'Samantha'

Die 25-jarige Maria Valente, wat in die Strand woon, vertolk die rol van Samantha. Haar karakter is die uitgesproke dogter van die Hoër­skool Arendsvlei se hoof en gee veral haar ma slapelose nagte.

Waar het jy grootgeword en ­studeer? 

Ek het in die Strand en Gordonsbaai grootgeword. Ná skool het ek ’n B.A.-graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en daarna het ek ’n honneursgraad in media en videoproduksie voltooi.

Vertel ons meer oor jou karakter.

Sy is ’n interessante meisie vol ambisie en liefde.

Hoe verskil jy van Samantha?

Ek en Samantha deel heelwat van dieselfde karaktereien­skappe, maar ons verskil ook in baie opsigte. Dit is lekker om ’n karakter te speel by wie ek self aanklank vind.

Maria as jong tiener.

Wat het jy by jou karakter geleer?

Hoe om sterk te wees.

As jy jou karakter enige raad kon gee, wat sou dit wees?

Hou jou oë te alle tye op God.

Wanneer het jy begin toneelspeel?

My liefde vir toneelspel het al kleintyd begin. Ek het daarvan gehou om my tannies te vermaak wanneer hulle kom kuier het. Ek en my boetie, Ricardo, het altyd vir die familie konsert gehou. Samantha is my eerste groot rol.

Jou karakter gee haar ma slapelose nagte. Hoe was jy as tiener?

Ek is baie lief vir my ma, Nasley Hendricks. My ma en my familie is my steunpilare en grootste ondersteuners. In alles wat ek aanpak, doen ek my bes om my ma en familie trots te maak.

Waarvan het jy die meeste gehou tydens die verfilming van Arendsvlei?

Om saam met al die talentvolle akteurs te werk. En ook saam met ons hele span. Ons almal werk baie lekker saam.

Pretvrae
  • Gunstelingliedjie tans? Be Still – Hillsong Worship.
  • Gunstelingakteur? Diaan Lawrenson. Sy is een van die mense wat my geïnspireer het om hierdie loopbaan te volg.
  • Met watter aktrise wil jy graag saamwerk? Kim Engelbrecht.
  • Wat sal jy nooit dra nie? Crocs.
  • Jou rolmodel? My rolmodelle is al die vroue in my familie.
  • Shawn Mendes of Zayn Malik? Zayn Malik.
  • Rihanna of Beyoncé? Beyoncé.


'Wesley'

Die 23-jarige Craig Adriaanse ­vertolk die rol van Wesley, ’n gr. 11-leerder wat deur ’n enkelpa grootgemaak word. Hy het ’n geheim wat hy van sy pa en die mense om hom weerhou.

Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword?

Ek is op Somerset-Wes gebore. Ek het in Macassar grootgeword en dis waar ek steeds woon.

Hoe verskil jy van jou karakter, Wesley?

Ek was baie skraler op hoërskool en het aknee gehad.

Craig destyds as hoërskoolleerder.

As jy jou karakter enige raad kon gee, wat sou dit wees?

Lei jou beste lewe!

Wanneer het jy begin toneel­speel?

Toe ek op laerskool op Somerset-­Wes was. My rol as Wesley in Arendsvlei is my eerste groot rol.

Jou karakter word deur ’n enkel­ouer grootgemaak. Hoe ver­skil dit van jou grootwordjare?

Ek het nog albei my ouers, Yolande en Christie, en ons is ’n baie hegte gesin. Ek is die jongste en het twee ouer susters, Na­tasha en Bronwyn. Familie is vir my baie belangrik en speel tot vandag nog ’n groot rol in my lewe.

Waarvan het jy die meeste gehou tydens die verfilming van Arendsvlei?

Daar is so baie dinge, maar ek het baie daarvan gehou om weer in ’n hoërskoolleerder se skoene te klim.

Enige snaakse dinge wat op die stel gebeur het?

Ons het eendag ’n toneel verfilm en die akteurs het skielik net begin sing. Dit was baie snaaks.

Hoe was dit om saam met akteurs soos Oscar Petersen, Melanie du Bois en Jody Abrahams te werk?

Ek het dié akteurs vir die meeste van my kinderjare op TV gesien en sien op na hulle. Dis ’n groot eer om saam met hulle te werk. Hulle is baie behulp­saam en vriendelik en gee raad wanneer jy hulle vra. Hulle is ook vreeslik snaaks!

Pretvrae
  • Enige stokperdjies? Ek hou daarvan om gimnasium toe te gaan.
  • Jou grootste swakheid? Ek is geneig om dinge te oordink.
  • Wat is tans jou gunsteling­liedjie? Better – Khalid.
  • Gunstelingakteurs? Brendon Daniels en Kim Cloete.
  • Jou rolmodelle? My hardwerkende ouers.
  • Gunstelingkos? Pasta.
  • Rihanna of Beyoncé? Rihanna.
Vyf feite
  • Ek luister graag na Spaanse musiek, hoewel ek nie weet wat hulle sing nie.
  • Ek eet 2-minute noodles, tuna en mayonnaise als in een bakkie gemeng.
  • Ek pak my klerekas se inhoud volgens kleur.
  • Ek geniet tee sonder melk.
  • Ek eet nie enige nagereg met vrugte in nie.

Arendsvlei word vanaf1 Oktober op Maandae tot Woensdae op kykNET (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dié 156-episode-reeks is verfilm in Kaapstad en word vervaardig deur Penguin Films, eksklusief vir kykNET&kie, en kom tot ’n einde in September 2019.

Hier is die volledige rolverdeling
  • Oscar Petersen (Joe Barber) as David
  • Jolene Martin (Getroud met Rugby) as Beatrice
  • Ernest St.Clair as Christopher
  • Maria Valente (De Almeida) as Samantha
  • Jody Abrahams (Fishy Feshuns, Four Corners) as Lionel
  • Melanie Du Bois (7de Laan) as Ronel
  • Crystal-Donna Roberts (Mense Mense, Krotoa) as Janice
  • Sherman Pharo (7de Laan) as Thys
  • Dillon Windvogel (danZ!, Sara se Geheim) as Vernon
  • Gretchen Ramsden as Nicolene
  • Dean Richard Olivier as Anton
  • Ann Juries (Die Byl) as Claudia
  • Rehane Abrahams (Die Allemans) as Wendy
  • Christian Bennet (Noem my Skollie) as Emile
  • Kay Smith (Vlug/Terug na Egipte) as Debra
  • Craig Adriaanse as Wesley
  • Roberto Kyle (Knapsekêrels) as Lee-Roy
  • Celeste Mathews (Vinkel en Koljander) as Aunty Gertie
  • Joseph Mitchell as Uncle Johnny

FOTO'S: SEAN BRAND, KYKNET