as ek die tyd kry, bring ek dit saam met my familie en vriende deur.

Hoe het Arendsvlei jou lewe verander?

Dit maak my trots om te sien hoe my familie en vriende reageer. Ek het nie verwag om ’n TV-rol te kry terwyl ek swot nie, so ek is baie dankbaar.

’Werk altyd aan jou droom. Gryp elke geleentheid aan en gee jou beste’ – Chad Baai

Na watter van jou medesterre kyk jy op?

Cantona James (Daniel) en Dillon Windvogel (Vernon) is van die vele akteurs wat ek bewonder.

Wat is jou raad aan tieners?

Werk altyd aan jou droom. Gryp elke geleentheid aan en gee jou beste. Waardeer wat jy het.


CHELSEA THOMAS (20)

Chelsea Thomas. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei
Chelsea Thomas. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei

Die aktrise van Kraaifontein in Kaapstad speel die moeilikheidmaker Bompie (Jarrid Geduld) se jonger suster, Angelique. Dit is Chelsea se eerste groot TV-rol.

Vertel ons meer oor Angelique.

Sy is ’n baie voorbeeldige jong meisie; niks soos haar familie nie. Sy gee baie om vir ander. Sy is slim, gaaf en sy ken haar plek.

Ek het nog baie om te leer, en elke dag leer ek ’n bietjie meer op die stel.

Hoe was jy op skool?

Ek het aan die Hoërskool Bernadino Heights gematrikuleer. Ek het my bes gedoen om uit die moeilikheid te bly. Ek was in matriek klaskaptein en my Afrikaansonderwyseres, juffrou Mitchell, se regterhand en klein assistent. Ek lag altyd wanneer ek daaraan terugdink.

Wat geniet jy om te doen in jou vrye tyd?

Ek lees en neem foto’s. Ek is ook mal oor die nuwe Netflix-reeks Emily in Paris en het dit sommer in een dag klaar gekyk!

Hoe het Arendsvlei jou lewe verander?

Dit het my baie dinge oor myself laat besef. Ek het nog baie om te leer, en elke dag leer ek ’n bietjie meer op die stel.

Hoe was jou eerste dag op die stel?

Ek was starstruck! Ek was baie op my senuwees, maar ek het sommer gou aangepas.

Wat is jou raad aan tieners?

Moenie haastig wees nie. Moenie druk op jouself plaas om te doen wat almal doen nie. Jy is op jou eie reis.


Jaundré Kim (22)

Juandre Kim. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei
Juandre Kim. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei

Juandré, van Blackheath in die Moederstad, is die leerder Layla. Sy het in die tweede seisoen ’n draai in Arendsvlei kom maak, maar haar storielyn is in dié seisoen groter.

’Ek was ’n skaam, teruggetrokke meisie en het gesukkel om vriende te maak op skool’ – Jaundré Kim

Vertel ons meer oor Layla.

Sy is baie bubbly en sprankelend. Sy gaan deur haar eie battles as ’n tiener en wil eintlik net inpas.

Hoe was jou tienerjare?

Ek het aan die Hoërskool Blackheath gematrikuleer. Ek was ’n skaam, teruggetrokke meisie en het gesukkel om vriende te maak.

Wat geniet jy om te doen in jou vrye tyd?

Ek vang op met my familie en vriende en my sepies! Ek geniet dit ook om stories te skryf.

Hoe het Arendsvlei jou lewe verander?

Dit het my hoop gegee dat ek, ’n meisie van ’n klein area in die Kaap, kán.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Hoe was jou eerste dag op die stel?

Ek was ’n bol senuwees. Jolene Martin (Beatrice Abrahams) het my raad gegee: “Dit is normaal, maar laat jouself toe om elke oomblik te geniet.”

Hoe reageer jou familie en vriende wanneer hulle jou op TV sien?

Hulle is baie trots om die meisie wat voor hulle grootgeword het nou op TV te sien.

Wat is jou raad aan tieners?

As dit voel asof daar nie hoop oor is nie, moenie jou drome aanpas om ander mense tevrede te stel nie. As jy iets wil hê, gaan daarvoor.


NANCIA DORLAND (21)

Nancia Dorland. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei
Nancia Dorland. Foto: kykNET & kie, Arendsvlei

Dié Kapenaar het drama by Maties geswot en is die tiener Candice wat gereeld onder haar stiefma, Natalie, deurloop.

Vertel ons meer oor Candice.

Candice is ’n verlore tiener wat op ’n jong ouderdom al baie pyn ervaar het. Sy weet nie hoe om met haar emosies te deal nie.

It’s cool to be kind, en dis oukei as jy nie inpas nie – Nancia Dorland

Hoe was jy op skool?

Ek het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer. Terwyl al my vriende op die sportveld was, was ek altyd besig in ’n sang-, dans- of dramaklas. Ek het myself geniet.

Wat geniet jy om te doen in jou vrye tyd?

Ek geniet dit om te sing, strand toe te gaan, berg te klim en te skateboard.

Hoe voel dit om jouself op TV te sien?

Dis baie vreemd. Ek lag vir my gesigsuitdrukkings en my stem klink baie anders as wat ek gedink het.

Hoe lyk ’n tipiese dag op die stel?

Ons word soggens vyfuur al opgelaai wanneer ons vroeg begin. Dan is dit hare en grimering; ons werk deur die scenes en gaan stel toe om te skiet. Ons kry etes en het genoeg tyd vir grappies tussenin.

Hoe reageer jou familie en vriende wanneer hulle jou op TV sien?

Hulle lag meestal vir my, want Candice is baie stiller as wat ek is.

Wat is jou raad aan tieners?

Skool is net ’n deeltjie van jou lewe. It’s cool to be kind, en dis oukei as jy nie inpas nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe