Prokkie op die kassie

Dié Kapenaar hou al 36 jaar sy lyf akteur en het al in talle reekse gesig gewys – van Sara Se Geheim tot Waterfront.

“Dolf se skoene is nogal kompleks om in te staan omdat hy as persoon so verwyderd is van my leefstyl en beroep,” vertel hy.

“Hy is totaal obsessief oor die korrekte manier van dinge doen. Obsessief en kompulsief. Vir my was dit belangrik om baie te lees oor die regte, advokate en regters, en selfs op die stel die wetboeke te lees. Ja, daar is regte wetboeke op daai rakke,” verklap hy.

Charlton George vertolk die rol van Dolf Ungerer, die hiper­korrekte prokureur met die onberispelike kuif in die kykNET-­sepie Fynskrif, wat Dinsdagaande om 20:00 uitgesaai word.

Sien hy ’n bietjie van homself in Dolf?

“Ek is beslis nie obsessief oor hoe ver van die tafelrand my bord moet wees nie, hoewel die teater my heel obsessief kan maak. Ek sal ook nie my hare soos Dolf dra nie. Nee wat, daai kuif is net te erg. Maar dis perfek vir Dolf.”

Tinarie van Wyk Loots en Neels speel ‘n tweeling.
Charlton en Neels van Jaarsveld.
Kim Cloete is ook in die reeks te sien.

Rolle wat hom bybly

Charlton het al alles van ’n polisieman tot dwelmhandelaar gespeel.

“Baie van die karakters vervaag mettertyd, maar (die transgender karakter) Ricardo Stuurman in die eenmanvertoning Rokkie en Dolf in Fynskrif bly my by. Albei het my ’n traan laat stort toe ek die teks die eerste keer lees.”

Sy grootwordjare

Hy’t in die township Morningstar in Durbanville, Kaapstad, grootgeword.

“Toe was dit nog Newtown en kon jy daar met oop vensters en deure slaap. En dit was ’n plek met karakters,” onthou hy.

“Ou manne wat kon stories vertel. En sport en kunstalent. Groot manne het mekaar nog uitgedaag tot kaalvuisgevegte. En die nagwa het nog in die aand die toiletbalies kom omruil.

“As kind was ek skaam en selfbewus. Eendag word my grootste vrees toe waar: Ek moes by die Tygerberg-jeugvereniging se eisteddfod ’n gedig voordra. Die rit in die skoolhoof se kar was soos ’n rit na die tandarts.

“Gelukkig gee my skoolmaat Neels Coller toe vir my ’n happie sjokolade en vermaak my met hoe hy goud gaan wen. My vrees het wonderbaarlik verdamp die oomblik toe ek op daardie verhoog uitstap.

“Die toneelgogga het twee jaar later gebyt toe ek in ’n skooloperette gespeel het. Morningstar se gehore was altyd die kritiesste en baie sangers en voordraers het al onder ’n vlaag eiers en tamaties uitgevlug en nooit weer hul voete op ’n verhoog gesit nie.

“Ek het daardie kritiese gehoor laat lag; vir my as kind was dit ’n groot prestasie.”

Gebore vermaakster

“Toneelspel is in my familie se bloed,” vertel Charlton.

“My ouma Evelyn George het in die 1950’s omtrent die gemeenskap vermaak met haar komiese gedigte in die NG kerk se konserte, terwyl my uncle Allan George se skreeusnaakse sketse in die 1960’s nog maande daarna bespreek is.

“Van die jonger suksesvolle garde in ons uitgebreide familie is my niggie Kim Engelbrecht (wat in die Amerikaanse superheldreeks The Flash te sien is), haar suster Jody Butler, ’n platejoggie, en my neef Charles Tertiens.”

Charles is ’n akteur en komediant.

Kaapse wortels

Charlton woon tans in Kuilsrivier.

“My pa, Edgar (83), is laas maand oorlede, en ek bring tans tyd deur saam met my ma, Lorraine (82). Ek woon in ’n woonstel in Maitland saam met my metgesel, Janine (49), en dogter, Ruby (14). So ek is maar tussen die twee plekke.

“Ek het deesdae min vrye tyd; daarom doen ek baie min wanneer ek dit wel het. Agt jaar gelede was daar baie berg- en seebesoeke, en baie reise na die platteland om die hartland te verken.

“Ek hou ontsettend baie van lees, maar vir al dié dinge is daar nie nou tyd nie, veral met ’n besige skedule.”

  • Fynskrif en die dramareekse Waterfront en Sara Se Geheim, waarin Charlton ook te sien is, is op die stroomdiens Showmax beskikbaar.
Nuut op die kassie

Tiaan onthou

Op 1 Oktober begin Tiaan Onthou, waarin die bekende sjef Tiaan Langenegger (foto) die land platreis op soek na oumas se resepte.      

Ivy Johnson en Tiaan.

So werk dit

Tiaan het nou saamgewerk met Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van Kokkedoor.

“In elke program wys ’n ouma hoe sy haar bekende resep maak.” Op die foto is Ivy Johnson.

Bobaassjef

Tiaan ken sy storie in die kombuis. Hy was medewenner van Kokkedoor in 2013 en ook medebeoordelaar in die bak-reeks Koekedoor in 2014 en ’15.

Pasgetroud

Hy het in Julie afgehaak met Nadia Barnard, ’n wynmaker. Die paartjie het op ’n wynlandgoed op Stanford in die Wes-Kaap getrou.

  • Tiaan Onthou begin Maandag, 1 Oktober om 18:00 op kykNET

The Sinner

Nog ’n moord om op te los

In die tweede seisoen van dié sielkundige misdaadreeks keer Bill Pullman terug as die speurder Harry Ambrose.

Ster van die reeks

In die nuwe seisoen ondersoek Harry ’n 11-jarige seun, Julian Walker, wat daarvan beskuldig word dat hy sy ouers vermoor het. Elisha Henig speel Julian.

Agter die skerms

Jessica Biel sal nie in die nuwe seisoen van The Sinner te sien wees nie. Sy het wel agter die skerms gewerk as uitvoerende regisseur.

Hulle wys ook gesig

Natalie Paul is Heather Novak, ’n groentjiespeurder, en Carrie Coon vertolk die rol van die kultusleier Vera Walker.

  • The Sinner begin Donderdag, 27 September om 21:00 op M-Net. 

KUL JOU HIER, KUL JOU DAAR!

’n Bekende kulkuns­tenaar, Cameron Black (Jack Cutmore-Scott), se loopbaan is verby toe ontdek word hy het sy aanhangers verkul. Hy gebruik dan sy truuks om die FBI te help om misdadigers vas te trek.

  • Deception word Maandae om 19:00 op M-Net uitgesaai. 

TV-flieks (van 27 September tot 3 Oktober)

AS I LAY DYING

SABC3
Drama
VRYDAG 28 SEPTEMBER 21:30       
2013. 110 MIN. 16

Gegrond op William Faulkner se roman van 1930. ’n Sterwende ma vra haar kinders om haar op die dorpie Jefferson te begrawe. Hulle moet dan deur Mississippi se platteland reis om haar wens te vervul. Maar hul rit is nie sonder drama nie.

Met James Franco en Tim Blake Nelson.


VIR DIE VOËLS

KYKNET
Romantiese drama.
SATERDAG 29 SEPTEMBER 20:00
2016. 125 MIN. O13

Die Huisgenoot-lesers Irma en Sampie de Klerk se liefdesverhaal was die inspirasie vir dié fliek. ’n Korrelkoprabbedoe beland voor die kansel langs die seun wat haar kleintyd eindeloos geterg het. Sy’t tot onlangs geglo onafhanklikheid is die enigste vorm van vryheid, maar hy laat haar van plan verander.

Met Simoné Nortmann en Francois Jacobs.


THE NEIGHBOR

M-NET
Riller.
SATERDAG 29 SEPTEMBER 21:00
2018. 105 MIN. 16

’n Middeljarige man is ongelukkig met sy bestaan en sy stagnerende huwelik. Sy lewe word onderstebo gekeer toe ’n aantreklike jong vrou en haar man langsaan intrek en hy vermoed sy word deur haar man mishandel.

Met William Fichtner en Jessica McNamee.


SEX TAPE

E.TV
Komedie.
SATERDAG 29 SEPTEMBER 21:40
2014. 94 MIN. 16SNT

Die vonke spat tydens Annie en Jay se eerste ontmoeting. Ná ’n huwelik van 10 jaar en twee kinders wil hulle daardie vonk herleef. Hulle maak ’n video van hul lakeneskapades, maar dit beland per ongeluk in die kuberruim.

Met Cameron Diaz en Jason Segel.


STAR WARS: THE FORCE AWAKENS

E.TV
Fantasie.
SONDAG 30 SEPTEMBER 20:00 & MAANDAG 1 OKTOBER 23:00
2015. 136 MIN. O13

Dertig jaar nadat Darth Vader en die Empire verslaan is, ontdek Rey ’n BB-8-robot wat weet waar die langverlore Jedimeester Luke Skywalker hom bevind. Rey en ’n groep ruimterebelle span dan kragte saam om die gevaarlike First Order en hul bose leier, Kylo Ren, te stuit.

Met Daisy Ridley, John Boyega, Oscar-Isaac en Adam Driver.


JUMANJI: WELCOME TO THE JUNGLE

M-NET
Komedie.
SONDAG 30 SEPTEMBER 20:05
2017. 119 MIN. 13GT

In dié opvolgprent van die 1990’s-kultusfliek ontdek vier tieners ’n ou videospeletjiekonsole en word dan deur ’n speletjie “ingesluk”. Om terug te keer, moet hulle die virtuele wêreld van Jumanji oorleef.

Met Dwayne Johnson, Kevin Hart en Karen Gillan.