TAUNÉ OOR ‘MY MATRIEKAFSKEID’ 

My matriekafskeid is ’n goeie idee vir ’n ma-dogter-afspraak op Donderdagaande. 

“Dis propvol opwinding, uitdagings en pragtige meisies met twee dinge gemeen: hul matriekjaar en die droom van ’n perfekte matriekafskeid.”

tauné block,aanbieder,my matriekafskeid
Saam met van die deelnemers. Van links is Tauné, Deoné Raath, Zané Abbott en Cara Prinsloo. Foto: Verskaf

“Elkeen het hul eie smaak en wonderlike idees, maar ek dink mense kan die meeste uitsien na die storie van elke meisie. Daar was werklike tranetrekker-oomblikke wat bygedra het tot ’n onvergeetlike aand; ’n aand wat elkeen vir die res van hul lewe sal onthou.”

KIMBERLEY SE STRATE

Tauné Sharilynn Block (26) is die enigste vermaakster in haar gesin. 

Haar pa, William (55), is ’n skoolhoof, en haar ma, Sharon (54), ’n onderwyseres. 

Haar jonger broer, Matthew (23), wat ook haar bestie is, studeer tans aanlyn aan die Regent-sakeskool. Hy woon in Johannesburg.

tauné block,aanbieder,aktrise
Tauné en haar gesin. Foto: Verskaf

As kind het sy lekker saam met haar pelle in die strate van Kimberley in die Noord-Kaap kerjakker. 

“Ons het sommer baie straatsokker gespeel, fietsgery en op ’n tyd slim geword toe ons leë plastiek­sapbottels gebruik het om bo-op die agterste wiel te sit om ’n lekker wroem-geluid te maak,” vertel Tauné.

“Dis seker waar my liefde vir karre vandaan kom,” laat sy laggend hoor. 

SPROKIESVERHAAL

Volgens Tauné is ’n matriekafskeid ’n belangrike dag in ’n tienermeisie se hoërskoolloopbaan. 

“Op dié dag groet sy haar tienerjare, terwyl die volgende hoofstuk van volwassenheid haar met ope arms inwag.”

Haar eie matriekafskeid was self propvol spesiale oomblikke. 

tauné block,aanbieder
Tauné destyds by haar eie matriekafskeid. Foto: Verskaf

“Een so ’n oomblik was toe my familie my vir die eerste keer in my rok gesien het voor ek hulle vir die aand gegroet het.

“En nog een was toe ek die dansvloer as hoofmeisie moes open en my metgesel en neef, Corbin Block, te skaam was om te dans. Ek moes toe een van die ander meisies se metgesel ‘hijack’ om saam met my te dans. En tot vandag is ek en hy (Wayde Fredricks) baie goeie vriende.”

VELE TALENTE

Tauné wou nog altyd in die vermaakbedryf wees. As kleuter in Kimberley was sy aanvanklik vasbeslote om ’n sangeres te word. 

“Ek het van gr. 1 tot matriek in die koor gesing en daardeur die wêreld vol gereis.” 

tauné block,aanbieder,my matriekafskeid,via
Tauné Block op die stel van My matriek­afskeid. Foto: Verskaf

Maar toe sy in gr. 8 aan talle produksies begin deelneem, het die teatergogga haar behoorlik gebyt. 

Sy het ná haar matriekjaar in 2011 na die Universiteit Stellenbosch afgesit om haar graad in drama te behaal. 

GEBORE LEIER

Sy was in 2011 hoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Kimberley. Sy meen ’n goeie leier is iemand wat net so goed kan luister as wat hulle opdragte gee. 

“ ’n Leier glo in die identiteit, doelwitte en sukses van die groep mense wat deur hulle gelei word.”

PLATTELANDSE MEISIE

Hoewel Tauné in Mei vanjaar die platteland vir Johannesburg verruil het, is sy steeds geheg aan haar tuisdorp. 

“Party waardes en karaktereienskappe kan jy nie altyd in ’n stad leer nie. Wie ek is, is te danke aan waar ek grootgeword het, en dit sal ek nooit wil verander nie al kry ek die kans.” 

Sy hoop om eendag in Kimberley ’n kunste-instituut vir minderbevoorregte kinders op die been te bring. 

SEPIESTER

Voor Tauné vanjaar die aanbieder van My matriekafskeid geword het, was sy in 2016 te sien in die kykNET-sepie Suidooster, waar sy ’n gasrol vertolk het as Debbie, wat in die Cell C-winkel werk. 

tauné block,aktrise,suidooster
Tauné in die kykNET-sepie Suidooster. Foto: Verskaf

Sy het ook vroeër vanjaar kortliks in die SABC1-sepie Generations verskyn as die vurige Thabisa, ’n kelnerin in ’n luukse restaurant wat nie rassisme duld nie. 

Tauné sê
  • My rolmodelle is my ma en pa, want hulle is werklike helde. Nie net in ons familie nie; hulle is ook helde in ons Kimberley-gemeenskap. Nog ’n rolmodel is die sangeres en sakevrou Rihanna.
  • Dinge wat mense nie van my weet nie, is dat ek allergies is vir eiers. Ek is mal oor Chicken Licken se hotwings met die peri-peri-sous. Ek het ook 12 jaar lank ballet beoefen.
  • My wildste droom is om ’n Lamborghini Aventador, Bugatti Chiron en ’n McLaren 720S Spider te besit. 


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.